TOE DIE WÊRELD NOG JONK WAS

Terwyl hierdie mooi jaar 2011 nog jonk is,gaan ons saam met AG Visser kyk hoe dit gelyk het:

 

TOE DIE WÊRELD NOG JONK WAS

“In dié dae was die reuse op die aarde ...   Die manne van naam.”   Gen . 6:4.

 

Kort anderkant Jerusalem

Daar het gewoon Metusalem,

Die man wat hul – dit sal jy sien –

Vermenigvuldig het by tien!

Hy was g’n vier jaar in die land

Toe kry hy al sy eerste tand;

By tien jaar kruip hy oral rond,

‘n Flinke knapie en gesond:

Toe rol hy al, en val en woel

En staan hy op teen elke stoel.

Nog skaars was hy ‘n jaar of elf

Toe stap klein Lemmie al vanself.

So groei hy op tot sestig jaar;

Die eerste wisseltand was daar;

En volgens landswet ry “oom Kool”

Op ou Behémot na die skool,

Sy vaders trots, sy moeders vreugd’,

Met Step by Step en  Trap der Jeugd

In  Hoog-Galdeeus en Aramees,

Want almal moes tweetalig wees.

‘t Was goed en wel, maar alte vaak

Het dié twee “opgemix” geraak.

 

Hy leer; en voor hy honderd was,

Staan hy al eerste in sy klas!

Op honderd-sestig moes meneer

Sy melkbaard al begin te skeer;

Tien jaar daarna al katkiseer

En Hellembroek – die dubb’le – leer;

Nog tien jaar toe begin hy al

‘n Mooi klein nooientje lastig val.

Verniet dat Vader loop en brom:

“Kniehalter-span sal ek vir hom!

“’n Bog van honderd-tagtig jaar

“Praat al van trou – so wrintie waar.

“Maar styf sal hy sy rieme loop –

“Hy dink glo trou is kémel koop!”

“Kind,”sê sy ma, “daar’s baie tyd –

“Waarvoor die grote haastigheid?”

Maar wat, die snuiter was getroud

Skaars honderd-ses-en-tagtig oud.

En soos dit in die huwelik gaan,

Sy huisgesin groei stadigaan::

So elke dertig, veertig jaar

Is weer ‘n nuwe outjie daar.

So word met dat die eeue rol,

Ook mettertyd sy koker vol –

‘n Pure man Metusalem,

Die Raadslid vir Jerusalem!

Hy tem die woeste Dinosour

En skiet die wolhaar –Brontosour;

En van sy vel maak hy ‘n jassie

Vir klein Mahérskalálgasbassie.

 

Maar klein Kedorlaomertjie

En lief Kirjatjaromertjie,,

Die tweelingboetie en sy sussie,

Kry elk ‘n hippopotamussie.

Tiglatpileser, die parmant,

Wil niks hê as ‘n olifant;

Maar Hammoerabie huil en sê

Hy wil ‘n wit harnoster hê.

En klein Metusalem verlang

Pa moet vir hom ‘n walvis vang.

“Habbakukkiena, bly tog stil!”

“Ag, Ma, hul vat my krokodil!”

 

Maar Gog-Magog met breë bors

Eet soet sy leviatanwors.

Ja, glimlag moes die moeder wel

By dié verteed’rend kinderspel:

Hoedat – dis om jou hart te steel –

Die kleinspan met hul diertjies speel!

So leef hy voort en doen sy plig

Tot sewehonderd-sewentig,

Toe sê hy: “Kinders, nou gaan ek

“My aan die boerdery onttrek.

“Nog voor ‘n honderd jaar verloop,

“Sal ek vir my ‘n bril moet koop.

“Die paar ou eeutjes wat ek nog

“Hier op die aarde lewe mog,

“Wil ek gaan rus van al my werk.

“My dorpshuis staan vlak by die kerk;

“Die dokter en die predikant

“Is albei sommer byderhand.

 

“Hou as ek weg van julle woon,

“My kinders, julle paadjies skoon:

“Pas op vir borgstaan en krediet,

“Vir Israel- en Ismaeliet.

“Behou die grond, kaart en transport;

“Betaal kontant: die lewe is kort,

“’n Droom – en voor ‘n mens gewaar,

“Dan is die ouderdom reeds daar.

“My  lewe is – so skyn dit my –

“Soos ‘n gedagte snel verby!

“My dogters, luister tog vir Pa:

“Volg nie die nuwe modes na;

“’t Word alles korter – liewe land! –

“Die rok, die hare en verstand.

“Dit dans, dit rook – dis om te ween.

“In hemelsnaam! Waar moet dit heen!

“Ligsinnigheid wat my verstom –

“Vanslewe was dit andersom.”

 

En so verslyt Metusalem,

Sy ou-dag op Jerusalem,

En drink en rook op sy gemak

Sy koffie en sy pyp tabak.

So sit en peins hy menigmaal:

“Die duisendtal sal ek nooit haal.

“Ek het ook soveel knoue weg

“In wilde-mens- en diergeveg,

“Die sware koue in die nat

“Vierhonderd jaar gelee gevat.

“’k Onthou nog goed die groot kapok –

“Die sneeu tot aan die huis se nok.”

 

Op nege-sewentig min een,

Sy tydjie om, was hy daarheen;

En niemand wis of dag daaraan

‘n Wêreldrekord was geslaan.

Die feit is daar: Van toe tot nou

Hy het die langste aangehou!

 

Ja-nee! Op 31 jaar na, was dit ‘n volle  duisend jaar!