MY STORIE (FIKSIE)

In my 72e lewensjaar aanvaar ek dat my lyf uiteindelik ’n WhatsApp-groep begin het … en ek is nie meer die admin nie. My ledemate het begin onafhanklik funksioneer. Jy staan nie meer eenvoudig net op nie. Nee. Dis nou ’n volledige bestuursvergadering tussen knieë, rug, heupe, en my een skouer wat sedert 2009 kwaad is oor iets.


My knieë is nou ‘n weervoorspelling-app. Ek stap verby ’n spieël en my knieë sê: “Ons gaan nie draf nie. Moenie eers dink om te kyk na jou tekkies nie anders gaan ons permanent op pensoen.”


Een verkeerde slaap-posisie, en my nek staak pynlik vir drie dae.


My blaas het my reeds gewaarsku: “Ons gaan nou elke 40 minute ’n noodvergadering hou. Dag én nag.”


My oë praat al voor 70 hard met my: ““Ons probeer ons bes. Maar almal het besluit om in die lettergrootte van ‘n mier se eierstok te skryf.”


Slaap ek deesdae effens skeef, gaan een van my arms op mediese verlof.


Intussen probeer my brein nog optree asof alles normaal is. Net gister sê hy vir my: “Kom ons verf die huis!” My lyf se antwoord: “Kom ons sit eerder net stil en kyk hoe ander mense dit op YouTube doen.”


Dis wat ek dan nou deesdae doen – stilsit. Maar as ek wil opstaan, begin die Windows-startup-klanke van voor af: “Ooff”, “Aaah” of “Eish”.


As dit nou so gaan, wat gaan op 80 gebeur – of sal Whattsapp en Windows dan nie meer bestaan nie...