Lees reeks by Die Wonder van Afrikaans
PROF. S. P. E. BOSHOFF
(Voormalige Direkteur van die Vaktaalburo van die S.A. Akademie)
Sonder kennis van die ontstaan van Afrikaans sal sy gebruik as vaktaal vir ons net 'n wonder bly, en met sodanige kennis sal ons vaktaal vir ons moontlik nog as 'n groter wonder voorkom. Maar die wonder van die oorsprong van ons taal is elders behandel en kan hier alleen ter sprake kom vir sover dit verband hou met die gesigspunt wat hier aan die orde gestel is.
Dat Afrikaans uit Nederlands voortgekom en tot vandag toe die wesenstrekke daarvan behou het, word op die oomblik deur geen ernstige taalkundige meer betwyfel nie, hoewel niemand tot nog toe oortuigend bewys het hoe dit presies gebeur het nie. Maar weet ons dan miskien in die fynste besonderhede hoe tale soos Nederlands, Duits en Engels ontstaan het ? Van die sg. Romaanse tale het ons skriftelike dokumenterings wat min of meer onafgebroke deurloop tot op hulle gemeenskaplike voorganger in die klassieke oudheid, en tog weet ons selfs in hierdie gevalle nog lank nie in alle opsigte hoe Italiaans, Frans, Spaans en Portugees hulle met verloop van tyd teenoor Latyn en ook teenoor mekaar gaan onderskei het nie. Die oorsprong en geboorte van tale is, soos dié van baie ander verskynsels, moeilik stap vir stap en in alle besonderhede na te speur. So weet ons bv. omtrent ons eie taal dat dit 'n vorm of vorme van Nederlands was wat hierheen oorgeplant is en hier mettertyd tot Afrikaans ontwikkel het. Maar watter vorm(e) van Nederlands was dit presies ? Hoe, waar en wanneer het dit Afrikaans geword ? By die bespreking van die gesigspunte hieronder moet ons hierdie vrae in die oog hou en ook rekening hou met wat ons daaromtrent weet en nie weet nie.
By wyse van uitgangspunt kan ons die feit aanvaar dat ons taal van die begin af in 'n veelrassige nuwe land wortel moes skiet en opgroei en dat sy suiwer voortplanting uit die staanspoor deur dorings en distels bedreig is, al was die onkruid waarskynlik nie so erg as wat Kolbe ons 'n halwe eeu later wou laat glo nie. Ryklof van Goens het al in 'n dekreet van 1657 gewaarskn teen gevaar van die kant van Portugees en ook gesinspeel op die tale van slawe uit Afrika en die eilande om hom heen en uit die Ooste, terwyl kommissaris-generaal Van Rheede weer in 1685 die aandag op die onsuiwer Nederlands van die Hottentotte gevestig het. Ná 1688 was daar by die bewindhebbers blyke van vrees, eerder van 'n politieke as van 'n suiwer taalkundige aard, vir die invloed van Frans. Van die betekenis van Duits word in daardie dae amptelik nouliks gerep. Maar die veelrassige vroeë Kaapse bevolking se tale wat nie 'n vorm van Nederlands was nie, met name Frans, Duits, Hottentots, Maleis en Portugees, asook die mengproduk van laasgenoemde twee, te wete Maleis-Portugees, het almal gekwyn en mettertyd op enkeles na verdwyn.
Nadat 'n vorm (of vorme) van Nederlands die stryd teen die voorgenoemde tale seëvierend oorleef het, het dit met 'n ander taal in botsing gekom wat sy voortbestaan ernstiger as een van daardie tale bedreig het. Daardie taal was Engels en dit het al gou van staatsweë, by die onderwys en die regspleging, gedeeltelik selfs in die kerk, die bevoorregte posisie beklee wat Nederlands voorheen in die openbare lewe geniet het. Binne twee eeue na die aankoms van Van Riebeeck en binne 'n halwe eeu na die Britse besetting van die Kaap het Changnion al 'n boek die lig laat sien onder die betekenisvolle titel : De Neder-duitsche Taal in Zuid-Afrika hersteld (1844) in die ondertitel waarvan hy verduidelik het dat dit bedoel was as 'n Handleiding tot de kennis dier taal, naar de plaatselijke behoefte van het land gewijzigd.
'n Ernstige poging moes aangewend word om Nederlands in die openbare lewe van die Kaap te herstel - en dit veronderstel dat dit op sterwe na dood was — maar dit kon blykbaar alleen geskied deur Nederlands " naar de plaatselijke behoefte van het land" te wysig m.a.w. deur bloedoortapping uit 'n vorm (of vorme) van Hottentotte gevestig het. Na 1688 was daar by die bewindhebbers blyke van vrees, eerder van 'n politieke as van 'n suiwer taalkundige aard, vir die invloed van Frans. Van die betekenis van Duits word in daardie dae amptelik nouliks gerep. Maar die veelrassige vroeë Kaapse bevolking se tale wat nie 'n vorm van Nederlands was nie, met name Frans, Duits, Hottentots, Maleis en Portugees, asook die mengproduk van laasgenoemde twee, te wete Maleis-Portugees, het almal gekwyn en mettertyd op enkeles na verdwyn.
