Nog 'n pragtige gedigte by Gedigte
deur C Louis Leipoldt
Bedaar, O Heer, die hartstog wat tot haat
Teen broer en buur wil opbruis as ek vind
'n Vriend nie meer tot vriendewerk gesind,
'n Maat van ouds nie meer my troue maat;
Skenk my die krag om, wat ook wissel en kwyn,
Die jare deur as mens getrou te bly,
En sonder trots en sonder huigelary
My plig te doen voordat my dag verdwyn;
Leen my die kennis wat my spoor tot klim
Uit bo die kranse van onwetendheid;
Sodat u skepsel, tot u diens gewyd,
Die Lig kan raaksien waar die Waarheid glim;
Nie om verwaand te spog met wat ek win,
Nog om verwend my kennis voor te stel
As iets alwetend, maar op u Bevel
En om wat U gegee het te ontgin;
Die las van jare, ouderdomsverdriet
-Die kers wat uitbrand tot die blakerblik-
Skenk my geduld om dit te dra, verkwik
Deur wat die tyd wat voorlê nog kan bied.
Vir daelikse arbeid gun my hoop en lus
-Die oes is geil en al te kort die tyd -
Besiel my in u Goedertierenheid
Om voort te werk totdat u Dood my sus.
Ek smeek U, Heer, om hulp dat ek behou
Die wonderskat my toebedeel as kind:
Dat ek, in wat ek op u wêreld vind,
Weerkaatsing van u Godlik skoon aanskou.