TRIOMF VAN AFRIKAANS AS RADIOTAAL

DIE WONDER VAN AFRIKAANS (4)

Gideon Roos

(Voormalige Direkteur-generaal S.A.U.K.)

Lees reeks by Die Wonder van Afrikaans

In geen ander sfeer was die lewenskragtige groei en ontwikkeling van Afrikaans so merkwaardig as in ons uitsaaiwese nie. Maar ook sy algemene voortuitgang daar buite was in groot mate toe te skrywe aan die stukrag wat Afrikaans daagliks kry van die uitsaaiwese, die magtigste kommunikasiemiddel in ons land.

Dit was egter nie altyd die geval nie, want voor die koms van die S.A.U.K. in 1936 is daar heel weinig Afrikaans deur ons etergolwe gedra. In daardie dae was ons uitsaaiwese in die hande van 'n private maatskappy, die African Broadcasting Company, wat uit die aard van die saak sy taak volgens die beginsels van die sakewêreld uitgevoer het, steeds met die oog op die grootste mark en die beste profyte. Die Afrikaners was nog nie radiobewus nie, en die hele diens is dus in Engels gevoer, aanvanklik sonder 'n woord Afrikaans van Januarie tot Desember. In 1938 het die maatskappy besluit om aan Afrikaans ook 'n beskeie plekkie in ons eter te gee.

Beskeie was dit inderdaad — slegs een uur per week by twee van die drie hoofstasies, Johannesburg en Kaapstad — maar dit was darem die "voet in die deur''. Ongelukkig het daar in die era van die African Broadcasting Company weinig verdere ontwikke­ling gekom. Vanaf Junie 1938 is die nuusbulletin om 9-uur in die aand in Afrikaans sowel as Engels gelees, en daarmee het ons nog 11 uur se Afrikaans per week bygekry; maar, afgesien van 'n bykomstige praatjie of kinderprogrammetjie hier en daar, was dit ook die einde van die ontwikkeling solank die maatskappy aan die roer van sake was. Vir ons, die Afrikaanse omroepers van daardie dae, was die radio enersyds baie stimulerend, maar andersyds ook frustrerend. Ons was vol idees, maar in een uur per week kon jy van daardie idees nie veel toepas nie. Buitendien was die programme in daardie dae maar baie eenvoudig en stereotiep — eerstens omdat die medium nog baie nuut was, en tweedens omdat ons met bedroef min geld die mas moes ophaal. Alte dikwels moes ons ons weeklikse uurtjie vul met 'n paar sangstukke —- meestal in Engels, Duits of Italiaans ! — een of twee klavier-solo's, 'n paar voordragte in Afrikaans en miskien 'n bespreking van 'n paar nuwe Afrikaanse boeke. In daardie dae was daar nie eens so iets soos 'n Boereorkes om op terug te val nie, en selfs Afrikaanse grammofoonplate was so skaars soos water in die Kalahari!

Toe die S.A.U.K. deur die Uitsaaiwet van 1936 in die lewe geroep is, het Art. 14 van daardie Wet 'n belangrike bepaling bevat, ten effekte dat die Korporasie sy programme moes opstel en uitvoer met behoorlike inagneming van die belange van beide Engelse en Afrikaanse kultuur". Om daardie verpligting na te kom, het die Korporasie 'n beleid van tweetaligheid ingevoer, en die omroepers moes, in al hul aankondigings, die twee landstale om die beurt gebruik. Maar in plaas van dankbaarheid, het hierdie prosedure heftige protes van luisteraars uitgelok, en spoedig was dit duidelik dat hierdie vermenging van die tale niemand tevrede stel nie, maar iedereen irriteer. Die verpligting van Art. 14 moes langs 'n ander weg nagekom word, en toe het die S.A.U.K. besluit op 'n moedige stap — die skepping van 'n tweede programdiens, die sogenaamde "B-program", met Afrikaans as voertaal. Dit was 'n reusetaak vir die jong Korporasie, skaars 'n paar maande oud, met slegs 'n paar senders, gehuurde ateljees, en skuld in plaas van geld. Maar die probleme is met vasberadenheid aangedurf. 'n Landswye soektog na omroepers is op tou gesit, en tegelykertyd is twee kortgolfsenders — een op Klipheuwel (naby Malmesbury) en die ander op Robertshoogte (tans Voortrekkerhoogte) van die Poskantoor gehuur. Intussen het ons tegniese personeel geswoeg om ekstra kamers as ateljees toe te rus. Die groot eer het die Moederstad te benrt geval, en om half-elf die oggend van 25 Oktober 1937 het Kaapstad 'n nuwe era ingelui deur die eerste voltydse Afrikaanse Diens te loods. Daar teen die einde het dit so druk en halsoorkop gegaan met

