JRL van Bruggen
My siel is siek van heimwee,
van heimwee na die see -
die blou lug op die branders
wat jou weer lewe gee -
die horison van water,
van water, lig en lug -
die sout bries in jou longe,
die seevoƫls in hul vlug.
'k Is moeg van stadgewemel,
rumoer en stof en skyn,
van mense sonder siele
en geeste voos verfyn.
Dreun deur my hart, o branders!
Beuk in my bors jul lied!
Lag horison van water,
verdryf my fel verdriet!
Want o, die sout bries roep weer!
Die stem wat lewe gee
klim uit my siek verlange
en heimwee na die see.