Bernard Miles
Lees reeks by Shakespeare in Afrikaans
Mercurio en Benvolio kon natuurlik nie hulle monde hou nie. Hulle vertel in die dorp rond dat hulle saam met Romeo die dansparty in die huis van die familie Capulet bygewoon het en dat niemand hulle herken het nie. Hulle vertel selfs hoe Romeo met Juliet gedans het, terwyl hy haar styf vashou en diep in haar oë staar soos 'n minnaar. Dit was nie lank nie of Tybalt hoor daarvan. Hy is Juliet se neef en hy word so kwaad toe hy hoor hoe Romeo se vriende met die storie loop en spog dat hy dadelik sy swaard gaan haal en vir Romeo in die strate gaan soek.
Intussen weet Mercutio en Benvolio nog nie dat Romeo en Juliet daardie oggend getroud is nie. Hulle nooi vir Romeo om 'n glasie wyn saam met hulle by die herberg te kom drink. Mercurio is opgewek en laat vir Romeo en Benvolio skaterlag met sy nabootsing van die ou man Capulet , die gaste en die ou oppaster. Toe verskyn Tybalt meteens in die deur van die herberg. Hy is woedend. Sy swaard is reeds uit sy skede en hy daag Romeo tot 'n tweegeveg uit. Maar Romeo weier, want Tybalt is Juliet se neef en as by iets oorkom, sal Juliet dit nooit vir Romeo vergewe nie.
Aan die ander kant kan Tybalt se uitdaging nie geïgnoreer word nie, want dan sal die dorpsmense dink Romeo en Mercutio en Benvolio is almal lafaards. Mercutio bied dus aan om teen Tybalt te veg. Hy het ook al sy swaard uitgepluk en gou is die twee jongmans in 'n verbete stryd gewikkel. Hul swaarde glinster in die sonlig en die twee vegters beweeg dan vorentoe, dan agtertoe soos eers die een die oorhand kry en dan die ander. Maar Mercutio is 'n goeie swaardvegter en hy dryf Tybalt teen die muur en wou hom net die doodsteek gee toe Romeo tussenbeide kom. As Mercutio vir Tybalt doodmaak, sal dit net so erg wees as wat Romeo dit self gedoen het. Hy probeer Mercutio bedwing en druk hom weg, maar Tybalt steek meteens sy swaard onder Romeo se arm deur en deurboor Mercutio se hart sodat hy sterwend voor sy twee vriende ineenstort.
'n Paar oomblikke lank hou Romeo en Benvolio Mercutio se liggaam in hulle arms vas, terwyl hulle tevergeefs hoop dat sy wond nie so dodelik ernstig is as wat dit lyk nie. Getrou aan sy geaardheid sterf Mercutio soos hy gelewe het, met 'n grappie op sy lippe. Toe Romeo horm vra hoe erg die wond is, antwoord hy: “As jy more na my soek, sal jy my met 'n grafgesig vind.” Dit kan twee dinge beteken: Die volgende dag sal hy nie grappies maak nie, maar met 'n lang, ernstige gesig rondloop, of dat hy dood, reg vir die graf, sou wees. Hy het natuurlik geweet hy was besig om te sterf.
Romeo is nou baie jammer dat by die twee jongmans uitmekaar uit probeer maak het. As hy dit nie gedoen het nie, het Mercutio dalk nog geleef. Maar nou is Mercutio dood en dit is Tybalt wat hom doodgesteek het. Romeo gee nou ook nie meer om dat Tybalt Juliet se neef is nie. Hy wil Mercutio se dood wreek. En toe Tybalt hom uittart en hom 'n lafaard noem, trek Romeo sy swaard uit en storm woedend op Tybalt af. Die geveg is van korte duur. Selfs onder normale omstandighede is Romeo 'n goeie swaardvegter, maar nou kan niks hom in sy woede stuit nie. Hy dryf Tybalt terug en wond hom aan die arm sodat sy swaard kletterend op die vloer val. Maar Tybalt weier om in te gee. Hy ruk sy dolk uit en storm op Romeo af.