die voorbereidings, dat 'n paar aanvangsfoute onvermydelik was. In die eerste plek het niemand daaraan gedink om 'n openingsfunksie te reël nie, en hierdie allerbelangrikste datum in die geskiedenis van Afrikaans het sonder basuingeskal verbygeglip, maar met baie vreugde in die harte van luisteraars en baie sweet op die aanskyn van die uitsaaiers. Sommige van die elektriese drade in die nuwe ateljees was nog nie behoorlik geïsoleer nie, met die gevolg dat ons daardie aand baie moeilikheid met induksiestrome gehad het. Die volgende dag het een van die koerante gekla dat die nuwe diens erger was as die ou tweetalige uitsendings, want nou het 'n mens die Afrikaanse en Engelse programme gelyktydig deur jou luidspreker gehoor -— en ewe sterk ook! Dit was egter maar groeipyne, en die volgende aand het die B-program onvermengde Afrikaans gepraat, trots en duidelik ! Op 1 Desember van dieselfde jaar het Johannesburg ook met 'n alternatiewe B-program begin, en toe kon Afrikaans daagliks dwarsdeur die land ontvang word - 'n nuwe kultuurfaktor, lewendiger en magtiger as al sy voorgangers! Maar met slegs twee kortgolfsenders tot sy beskikking, kon die Afrikaanse Diens op verre na nie almal in ons land bereik nie — en dit moes ons ideaal wees. Om die waarheid te sê, sy dekkuip; was aanvanklik maar droewig swak, want die Klipheuwel-sender kon wel sekere dele van die platteland bereik, maar was in Kaapstad en omgewing feitlik nutteloos. Dit het effens beter gegaan nadat Johannesburg ook begin het, want die sender op Voortrekkerhoogte het 'n redelike sein in Kaapstad gegee en Klipheuwel 'n redelike sein in Johannesburg. Maar die Kapenaars en die Johannesburgers het gekla dat hulle nie hul eie programme kon hoor nie — en dit was wat hulle wou hê. Vir ons wat harde bene moes kou om die nuwe diens aan die gang te hou, was dit baie ontmoedigend om daagliks 'n aantal briewe te ontvang van Afrikaner-luisteraars wat gekla het dat hulle ons nie kon hoor nie. Maar die nood leer bid, en ons het 'n oplossing gevind al was dit nie sonder om strenge regulasies te oortree nie.

Ons posisie was soortgelyk aan die van generaal De Wet in Langenhoven se gedig "Die Doodgeloopte Pad" — om ons doel te bereik, moes ons sommer deur die veld koers kies, al was dit oor klippe en deur ruigtes. Baie jare het verbygegaan en miskien mag ek nou daardie storie vertel. Een van ons junior-ingenieurs was 'n geesdriftige "radio-amateur" en het vir hom 'n draagbare sendertjie van omtrent £150 gebou vir sy eie gebruik. Dit was nie groter as 'n gewone plat tassie nie en het in die hoek van ons kontrolekamer gestaan. Saans na sluitingstyd het ons met daardie sendertjie toetsuitsendings in die 50 Meterband uitgevoer, en tot ons groot vreugde gevind dat hy 'n heel redelike ontvangs in en om die skiereiland gee, en ook op sommige verder geleë plekke. Met groot opgewondenheid het ons verlof probeer kry om die sendertjie amptelik te gebruik ter aanvulling van Klipheuwel, maar van owerheidsweë is ons versoek geweier "omdat ons nie geregtig is om van daardie golflengte gebruik te maak nie". Dit was 'n wrede teleurstelling, maar wat kon ons doen ? Net geduld gebruik, en aanhou. Maar die daaglikse stroom klagtes van luisteraars, en die gevoel van frustrasie wat dit geskep het, het uiteindelik 'n mens se geduld tot die breekpunt gebring, en op Maandag,

