DOPPERS EN FILISTYNE (1)

BASTA POLITIEK

Lees reeks by Doppers en Filistyne - Langenhoven

"Ons Afrikaners haat mekaar mos maar met 'n wrewelige haat oor die politiek – en ons is maar goddank bly ook oor die oorsaak, anders moes ons 'n ander oorsaak soek."

Toe die drukkers- en uitgewerfirmas dwarsdeur die land te hore kom dat ek aan't boek skrywe is het hulle van alle kante oormekaar geval en my bestorm om die een voor die ander my manuskrip in die hande te kry om dit vir my te druk en uit te gee en profyt uit my te maak. Ek was nes 'n aantreklike nooi met baie vryers. (Met die oorvloedige geleentheid om uit te soek, soek sy egter dikwels juis swak uit.) Hoe ek op die ou einde uit al daardie vryers die Natpers gekies het  sal ek, volgens verstandhouding, nie op die lappe bring nie. (Die leser moet verstaan – aan my kant is daar niks om weg te steek nie.)

"Maar julle is 'n spul Nattes," het ek aan Die Burger se mense gesê.

"Daardie verskilletjie kan maklik uit die weg geruim word." was hulle antwoord.

"Hoe so?" vra ek.

"Word oom Stoffel ook Nat."

"Kyk", sê ek, "my kruit bly droog en my twak bly droog en ek bly droog. Ek draai nie heeldag op allerhande nuwe takpaadjies uit nie. Anders kon ek maklik al 'n Sabbatariër gewees het en 'n Salwyster en 'n Geloofsgeneser en 'n Wederdoper en 'n Spookoproeper. In Stefaans du Toit se dae was ek 'n Bondsman en toe hy 'n Rhodesman geword het, het ek 'n Bondsman gebly en die Paterjot bedank. In die Boere-oorlog was ek in die tronk en as ek en 'n tweelingbroer van my nie so eners gelyk het nie was ek aan die galg. Toe Unie gestig is was ek, saam met julle almal, 'n Sap. Nou wil julle hê ek moet vandag agter 'n nuwe Party aanhardloop. En waar sal ek môre wees?"

Hierop maak hulle melding van 'n kissie hoendereiers wat so lank in die winkelvenster onverkoop gebly het dat 'n mens hulle naderhand nie meer kan eet of uitbroei nie maar die biljet "VARS EIERS" staan steeds daarby. Toe vererg ek my en wou my hoed vat om te loop, maar hulle praat mooi.

"Kyk, oom Stoffel, as jy Sap skryf, dan lees geen Nat jou boek nie."

Hierin had hulle gelyk. Selfs van 'n Nat immers kan jy nou en dan by toeval wysheid hoor. Ek wis mos self hoe die Nattes maak. Hulle lees net hulle eie dwase en leuenagtige koerante. Hulle woon nooit ons vergaderings by nie – bang om tot oortuiging te kom. Probeer jy om met hulle te redeneer dan word hulle kwaad, So sien ek toe self in – as die Nattes my boek boikot dan verloor ek 'n aansienlike deel van die Hollands-lesende mark – seker byna 'n kwart volgens die laaste verkiesingsyfers.

"Kan Oom nie die politiek tog om liefdeswil maar heeltemal opsy hou nie?' gaan hulle voort. "Vergeet Oom nou maar, net vir hierdie geleentheid, dat ons Nattes is en ons sal vergeet dat jy 'n Sap is. En dan het jou hele volk die voordeel en die genot van jou boek, sonder teësin en sonder aanstoot."

Hierdie voorstel het op sigself al vir my redelik gelyk. En daarby had ek nog 'n ander rede om die politiek te vermy. Ek moes namelik vir Neelsie – 'n neef van my wat 'n baie hooggeleerde man is en my 'n sommetjie geld skuld – ek moes hom kry om my spelling agtermekaar te sit. En hy's 'n Nat. (Nat... tuurlik. Wat wou jy ook anders verwag? – ek sê mos, tussen ons, dat hy 'n krakie het.)

En die plitiek sou ons medewerking – myne en Neelsie s'n – bederwe. Ons Afrikaners haat mekaar mos maar met 'n wrewelige haat oor die politiek – en ons is maar goddank bly ook oor die oorsaak, anders moes ons 'n ander oorsaak soek.

Toe het ek met Die Burger-spul ooreengekom dat ek nie verder politiek sou gesels nie as van daardie vergange tyd toe daar nog 'n Hollandse en 'n Engelse politiek was – toe Neelsie en ek en Botha en Hertzog nog almal bymekaar aan die eenkant gestaan het en die Progressiewe en later die Unioniste aan die anderkant. Daardie is mos nou 'n ou skeidingslyn wat vandag uitgevee is – dis ou geskiedenis net soos dié van Adam. Ek meen ou Adam Tas van die van der Stels se dae. Daar is geen Engelse party meer nie; daar is geen Progressief of Unionis meer nie. Wat Unioniste was is almal Sappe. Hulle het hulle nukke opsy gegooi; hulle het hulle verkeerdigheid ingesien; hulle staan waar ek al die tyd gestaan het. Jy moet sien hoe die verbitterdste gewese Jingo's onder hulle, soos my ou buurman Makpaatrie en my ander ou buurman James, wat ek gedink het wat nooit in der ewigheid tot bekering sou kom nie – jy moet sien hoe geesdriftig hulle nou met my saamstem en saamwerk om ander stemme te soek om my óu leiers te ondersteun – en die nuwe leiers wat bygekom het en soveel beter nog is en soveel blinker van nuwigheid of nuutheid of nuttigheid. (A, Neelsie, die spelreëls!) Ja, daardie ou politieke twis is agter ons rug , dood en begrawe en ontbind. Ons lag vandag saam, ek en ou Makpaatrie, oor daardie rusies van die verlede. Ons terg mekaar daaroor, en daar is geen stuk aanstoot nie.

Dus dan, ál politiek wat die leser in hierdie boek sal aantref is daardie dooie politiek – daardie ou geskiedenis. As my boek nie die skone waarheid was nie kon dit gebruik geword het vir 'n geskiedenisleerboek op die skole.  Oor vandag se verskille is daar nie 'n woord nie. Wat ek ook dink van die kranksinningheid van die Nattes – ek sal nie my opinie daaroor uitspreek nie. Hulle kan dus maar met vrymoedigheid my boek koop. En wie weet – as ek hulle gewoond gemaak het om na my te luister, kan ek naderhand... maar ek het beloof om te swyg. *

*OPMERKING:
'n Mens moet darem nou eerlik wees, al is jy ook 'n ongeleerde en ongeskunstelde Takhaar.  Oom Stoffel het hand en tand onderneem, soos hyself in hierdie hoofstuk beken, om sy politiek uit sy boek uit te hou. Maar elke maal kom daar maar SAP-propaganda voor. Ek wou nie aan sy geskrif gaan torring nie –ek het dan belowe om dit nie te doen nie; en ek hou my beloftes stipter as hy, al beskuldig hy my van geleerdheid. Die Nasionale leser moet egter ou Stoffel se politiek tog maar vergewe. Ons was eens almal Sappe – babatjies ook.   – SAGMOEDIGE NEELSIE.