LOTOSLAND

 Kom geniet saam hierdie pragtige spotgedig van A G Visser, waar hy sy osse laat aanstap deur die stowwe - nie Jan Celliers se osse of stowwe nie - totdat hulle in Malherbe se graan beland.  

 

(1. Exodus)

Die osse stap aan deur die stowwe:

Nie die osse van Jan F Celliers,

Maar rooi Afrikaners en Mowwe

Van die voorste voortrekker, Naudé.

 

Die waens van Celliers was dit ook nie,

Want oom Neelsie se wa bly weer staan;

Praat nooit van die sukkel en spook nie,

En daar voor kom die swartes al aan.

 

Had Moses dit swaar met Gods ou volk,

O laat staan nie vir Pieter Naudé;

Mismoedige Neelsies en Rouvolk

Het vir hom ook grys hare gegee.

 

Maar wanneer wis Pieter nie raad nie?

En vir watter gevaar sou hy stuit?

Hy word nie vervaard, ook nie kwaad nie!

Maar al bars dit, hy beur tog bo-uit!

 

So trek hul al verder en verder

En gesels as die kampvure brand;

Piet luister en skrik, - want O Herder!

Almal droom van ‘n  Luilekkerland!

   

(2. Kanaän, O Kanaän!)

En werklik na vele gevare

Land hul aan in ‘n skone vallei;

Geen roofdiere daar of barbare:

“Span maar uit, want die trek is verby!”

 

Ja, hier is die Land  der  Belofte,

En die spruitjie is hulle Jordaan;

Elkeen sweer ‘n dure gelofte

Nooit weer t’rug na Egipte te gaan.

 

Die bergstrome glinster en klater

En kom skuimend bergaf na die grond.

Wat vrugte is groei langs die water

Ryp en soet dat dit smelt in die mond.

 

Die koedoes kom skuur teen die waens,

Die swartwitpens drink melk uit ‘n bak.

Die blou-wildebeeste kom saans

Na die laer op hul dooie gemak.

 

Die bruinvolk rook deur ‘n bank dagga

In ‘n salige niksdoen en droom;

Oom Bart en Klein Bart ry ‘n kwagga

Sommer bloots sonder halter of toom.

 

Die rooibokke wei by die tente,

Net so mak soos die bok van ‘n wa:

‘n Landstreek van Leipoldtse lente

Waar geen lewenslas hinder of pla.

 

Die grond hoef hul maar net te kielie

Vir Malherbe se lande vol graan

Of Jona se eersteprys-mielie

Trou bewaak deur ‘n mak bobbejaan.

 

(3.Adipositas Praecox)

Die trekkers word dikker en vetter

In die Luilekkerland in die kloof,

Tot skraal Piet Verster word gesetter, -

‘n Profeet van die lekker geloof!

 

Geen naat wat nog hou aan ‘n baadjie,

Verantwoordelikste knope spring af,

Ou maer Jan de Jaer kry ‘n vaatjie;-

Tot die hond is te lui om te blaf..

 

Die rietskraalste nooi word al plomper,

En die vrouens versit meer geen tree,

Beweging word gaandeweg lomper;

“Wat te erg is, ‘s te erg”sê Naudé.

 

(4. Naudé loquitur)

“‘n Vyand bedreig ons, O Broeders,

“En ‘n vyand op wie ons moet let;

“Te glad sit jul tawwerts, O Moeders,

“Trekkerswee is per slot trekkersvet!

 

“Veel beter om eindloos te swerwe,

“Teen gevare ons man weer te staan,

“As hier in gemak te verderwe

“En in smorende vet te vergaan!

 

“Veel voorspoed word later ‘n ketting,

“En ‘n dwingland die luie gemak;

“Te gronde gaan ons, deur vervetting;

“Môre trek ons van hier sak en pak!”

   

(5. Vox Populi ...)

“Die voorstel,”sê Koos van der Merwe,

“Sal ek graag sekondeer, Kommandant!”-

“As julle twee lus het vir swerwe,

“Goed – maar ons bly in Luilekkerland.”

 

“Hoor! Hoor!” roep nou al die ou rondes,

“Wie ‘t dan sinnigheid nou weer te trek?

“Solank as die vet maar gesond is.”

“En so bly hulle sit op die plek.

 

Die aand nog het Koos van der Merwe

En Naudé die ou vetspan verlaat;

Hul bene na swoege en swerwe

Is al weer van normale formaat.

 

Maar hoe dit met die ander gesteld is,

Dit weet Nugter.  ‘n Rondloper-Ier

Beweer dat hul almal gesmelt  is,

En derhalwe die naam Vet-rivier!

 

 

(6. Haec fabella docet:-)

Kyk, kinders, en nou kom die kwessie,

Wat ‘n mens uit die storie moet leer:

Vergeet, nommer een, nooit die les nie,

Vet of maer om jul ouers te eer!

 

Of mense al gekskeer of hoe maak,

Praat die waarheid rondborstig prontuit;

Onthou dat jul deure moet toemaak

En vergeet nie jul neuse te snuit!