Pieter Botha
‘n Motreën sprinkel oor die dakke heen
en giet die kale eikestamme nat...
Die skeemring sif-sif vinnig oor die stad,
‘n Berg staan roerloos vér in mis versteen.
Aldeur ruis daar belofte uit die reën
van nuwe blydskap, skoner blareskat
vir eike wat die lewe weer hervat.
Die dood sal lewe ryker glans verleen.
My hart het deur ‘n winterramp gegaan,
‘n naakte lyk, ‘n koue sug, ‘n klag...
Soos vir die bome kom ‘n nuwe tyd
vir my, ‘n droom vol ryker lewe aan,
dat ek my teenspoed nou ‘n seën ag,
My hart herleef, oorwinnaar uit die stryd.