Romeo wil Tybalt 'n gelyke kans gee en ruk sy dolk ook uit. Die twee jongmans skerm en stoei teen mekaar soos twee stoeiers in die kryt. Maar Romeo is te sterk vir Tybalt en toe hy 'n opening kry, deurboor by Tybalt se hart sodat hy sterwend op die vloer inmekaar sak.
Toe eers besef Romeo dat hy gedoen het presies wat hy nie wou hê Mercutio moes doen nie. Hy het die neef doodgemaak van die meisie wat 'n paar uur gelede sy vrou geword het en wat vanaand vir hom sal wag sodat hulle soos man en vrou bymekaar kan wees. En meteens onthou hy die wet wat die Prins gemaak het.: enige iemand wat in die straat baklei, sal ter dood veroordeel word. En tog, sê Romeo vir homself, as hy Tybalt nie doodgesteek het nie, sou Tybalt hom doodgemaak het. Hy staan daar verward by die lyke van Mercutio enTybalt en wonder by wie hy sal gaan hulp soek.
Benvolio besef die moeilikheid waarin sy vriend verkeer en bied aan om vir die Prins te gaan verduidelik wat gebeur het. Hy sal vir die Prins sê dat Romeo eers nie aan die tweegeveg met Tybalt wou deelneem nie en hoe Mercutio in sy plek gekom het en hoe Mercutio se dood veroorsaak het dat Romeo sy hurneur verloor het. Intussen moet Romeo na die kerkie toe gaan en daar wegkruip totdat Benvolio vir hom kom sê wat die Prins se antwoord is.
Die Prins het geduldig na Benvolio se storie geluister, 'n rukkie daaroor nagedink en toe 'n baie verstandige besluit geneem. Hy kan nie die wet verbreek wat hy 'n paar weke gemaak het nie, maar by besef dat Romeo sy bes gedoen het om nie by die tweegeveg betrokke te raak nie. Hy kan dus nie ter dood veroordeel word nie. Maar onwetend dink die Prins 'n straf uit wat amper net so wreed is. Romeo moet Verona binne vier-en-twintig uur verlaat en nooit weer terugkom nie. As hy weer in die dorp gevang word, sal hy onthoof word.
Romeo weet hy moet doen wat die Prins beveel, maar hy weet ook dat hy nooit sonder Juliet kan lewe nie. Daar is net een uitweg. Hy sal vannag vir Juliet gaan besoek en moreoggend vroeg vertrek na die dorp Mantua daar naby waar hy nie onder die wette van Verona sal wees nie. Later kan Juliet ook daarheen kom om by hom te wees. Dit sal nie maklik wees om van mekaar afskeid te neem nie, maar gelukkig sal dit nie vir lank wees nie en op die ou einde sal alles tog regkom.
Juliet was geskok om die nuus van Tybalt se dood te verneem, maar nog meer geskok toe sy hoor dat Romeo, haar man, hom doodgesteek het. Eers nadat sy die hele storie gehoor het, kry haar liefde vir Romeo die oorhand oor haar gevoelens en wens sy dit moet aand word sodat sy vir Romeo kan sê dat sy alles verstaan en dat dit nie sy skuld is dat Tybalt dood is nie.
Intussen het Romeo ongeduldig in die kerkie gewag dat dit moet aand word. Hy wou so graag alles vir Juliet verduidelik, net so graag as wat sy vir hom wil sê dat sy alles verstaan. En toe dit donker genoeg is, stap hy versigtig deur die stil strate tot by die huis van die familie Capulet en hy klim oor die muur tot in die vrugteboord soos die vorige aand toe hy vir Juliet van sy groot liefde vir haar kom vertel het. En daar teen die muur af, hang die tou wat Juliet vir hom laat sak het, met stewige knope daarin wat hy kan gebruik om tot by haar op te klim.
