DIE PADMAKER

deur Petrus Wilhelmus Botha

Verwese nasaat van ons helde,

veragte Boereseun,

wat buigend op die wapad slawe,

jou nasie hoor jou kreun,

Jou nasie hoor, maar stop sy ore!

Is hy dan selwers kneg gebore?

 

Begraaf die Trekkerideale;

vul hoog die kruiwavrag;

Delf toe ons volksiel in ons aarde..!

Jou nasie hoor jou klag.

Jou nasie hoor, maar vou sy hande,

verfoei jou smeke as ‘n skande!

 

Slaan diep die pik, verguisde werker,

en dien die Empaaiergod.

Die geldmag is oor jou genadig,

jou eie volk te bot!

Jou nasie hoor, hy hoor jou bede,

maar kies tog liefs “die liewe vrede!”

 

Maak breed die grootpad, Afrikaner,

wat na jou graf toe lei!

Ek sien ‘n NASIE  smart-geboë,

om redding smeek soos jy.

Jou nasie hoor, maar stop sy ore!

Is hy dan vir die pad gebore?