(Lees die reeks by Afrikaanse Idiome en Gesegdes
- Hy het die klok hoor lui maar weet nie waar die bel hang nie (hy weet min maar praat saam)
- Hy is belas en belade ( hy het baie probleme)
- Hy is erflik belas met sy humeur( hy erf dit van sy ouers)
- By elke stoutigheid is hy die belhamel (hy neem die voortou – die bok wat voor loop het gewoonlik 'n klok om die nek en die ander volg hom dan)
- Tant Bellie staan op die stoep ('n vermaning dat 'n verkoue-lyer sy sakdoek moet gebruik)
- Hy word daagliks beleër deur mense wat wil geld leen (baie mense kom om te leen)
- Hy kon sy taak sonder beletsel afhandel (niemand het hom verhinder om dit te doen nie)
- Hy dien Belial (hy dien die duiwel)
- Hy is 'n Belialskind (hy is 'n niksnut)
- Veel belowe en weinig gewe, laat die sotte in vreugde lewe (deur beloftes word jy soms vir die gek gehou)
- As jy nie het wat jy bemin nie, bemin dan wat jy het (aanvaar en wees tevrede met wat jy het)
- Hulle het haar goeie naam bemodder (hulle het haar naam sleg gemaak)
- Bemoei jou nie met 'n ander se sake nie (moenie jou neus in iemand anders se sake steek nie)
- Hy is hoog beneuk en ver van huis (hy is heeltemal befoeterd)
- Sulke dinge is benede my (ek sal nie so laag daal nie)
- Na die tweede drankie was hy reeds taamlik benewel ( hy was reeds dronk)
- Dit benieu my (dit maak my nuuskierig)
- Hy is sy ouers se Benjamin (hy is die jongste kind)
- Sy het geen benul van die saak nie (sy weet niks daarvan nie)
- Neem dit in beraad (dink ernstig daaroor)
- In die gesprek het hy die voorval te berde gebring (hy het dit in die gesprek genoem)