DIE BESEMBOS

Totius

Ek is gebore waar sonneglore die lug daarbowe ontgloei;

waar die westewind, my vyandig gesind,

ontwaak om my top te verskroei;

waar die aarde se kors my brandende dors

met weinige druppeltjies les,

en die ryke seën van oorvloedige reën

my selde besproei in my dorre gewés;

waar die land lê en smag in 'n sonnebrand wat

my arme wortels wil knou,

en snags die ryp my blaartjies kom knyp dat ek byna sterwe van kou.

Van my eerste verskyning gedreig met verdwyning

het ek vreeslik gestry om te leef,

want vernielende magte met meerdere kragte

het my in my worsteling omsweef.

By droë jaar is my jeugdige blaar deur die osse se tong my ontruk,

en die menslike hand het my stamme verbrand,

met geweld van my wortels geruk.

En slaan soms die vlamme van die gras in my stamme -

tot bo in die blaartjies fyn -

dan staan ek te bewe tot my jeugdige lewe

in die ashoop geheel verdwyn.

Hoonlaggend trek dan die vlammende span

en my plekkie op aarde staan leeg;

net my assies lê daar, maar die winde vergaar

om ook dié uit die wêreld te vee.

Maar al slaan om my stam die woedende vlam

wat knett'rende vonke saai;

al kom al die winde, die kwalik gesinde,

om my as uit die wêreld te waai;

al kom ook die dier om sy eetlus te vier; al word ek gekap en gekloof;

al word ek gestowe deur die son daarbowe

wat my laaste sappe wil roof;

nogtans sien ek my hoogte in die vreeslikste droogte

met my altyd groenende top;

en my wortels verduur én droogte én vuur,

ja ek staan uit my as weer op.

Laat dan mense en diere, droogte en viere,

met al wat hul kwaad wil versin,

maar kom om te kap, te brand en te trap –

ek leef en sal lewe; my dood kry is min!