WILDE LOUIS

KORSIES OP DIE RUGBYVELD (12)
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

Klubrugby in Noord –Transvaal was nog maar altyd baie hard en in die dae van Louis Schmidt, “die oorspronklike Blou Bul” is daar geen genade gegee of gevra nie.  Een Saterdag speel hy vir  Oostelikes teen Iskor se brekers, as’t ware manne van staal, en laterig in die tweede helfte skop een van hulle Louis se neus in ‘n skrum af. Die bloed stroom uit Louis se neus en dok Ernst Dinkelman, (die oud-Bokslot en mediese dokter) moes sy neus kom regdruk.   Louis het geweet wie die sondaar was en was vasberade om die man terug te kry.

Hy vra toe die skeidsregter:  “Hoeveel tyd is daar oor,  mister ref?”

“Tien minute, Louis,” antwoord die skeidsregter.

“O. Dis genoeg tyd”,  sê die vurige Louis onheilspellend terwyl hy vasberade wegstap.

Die skeidsregter snap toe hier’s ‘n wilde ding aan die kom en om Louis voor te spring, blaas hy sommer net daar die eindfluitjie!