REKENAAR IN DIE KIES (9)

Louis Nel

Lees reeks by Rekenaar in die kies...

Met hierdie reeks is dit nie die doel om 'n Afrikaanse woordeboek vir rekenaarterme saam te stel nie; eerder om 'n assosiasie te skep om só te onthou wat die term beteken.

DEBUG = nie wat jy doen om die luise van jou af te kry as jy in die bos gestap het nie; mens kan 'n rekenaarprogram ontfout, dws die foute daarin opspoor en regstel. Daarvoor word 'n 'Debugger' of ontfoutprogram gebruik.

DEFAULT = nie 'die fout' wat jy begaan het nie – VERSTEK. Jou 'default printer' is bv die drukker wat jy gewoonlik of by verstek gebruik.

So ook bv jou blaaier: jy het dalk Internet Explorer en Netscape Navigater; jy sal gevra word water een jy jou verstekblaaier wil maak. Die een wat jy kies sal dan by verstek gebruik word sodra 'n ander program 'n blaaier aan die gang moet sit.

DEFRAGMENT = ontfragmenteer. Al die brokkies van jou lêers word hierdeur weer bymekaar gekry, amper soos Oompie Kedoompie maar darem met 'n beter einde. As jy nie jou rekenaar van tyd tot tyd ontfragmenteer nie raak jou rekenaar baie stadig.

DIALOG BOX =  kiesvenster wat verskyn met opsies waarin jy moet kies oor wat jy volgende wil doen.

DIGITAL CASH = digitale kontant of skynkontant. Dis net skyn terwyl dit digitaal is – jou bankbalans voel dit terdeë.  Dis unieke nommers wat per sertifikaat deur 'n bank toegeken word en 'n bedrag verteenwoordig. Dit word dan gebruik vir transaksies via die rekenaar. In teenstelling met betaling per kredietkaart bly alle besonderhede vertroulik – of is veronderstel om te wees...