Romeo klim met die tou tot op die balkon waar hy die tou optrek en oprol. Die deur gaan oop en Juliet val in sy arms terwyl hulle albei deurmekaar lag en huil. Hulle liefkoos mekaar, want hulle weet dit is dalk die enigste nag vir 'n lang, lang tyd — miskien vir altyd — dat hulle bymekaar sal wees. En toe die eerste opwinding verby is, lei Juliet homna die kamer en hulle dink nie eens aan die tragedie van die dag nie en hulle word een soos 'n man en 'n vrou moet wees en soos die ou priester daardie oggend vir hulle gesê het hulle sal wees en toe raak hulle in mekaar se arms aan die slaap en dit is kompleet asof hulle die enigste mense op die wêreld is, so naby is hulle aan mekaar.
Die volgende oggend maak Romeo vroeg gereed om te vertrek. Juliet soebat hom om langer te bly, maar hy moet gaan voordat die huismense wakker word. Hy moet ook nog sy paar persoonlike besittings gaan inpak en sy moeder en sy vader gaan groet voordat hy na Mantua vertrek. Hy belowe vir Juliet dat hulle gou weer saam sal wees. Die familie Montague het goeie vriende in Mantua en Romeo is seker hy sal by een van hulle kan woon. Dan sal hy vir Juliet laat weet sodat sy na homtoe kan kom, miskien sommer volgende week al. Hulle soen en omhels mekaar inniglik. So neem hulle afskeid.
Maar dit is nie so eenvoudig nie. 'n Mens kan jou skaars voorstel hoe Juliet moes voel toe haar moeder en vader haar later daardie oggend kom sê dat alles gereël is en dat sy en Paris oor 'n week gaan trou. Die Prins het ingestem om die heildronk op die bruidspaar in te stel en vir hulle 'n klein huisie in die tuin van die paleis gegee waar hulle kan woon. Die ou man Capulet is buite homself van opgewondenheid. Dat die familie Capulet nou sulke vername mense gaan word! Juliet word doodsbleek en moet haarself bedwing om nie in trane uit te bars nie. Dit voel vir haar of sy gaan flou word. Hoe kan sy vir haar ouers vertel dat sy al klaar getroud is en dit nogal met 'n Montague, die moordenaar van haar neef, Tybald! By wie kan sy gaan hulp soek?
Dit is die ou oppaster wat met 'n plan vorendag kom. Waarom gaan sy nie by die priester raad vra nie? Hy was tog die een wat vir haar en Romeo getrou het en Romeo het in sy kerk gaan wegkruip toe hy in gevaar was. Hy is 'n vriendelike en verstandige ou priester, en as iets gedoen kan word, sal hy weet wat om te doen.
En dus, net 'n paar uur nadat sy getroud is, gaan Juliet weer terug na die kerkie en die ou priester. Sy kniel by die altaar en se dankie vir Jesus omdat hy Romeo in haar lewe gebring het en dat hy haar liefhet en sy smeek die ou priester om haar te help om haar huwelik met Paris so lank moontlik uit te stel sodat sy vir Romeo kan laat weet wat gebeur het en dat hy haar moet kom haal en met hom moet saamneem Mantua.
Hy kan tog aan'n plan dink, sê die priester, maar dan moet Juliet dapper wees en maak nes hy sê. Hy het 'n seldsame middel, sê hy, wat haar vir twee-en-veertig uur so vas sal laat slaap dat dit lyk asof sy dood is, en haar hart sal skaars klop, sy sal byna nie asemhaal nie en haar liggaam sal koud en swaar word. Hy sal vir haar van die middel gee en sy moet daarvan drink die aand voordat sy met Paris gaan trou. Die volgende oggend sal haar ouers dink dat sy gif gedrink het, en hulle haar langs haar neef Tybalt in die grafkelder van die familie Capulet weglê. Dan sal die ou priester 'n boodskap na Romeo stuur om hom te laat weet wat gebeur het. Romeo sal dadelik na Verona terugkom en vir Juliet in die grafkelder kom haal waar sy gereed sal wees om saam met hom Mantua te gaan sodat hulle daar gelukkig, openlik as man vrou, kan saamwoon.
