KORSIES VAN PASTEI
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)
'n Christengelowige het op 'n dag 'n behoefte gehad om die onderskeid en voorkoms van die hemel en die hel beter te verstaan. Tydens sy gesprek met God daaroor is daar aan hom twee deure gewys met die uitnodiging om dit oop te maak en binne elkeen te gaan kyk.
Toe hy die eerste deur oopmaak het hy 'n groot ronde tafel gesien met 'n yslike groot pot heerlike bredie reg in die middel van die tafel. Die bredie het so geurig en lekker geruik dat sy mond gewater het. Die klomp mense wat aan tafel gesit het was egter baie maer en sieklik. Dit kon die man nie verstaan nie want hulle het dan met langsteellepels gesit wat aan hulle arms vasgegespe was waarmee hulle genoeg van die heerlike bredie kon skep.
Maar toe besef die man dat hulle nie die lepels by hulle monde kon kry nie as gevolg van die lang stele, daarom hulle uitgeteerde voorkoms en sieklikheid wat vinnig besig was om na hul dood te lei.
Toe maak die man die tweede deur oop en tref presies dieselfde prentjie daar aan. Al verskil was dat die mense geensins uitgeteer en sieklik was nie, maar vrolik, gesond en besig om die welriekende bredie van harte te geniet.
Die man was verstom en vra toe vir God waarom dan hiérdie teenoorgestelde uiteinde vir mense wat duidelik in presies dieselfde posisie as die ander in die vertrek langsaan was.
Die antwoord van die Here was verstommend logies en duidelik: " My kind, die enigste verskil is dat hierdie mense geleer het om mekaar te voed. Hulle het die selfsug om net aan hulself te dink oorkom en laat mekaar met hulle eie lepels wat heeltemal te lank is om by hulle eie monde by te kom, eet. Daarom is hulle vrolik en gesond. En die rede wat hulle daartoe gebring het: Hulle het geweet dat toe Jesus aan die kruis gesterf het, dit uitsluitlik vir hulle was, nie vir Homself nie – en daardie wete red lewens. Hulle dankbaarheid was so groot dat hulle nie anders kan as om mekaar van die heilsame voedsel te voer nie – en dit is al wat hulle nodig het om te bly leef en gelukkig te wees!"