Nog gedigte by Gedigte
JRL van Bruggen
Êrens in Vlaanderland het jy die stof
van ou Europa met jou bloed verjong;
maar by jou wrede heengaan kon g'n tong
jou vroom toeprewel: "Stof is jy, tot stof..."
Met ragtime-deuntjies in jou kop het jy
uiteindelik jou Golgota gevind -
O, opdraand was jou skofte, trekkerskind –
jy kón nie in jou tuiste vatplek kry!
en êrens in ou Vlaanderland staan daar
'n eensame klein kruisie – Seun van God!
Moet ons ou volk aanhou offer tot
ons, soos u Kruis, oor heel die wêreld staar?
Stil, stil my hart, al kan jy niks meer dra -
in Vlaand're rus 'n seun van Afrika!