Ai! Dit was iets vreesliks om van 'n jong meisie te vra. Die grafkelder is groot en koud en uitgekap uit 'n rots met terrasse waarop die dooies van baie geslagte van die familie Capulet weggelê is, nie in doodskiste soos vandag nie, maar aangetrek in hul klere soos hulle gelewe het, en deur die jare heen het liggame vergaan en geraamtes geword. Juliet sidder by die gedagte dat sy in die koue grafkelder tussen al die lewelose liggame moet wakker word, maar dan onthou sy dat Romeo die eerste sal sien as sy haar oë oopmaak en dat hy haar met hom saam na Mantua sal neem en dat hulle daar gelukkig as man en vrou sal saamwees. Sy is bereid om enigiets te doen solank sy net nie met Paris hoef te trou nie en weer by haar dierbare Romeo kan wees.
Toe Juliet by die huis terugkom, is almal druk besig om voorbereidings te tref vir haar huwelik met Paris: die bruidsrok en rokke vir die bruidsmeisies word gemaak, halssnoere, fyn satynskoene en silwergordels, alles vir die groot dag. Die blomme het die hele huis versier.
Juliet bêre die medisyne in die laai van haar bedtafeltjie. Toe stap sy deur die huis en maak asof sy die opgewondenheid geniet; sy pas haar bruidsrok aan, gaan loer in die kombuis waar die kokke die bruilofsmaal voorberei en sy lag en gesels so opgewek dat niemand haar planne agterkom nie.
Maar toe sy die aand in haar slaapkamer kom, begewe haar moed haar. Sê nou net die medisyne werk nie! Sê nou net die ou priester het 'n fout begaan en vir haar gif gegee wat haar aan die slaap maak sodat sy nooit weer wakker word nie? Sê net Romeo daag nie betyds op nie en sy moet daar in die yskoue grafkelder sonder kos en water vir dae aaneen, miskien vir altyd, vir hom wag?
Maar toe dink sy weer aan Romeo en hoe baie sy na hom verlang en sy onthou sy liefkosings en sy soene. Hiervoor kan sy enigiets waag, erken sy teenoor haarself; hiervoor kan sy selfs haar lewe waag. Sy stuur 'n skietgebedjie op en vra vir Jesus om vir Romeo te bewaar en hom gou weer na haar toe terug te bring, en sy sluk gou die medisyne weg en gaan lê op haar bed en val in 'n diepe slaap, net soos die ou priester gesê het. Sy haal skaars asem.
Terwyl dit alles gebeur, is die ou oppaster diep bekommerd. Sy weet Romeo en Juliet is getroud. Sy weet ook dat sy hulle gehelp het om te trou en dat sy die skuld sal kry as haar ouers dit agterkom. Maar sy sal maak asof die huwelik nooit plaasgevind het nie, dat jong impulsiewe meisies maar sulke dinge doen sonder om aan die gevolge te dink of dat dit maar net 'n ongeluk was. Juliet gaan met Paris trou, sê sy vir haarself, in 'n mooi kerk en met klokke wat lui en die orrel wat die troumars speel en deftige gaste; en die ryk bruidegom sal die kerk ingestap kom en dit sal 'n regte huwelik wees! Juliet sal vir Romeo gou vergeet en dan sal alles weer wees soos dit moet wees. Dit is wat die ou oppaster gedink het toe sy die volgende oggend in Juliet se kamer kom om die jong meisie wakker te maak.
Eers dink sy dat Juliet net vas slaap, maar toe sy aan haar raak en haar koue liggaam voel, gee sy 'n gil van ontsteltenis en hardloop die kamer uit. Binne 'n ommesien is die hele huis in rep en roer. Juliet is dood. Pleks van 'n huwelik sal dit nou ‘n begrafnis wees en Juliet sal in die grafkelder van die familie Capulet weggelê word.
Die ou man Capulet is buite homself van verdriet en beveel dat Juliet se liggaam weggeneem en in haar trourok in die grafkelder weggelê moet word met haar goud-rooi hare los oor haar skouers, haar hande oor haar bors gevou en met haar silwer sandale aan.
