OUBAAS MARK SE SIELKUNDE

KORSIES OP DIE RUGBYVELD (11)
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

Die voormalige Springbokkaptein PK Albertyn het op Stellenbosch studeer voordat hy vir ‘n ruk aan die bekende Guy’s Hospital in Engeland sy mediese studies gaan voortsit het.  Hier het hy steeds uitstekende rugby gespeel terwyl  oubaas Mark sy loopbaan met groot belangstelling gevolg het.

Oubaas Mark was oortuig dat Albertyn teen die besoekende Britse Leeus van 1924 moes speel, maar PK was maar huiwerig omdat hy geld geleen het by sy oom om by Guy’s te gaan studeer, en hy nie verlof wou neem om in Suid-Afrika te gaan rugby speel nie.

Oubaas Mark was egter vasbeslote om PK in Suid-Afrika te kry. “Moenie jou oor jou oom bekommer nie; los hom vir my.  Maak jy net seker jy kom betyds hier aan.,” het hy vir PK laat weet.

Die oubaas het toe PK se oom, wat baie skepties oor die idee was, gaan opsoek.

Oubaas Mark vra hom toe reguit:  “Wil jy hê die verdomde Engelse moet in die toetse wéér die Boereoorlog wen?”

Dit het PK se oom geskud en hy antwoord:  “Nog nooit!  Laat hy dadelik terugkom!”

PK het nie net in al die toetse gespeel nie, maar was ook kaptein van die bokke.