30 Mei het ek besluit om daardie sendertjie sonder verlof "op die lug" te sit. Die uitwerking was dramaties, want uit baie dele van die skiereiland het mense die ateljee gebel om te sê dat hulle ons goed kon hoor. Die volgende more het die Afrikaanse oggendblad die ontvangs beskrywe as "net so goed as die A-Program". Dit was 'n oor-optimistiese beskrywing want die A-Program of Engelse Diens het beskik oor 'n sterk medium-golfsender. Tog was ons klein sendertjie ongetwyfeld 'n sukses, want binne 48 uur het ons van owerheidsweë opdrag ontvang om die sender te sluit ... en die volgende dag was sy stem stil. Maar teen daardie tyd het hy so 'n wye kring aanhangers geniet, dat 'n terugwaartse stap onmoontlik was. Sy sluiting het so 'n golf van protes uitgelok dat die owerheid binne nog 48 uur aan die S.A.U.K. 'n spesiale lisensie vir die gebruik van die sendertjie op daardie golflengte toegestaan het.

Planne is dadelik gemaak vir die aankoop en oprigting van mediumgolfsenders om vir Afrikaans ook in ons stedelike gebiede 'n goeie ontvangs te verseker, maar voordat daardie planne ten uitvoer gebring kon word, het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek en feitlik alle ontwikkeling sowat sewe jaar lank stopgesit. Dit was eers teen 1948 dat ons weer in staat was om nuwe senders te kry. Toe is die taak van uitbreiding met vasberadenheid aangepak, en voor die einde van 1952 was die sendkrag van die Afrikaanse en Engelse Dienste orals presies gelyk. Vier jaar later het ons groot kortgolfstasie "Paradys", naby Bloemfontein, in werking getree, en van toe kon Afrikaans iedere dag helder en duidelik gehoor word in iedere huis tot in die verste uithoeke van ons land, insluitende Suidwes-Afrika, en selfs buite ons grense.

Intussen het die S.A.U.K. ook sy Afrika-Diens in die lewe geroep, en die golwe van twee kragtige Paradyssenders met spesiale straal-antennes dra vandag ons Afrikaanse taal ver anderkant die Limpopo, na luisteraars in Rhodesië, Uganda, Oos-Afrika, die Kongo, en selfs tot in Europa en verder. En dit alles het geskied binne 20 jaar sedert die eerste voltydse Afrikaanse Diens die eter ingeseil het!

Aan die programkant was die ontwikkeling nog veel merkwaardiger. Die paar manne wat die eerste Afrikaanse Diens in Oktober 1937 begin het, was byna soos die Israeliete wat stene moes maak met heel weinig klei en geen strooi nie, behalwe wat hulle self kon verskaf. Enigiemand wat al iets vir die mikrofoon moes skrywe, weet hoeveel tyd en sweet en materiaal dit verg om 'n enkele halfuur te vul. Ons moes uit die staanspoor 'n diens van sowat 10 uur, later 17 uur per dag volhou. Ons kollegas in die Engelse Diens kon gebruik maak van programme ingevoer of herlei uit Engeland, Amerika, Kanada en elders. Maar ons in die Afrikaanse Diens kon ons op niemand anders verlaat nie, want daar was geen ander Afrikaans-sprekende land ter wêreld waarvandaan ons pro­gramme kon kry nie. Ons was totaal op ons eie kragte en hulpbronne aangewese. Die taak was dus groot, en die arbeiders weinig. Maar Afrikaans was 'n jong, aanpasbare en lewenskragtige taal; en diegene wat hom gepraat het, het ook daardie eienskappe gehad, en 'n hele wavrag optimisme daarby — of was dit maar net jeugdige voortvarendheid,  gemeng  met  'n  bietjie  astrantheid?

