KORSIES OP DIE RUGBYVELD (48)
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)
In Danie Craven se onder-16-dae opskool in die Vrystaatse dorpie Lindley was sy rugbyafriger die skool se Engelse onderwyser, ene mnr Coetzer. Op 'n dag moes die spannetjie op Petrus Steyn gaan speel, en Craven het 'n geleentheid gekry om saam met mnr Coetzer agterop sy motorfiets tot daar te ry.
Iewers in Petrus Steyn wou die onderwyser vir die jong Craven tussen die gebrul van die motorfiets deur, iets oor die spel vertel maar toe hy geen reaksie kry nie en oor sy skouer loer, was sy passasier skoonveld!
Craven het later vertel: "Hy wou nog met my praat maar ek het al by die vorige hoek afgeval!"
Ons vermoed mnr Coetzer het omgedraai en Craven weer opgelaai want Lindley het die wedstryd gewen, en volgens ou Dok het mnr Coetzer darem wel die kans gekry om na die wedstryd 'n paar wyse woorde met die jonge Danie te spreek.