GEBEDE VAN 'N STERWENDE SOLDAAT

    Nog gedigte by Gedigte

                S.Ign.Mocke

Die Skuldiges?
Of sal ek in my toorn skreeu
dat God sy oordeel nou moet vel
oor hulle, wie se haat en nyd
my ingelok het in dié hel?
waar al hul skoon beloftes nou
onthul staan as bedrog en lis,
en selfs die woorde wat hul bid
brak-bitter op my lippe is?

Vergiffenis?
Gee aan hulle helderheid, Heer,
want ek, wat moet sterwe, alleen,
ek is al, ek is al wat nog ween.
Want hul oë is droog van haat
en hul harte hard soos steen,
ek wat moet sterwe alleen,
ek is al, ek is al wat nog ween.

Niemand van hulle weet
wat ek, in my uur van nood
hier, aan die poort van die dood,
met die laaste, bitter sweet
op my voorhoof, eindelik weet:
dat liefde beter as haat is
en vergifnis beter as wraak,
dat berou en hoop te laat is
wat in die laaste oomblik ontwaak.

Gee aan hulle helderheid, Heer,
dat ek, wat moet sterwe alleen
kan weet: Ook hulle ween.