W.E.G Louw
Die nag lê wit oor daardie stille tuin en torings van Jerusalem — maar wreder as die maan oor krans en kruin was in die slaap hul oë loom en swaar.
Alleen het Hy gekniel . . . Hy het geweet dat Hy verlate was . . . van hand en voet en aangesig het in die stof sy sweet van Hom geval soos sware druppels bloed.
"Waak een uur met My ..." Hy het verlaas in doodsbenouenis voor daardie lot as mens tot mens geroep — en was verbaas, want onafwendbaar was die wil van God:
swart val reeds oor die vaal van grint en gruis die skaduwee van skandepaal en kruis.