"DINGAANSDAG"

Totius

Dit wik en wankel nou, dis vroeg, voor dag en dou.

Swart banke, ongewis nog vir die oog, omdat dit twyfeldonker is, skuif nader.

Nog skugter, neew'lig-fyn, net effens sigbaar, skyn,

saam tot 'n laer vereen, die waens se kappe deur die môrevroegte heen – stil-wagtend.

Dis 'n geboortenag. En dis 'n wieg wat wag.

'n Uur, 'n tydmaat kort, in weedom-spanning lank: 'n Boerenasie word gebore!

Die kryger buig, om deur die veghek heen te speur.

En waaksaam is die oor wat, buitekant die laer, die fynste skuif'ling hoor van voete.

En bo die onheilsnag, waar sterre, na hul wag, die hoë pos verlaat,

Sit God wat planne bou – Hy in Sy wonderdaad almagtig.

'n Skrikroep! Dan spreek God Sy veggeluid, en elke tromp blaas sy verdelgwoord uit.

Dis tien teen een, en meer. En telkens kom hul weer. Dan wil die kanse keer! …

Gewere blits. Kanonne gee hul vuur, ploeg paaie deur die waggelende muur.

Dan jaag die ruiters op die bloedpad uit... Dan storm die hordes met hul brulgeluid.

Net soos 'n onweer, woedend opgesteek, en deur 'n windstorm in sy krag gebreek, verdwyn – so word die Boerewraak gewreek.

En oor die velde juig 'n blye dag: 'n nasie is gebore in een nag!