DIE HEMELSE HUIS

J P Botha

Waar Jesus die poort ontsluit

Van die hemelse huis vir sy kroos,

Wink die Heiland vir sondaars, en luid

Klink sy stem vir verdwaaldes tot troos.

Want daar word geen sugte gehoor;

Nimmer pyn daar of smart te verduur!

Soete klanke van engelekoor

Weerklink in die huis elke uur.

Ek smag na die heerlike oord

Waar die blydskap en vreugde sal bly.

Waar, op Jesus se bors ongestoord,

Elk rus en vergif’nis kan kry.

Wees rustig, o sondaar, en wag

Op die uur van verlossing, so skoon:

As die tyd eens sal aanbreek die dag –

Ons met Jesus die huis mag bewoon!