WIE S'N ANDERS?

KORSIES OP DIE RUGBYVELD (13)
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

Die oud-Blou Bul vleuel Jock Seeliger vertel toe hy nog in die laerskool in die Kaap skoolgegaan het, sy spannetjie een oggend in Kuilsrivier teen die plaaslike spannetjie moes gaan speel.

Een van die vlagmanne, of lynregters, soos die spoggerige naam deesdae heet, was sommer een van die tuisskool se seuntjies.  Hy hol toe op en af saam met die spel en steek sy vlag hier op en daar op wanneer dit lynstaantyd is.

In een stadium woel die mannetjies naby die kantlyn en die bal spat oor die lyn, maar Jock is nie seker of hy die bal moet ingooi of die ander spannetjie se vleuel nie.

“Wie se bal is dit?” vra Jock toe aan die vlagmannetjie.

“Dis die skool s’n,” antwoord hy ewe onskuldig!