Net voordat ek Johannesburg verlaat het om die eerste Afrikaanse Diens in Kaapstad te gaan loods, sê een van my Engelssprekende senior kollegas aan my : "This Service cannot last six months. There just is not enough programme material available in Afrikaans." Hy het dit nie onvriendelik bedoel nie, want dit was eintlik 'n uitdrukking van sy meegevoel met 'n kollega wat voor 'n "onmoontlike" taak gestaan het. Maar daardie woorde was vir ons, wat die eerste Afri­kaanse Diens moes loods, 'n magtige aansporing, juis omdat dit so 'n uitdaging was. Ons spens was werklik baie leeg, maar ons wou dit vir geen geld erken nie. Ons het aan die werk gespring, en alles vertaal wat ons in die hande kon kry — selfs sommige van die programme wat ons Engelssprekende kollegas van oorsee geneem het en wat hulle vriendelik tot ons beskikking gestel het. Ons moes natuurlik self baie produseer, en hier het ons die steun gehad van al wat Afrikaner was in en om Kaapstad. Daardie steun — en die geesdrif waarmee dit gepaard gegaan het — kon enige mens in staat stel om die spreekwoordelike berg te versit! Dit was ongetwyfeld harde werk — ek onthou een geleentheid toe ek drie dae lank nooit die ateljeegebou verlaat het nie, maar sommer 'n paar uur snags op 'n bank in my kantoor geslaap het. Maar tegelykertyd was dit 'n heerlike avontuur wat ons met mekaar gedeel het, en wat 'n unieke kameraadskap onder ons klompie geskep het wat lank voortgeduur het. En die hulp en aanmoediging van ons vriende buite die S.A.U.K. was vir ons 'n besieling. Tog moes ons die meeste van ons stof vertaal, en sou dit waar wees om te sê dat Afrikaans in die radio in daardie dae grotendeels  'n  "vertaal-taal" was want ons erkende Afrikaanse skrywers, met weinige uitsonderings, wou nie vir die mikrofoon skrywe nie, hoe ons ook al gesoebat het. Aan die een kant was hierdie nuwe medium vir hulle te vreemd, en aan die ander kant kon die uitsaaiwese hulle nie genoeg betaal om met die pers te kan wedywer nie. Onder die werke uit daardie vroeë dae wat spesiaal vir die radio geskrywe is, is bv. Uys Krige se "Gees van die Water" en "Skaapwagters van Betlehem". Ook het ons heelwat Afrikaanse boeke en verhale verwerk tot radio-drama vorm; maar selfs dit het meer tyd geverg as wat ons klein personeel kon by bring, want slegs vier manne in Kaapstad en vier in Johannesburg moes alles behartig, van die more tot sluitingstyd die aand - die omroepwerk, die regie van iedere program, die sport- en ander uitsendings van buite, die verwerkings, die jeugsessies, en nog boonop al die administratiewe werk — en dus moes ons gedurig terugval op vertalings. Maar dit het ook sy voordele gehad, want daardeur is ons Afrikaanse kultuurskat   snel   aangevul   en   verryk   deur   'n aansienlike stroom uit ander tale, dikwels van die wêreld se grootste werke. Ons wou hê die sangers moes in ons Afrikaanse Diens sing, en binne 'n paar jaar het ons nie alleen honderde liedere uit verskeie tale vertaal nie — van groot kunsliedere tot danstreffers en ligte snert — maar ook 'n twintigtal volledige operas en operettes wat in Afrikaans die lug in gestuur is. Hierdie poging het ook buite die S.A.U.K. sy uitwerking gehad. In 1946 het die Johannesburgse Stadsraad besluit om 'n vollengte opera in Afrikaans in sy jaarlikse seisoen ten tonele te voer en het ons hulp ingeroep by die vertaling daarvan. Die eerste opera wat in Afrikaans op die planke verskyn het, was Bizet se "Carmen", en die volgende twee jaar was dit "Die Verhale van Hoffmann" (Offenbach) en "Die Towerfluit" (Mozart).

Later het ons lêers duisende vertalings van liedere bevat, terwyl die hoorspele wat ons vertaal en uitgesaai het ver oor 'n duisend tel. Daar is ook etlike honderde boeke vertaal en verwerk vir uitsending.

Namate sy personeel en mede-werkers aangegroei het, het ons Afrikaanse Diens ook onafhankliker geword. Binne 'n jaar of vyf het   die   vertaalstadium   plek    gemaak   vir   die verwerkingstadium. Ons het minder vertaal, maar byna alles wat in Afrikaans gepubliseer is, het ons vir die mikrofoon verwerk en uitgesaai, al was dit nie in die eerste plek vir die radio geskrywe nie. Gaandeweg het ons skrywers begin belangstel in die radio as 'n afsetgebied vir hul werke.

Die radio is 'n haastige medium, en die uitsaaier het meesal nie die geleentheid om 'n woordeboek na te slaan wanneer 'n woord hom ontgaan nie. Hy moet improviseer. Meer nog, wanneer hy iets moet beskrywe waarvoor daar nog geen woord in Afrikaans bestaan nie, het hy nie kans om die saak met 'n paar van sy taalgeleerde vriende te bespreek en hul raad te vra nie. Hy moet sy vindingrykheid gebruik, en sommer daar-en-dan, sonder om die gladde verloop van sy uitsending te steur, 'n nuwe woord vorm. Dit het veral dikwels gebeur met ons sportuitsendings in die vroeë dae, toe daar nog heel weinig rugby- of boks- of stoei- of krieketterme in Afrikaans was, om van ander sportsoorte soos hokkie, bofbal, tennis en gholf nie eens te praat nie. Die vindingrykheid van die uitsaaiers, gebore uit nood en opgewondenheid, het ons taal verryk met menige gevatte woord wat later 'n erkende vakterm geword het. Maar hierdie verrykingsproses was nie tot sport beperk nie, en ons hoef maar net te dink hoeveel van die gesegdes van Oom Kaspaas of Oom Kobie van Soetmelksvlei geykte spreekwyses ge­word  het.