Dit was die betreklik ongeletterde boerebevolking wat dit deur dergelike ontleninge vir Afrikaans moontlik gemaak het om "te spesialiseer in betekenis"; en dit is presies die eis wat die vaktaal aan die algemene taal stel. Let gerus maar op hoe uitmuntend ons boerebevolking van die 17e eeu af tot vandag toe daarin geslaag het om gepaste "gespesialiseerde" woorde te vind in verband met die bodemsgesteldheid van ons land, klimaat en reënval, die diere- en plantewêreld, die jag en kommandodiens, vervoer- en geneesmiddels, plaasgereedskap en huishoudelike artikels, kleredrag en geregte, kortweg, op elke gebied van boerdery wat die boer gereeld as sy beroep beoefen het en selfs op terreine van bedrywigheid soos delwery wat boere in groot getalle tydelik betree het.
Maar toe sak die masjien-eeu plotseling op die boer toe met sy industrie en tegniek en al die moeilike terminologiese eise wat dit aan sy taal gestel het ten opsigte van vervaardigingsprosesse, onderdele en werksaamhede waarmee hy nie regstreeks te doen gekry het nie. By sy naamgewing moes hy horn in hierdie skielike taalkrisis dikwels noodgedwonge van die bestaande Engelse terminologie bedien. Maar toe tree die terminoloë op die toneel : hulle moes vir die boer en vir die Afrikaner in die algemeen die nodige vaktaal skep. Hulle het voor 'n uiters moeilike taak te staan gekom : aan die een kant het dit hulle meestal aan die nodige kennis van die betrokke dinge en prosesse ontbreek en aan die ander kant was hulle taalkundige kennis, van Engels sowel as van Afrikaans, dikwels ontoereikend. Daarby is van hulle verwag om sommer gou-gou vaktale vir die verskillende vakgebiede gereed te hê. In die haas het hulle na tweetalige en vakwoordeboeke gegryp en dikwels vergeet om te let op die gepaste benamings wat die boerebevolking reeds aan baie van die nuwe dinge gegee het. Dit lyk my bv. dat 'n vertaler-terminoloog verantwoordelik was vir die benaming 'verloregoederekantoor' wat maar net 'n letterlike vertaling van die Engelse 'lost goods office' is, maar dat die persoon wat daaraan gedink het om die betrokke kantoor 'n skutloods te noem, 'n boeretaalagtergrond gehad het of daaruit geput het.
Ons terminoloë, in baie gevalle self boereseuns, het heelwat geleer en veel verrig wat as 'n wonder van skerpsinnigheid en verbeelding beskou kan word en al meermale die bewondering van ons Nederlandse stam- en vakgenote afgedwing het.
Die krisistyd in ons taalstryd is verby . Met diegene wat Nederlands in Suid-Afrika wou herstel, het ons met die stigting van die Suid-Afrikaanse Akademie in 1909 'n wapenstilstand gesluit en met die amptelike erkenning van Afrikaans in 1925 tot 'n blywende vrede geraak — byna presies 300 jaar na Nederland se Twaalf-jarige Bestand (1609-1621) gedurende die Tagtig-jarige Oorlog waarvan die ontstaan van ons volk en ons taal 'n uitkoms was.
Elkeen van die volgende feite is 'n wonder van ons taalgeskiedenis :
- Dat Afrikaans uit 'n verskeidenheid 17e-eeuse Nederlandse taalvorme as 'n betreklik eenvormige taal tevoorskyn gekom het;
- Dat dit in weerwil van die inwerking daarop van allerlei tale en taalvorme sy Nederlandse karakter en patroon nie verloën het nie;
- Dat dit na 'n dubbele tagtigjarige oorlog (1800-1960) teen 'n taal van wêreldformaat soos Engels met die littekens van 'n krygsveteraan uit die stryd gekom het sonder om sy vlag te stryk;
- Dat dit ondanks Nederlandse kwaksalwer-middels en Engelse siekte en Anglofobie toe betreklik gesond gebly het, en
- Dat ons dit alles te danke het aan Afrikaans se gesonde boeregeboorte en -opvoeding sonder 'n oormaat van teoretiese geleerdheid.
Wat die wonder van Afrikaans as vaktaal betref, kan ons volstaan met daarop te wys :
- Dat ons vaktaal stap vir stap met ons vak-kennis en -ontwikkeling tred gehou het totdat dit plotseling voor 'n vaktaalkrisis te staan gekom het;
- Dat dit die vraagstukke wat uit hierdie taalkrisis tevoorskyn gekom het, met mening aangepak het en besig was om die vroeër agterstand in te haal; en
- Dat ons taalbeoefenaars, terminoloë en vertalers, ondanks die steurende vitterigheid van beoordelaars en raadgewers wat self gewoonlik weinig tot die prestige van Afrikaans bygedra het, rustig en met vertroue hulle taak uitgevoer het..
As kwaadwillige bestryding en welmenende bemoeisug ons taal tot nog toe nie doodgekry het nie, dan het ons genoeg rede om optimisties te wees; en dit sal 'n wonder wees as ons dit wil aanvaar "soos ons vadere vertrou het".