Ook op die sinsbou van Afrikaans het die uitsaaiwese 'n belangrike en heilsame vormende invloed gehad. Omdat die gesproke woord so vlietend is, moet die uitsaaier sorg dat die luisteraar onmiddellik begryp wat hy sê. As die leser 'n sinsnede of paragraaf in 'n boek nie die eerste keer snap nie, kan hy dit herlees, desnoods 'n dosyn keer, totdat hy dit uiteindelik goed verstaan. Maar so iets is onmoontlik by die gesproke woord wat oombliklik verbygaan en vir goed verdwyn.

Sodra 'n luisteraar na sy maat moet omdraai en vra "Wat het die omroeper presies gesê?" dan verloor hy nie slegs die betrokke sin nie, maar ook die drie of vier wat daarop volg. Om dit te vermy, moet die uitsaaier sorg dat sy sinne kort, en sy sinsbou eenvoudig is. Veral die gewoonte in Afrikaans, soos ook in sommige ander tale, om die hoofwerkwoord aan die einde van die sin te plaas, was in die radio hopeloos onvanpas. Afgesien van die feit dat dit soms 'n opeenhoping van werkwoorde daar aan die einde van die sin veroorsaak het — 'n ware slagyster vir die omroeper — was dit vir die luisteraar ook verwarrend. Voor die mikrofoon het ons dus doelbewus die sinsbou verander, en gesorg dat die hoofwerk­woord so vroeg moontlik in die sin geplaas word, sodat die luisteraar onmiddellik kan snap wat gaande is.

Boeke, tydskrifte en koerante kan slegs die lesende publiek bereik, maar die radio bereik en beïnvloed ook die groot nie-lesende publiek. Hy is bliksemsnel en alomteenwoordig, en praat gelyktydig met iedereen in ons wydgestrekte land. Maar juis omdat hy so 'n magtige invloed het, is sy verantwoordelikheid dienooreenkomstig groot. 'n Uitspraakfout of 'n verkeerde taalgebruik voor die mikrofoon kan in baie wye kring 'n nadelige uitwerking op ons taal hê, en daarom moet die uitsaaiers dubbeld en drie-dubbeld versigtig wees. Om hulle te help, het die S.A.U.K. in samewerking met die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns, 'n skema vir taaltoesig en taaladvies in werking gestel. Die Korporasie het 'n voltydse Taaladviseur   in   sy   personeel benoem, en die Akademie het 'n viertal van sy lede, almal vooraanstaande deskundiges op die gebied van Afrikaans, gekies om hom by te staan as Komitee vir Taaladvies. Hierdie Komitee is later vergroot deur die byvoeging van 'n professor in Engels, wat bygestaan is deur nog vier penlede in al die provinsies. Die Taaladviseur luister daagliks na ons uitsendings, wys die omroepers op enige foute wat hulle maak, en is ten alle tye tot beskikking vir raadpleging wanneer hulle onseker voel. Hy lê weer op sy beurt sy probleme voor aan die Komitee wat op gesette tye byeenkom om hom van advies te bedien. Die positiewe werk wat die Komitee doen, is om leiding te gee in verband met die uitspraak van plekname en vreemde name, benewens advies in verband met die beste gebruiksvorm van woorde of uitdrukkings in Afrikaans. Die geweldige taak is afgehandel om die duisende der duisende plekname in die Unie en Suidwes foneties te transkribeer, sodat die omroeper nie hoef te soek na die uitspraak van 'n pleknaam in sy eie land nie. Hierdie werk is aangevul met name uit die buiteland.

Ten spyte van al hierdie sorg wat aan ons uitsaaitaal bestee is, sluip daar altyd foute in, en sal daar ook altyd foute voorkom, solank mense onvolmaak en feilbaar bly. Maar dat ons die beste gedoen het na ons vermoë in daardie tyd het geblyk uit later jare se vloeiende en goeie gebruik van Afrikaans oor ons senders – waarop ons baie trots kan wees!