Eers toe die diep bedroefde oppaster die liggaam gereed maak om weggelê te word, sien sy die silwer trouring om Juliet se hals, so na aan haar hart. Toe dink sy weer aan Romeo. Sy dink nou glad nie meer aan Juliet se huwelik met Paris, die 'regte huwelik' waarna sy so uitgesien het nie. Die jong meisie wie se liggaam sy versorg, is reeds getroud. Sy is met Romeo getroud. Romeo is haar man en Romeo moet haar sien voordat hulle haar gaan weglê en die ysterdeure van die grafkelder toegrendel. Op een of ander manier moet sy 'n boodskap na Mantua stuur en Romeo laat weet dat Juliet dood is.
Sy skryf gou 'n kort boodskap: 'Kom gou— Juliet is dood en word more begrawe'. Maar hoe gaan sy die boodskap by Romeo kry? Meteens onthou sy die ou priester. Hy sal haar kan help. Romeo moes tog vir hom gesê het waarheen hy gaan. Sy trek gou aan en hardloop na die kerkie.
Nadat Juliet vroeër die oggend van hom of weg is, het die priester 'n boodskap aan Romeo gestuur om te se dat hy diepslaap-medisyne vir Juliet gegee het sodat haar huwelik met Paris nie kan plaasvind nie en dat Romeo dadelik na Verona moes terugkom. Hy moes dadelik na die Capulets se grafkelder gaan, waar by Juliet moes opwek om haar met hom saam te neem na Mantua. Maar toe die oppaster vir hom kom sê Juliet is dood en hom vra om alles in sy vermoë te doen om vir Romeo te laat weet, moes die ou priester gou 'n plan beraam.
As hy vir die oppaster vertel dat hy die medisyne vir Juliet gegee het en dat sy weer sal wakker word, kan sy dalk alles uitlap en die hele plan verongeluk. Die ou man Capulet sal net wag totdat Juliet wakker word en haar dwing om met Paris te trou. Die priester is seker Romeo het al sy eerste boodskap gekry en is al op pad na Verona. Daarom besluit hy om die oppaster se brief met die volgende boodskapper te stuur.
Maar dit gebeur nie altyd soos 'n mens wil hê nie. Die lewe is vol foute en snaakse wendinge, vol misverstande. Toe die boodskapper met die priester se eie boodskap, waarin hy vir Romeo vertel dat Juliet net slaap, buite Mantua kom, verneem hy dat 'n plaag in die stad uitgebreek het en dat hy nie die stad mag binnegaan nie. Hy besluit om te wag totdat dieplaag verby is. Dit is waarom Romeo nooit die priester se boodskap ontvang het waarin by hom vertel van die medisyne wat by vir Juliet gegee het en dat Romeo haar moet kom haal nie.
Die tweede boodskapper met die oppaster se brief het Mantua sonder moeite bereik en die brief aan Romeo gegee by die huis waar die priester gesê het by hom sal kry. Romeo is verslae toe by hoor Juliet is dood. Dit is asof die hele wêreld om hom ineenstort. Daar is geen hoop meer op 'n lang en gelukkige lewe vir hom en Juliet nie. Hy besluit dadelik. As Juliet dood is, sal hy ook sterf; daar bly vir hom niks meer oor om voor te lewe as sy dood is nie. Hy gaan koop ‘n botteltjie gif by 'n vriend in Mantua, genoeg om hom oombliklik dood te maak, en vertrek na Verona.
Toe Romeo by die grafkelder in Verona aankom, hoor hy voetstappe in die nag. Dit is Paris. Die jongman bring blomme om in die grafkelder te plaas en om van Juliet afskeid te neem. Toe by Romeo sien, vlam sy woede op en by ruk onmiddellik sy swaard uit. Romeo het vir Tybalt doodgesteek en Paris dink dat Juliet so oor haar neef se dood treur dat sy haar eie lewe geneem het. Nou kan Paris wraak neem en hy storm op Romeo af. In die helder maanskyn, voor die grafkelder van die Capulets waar Juliet lê, veg die twee jongmanne op lewe en dood. Maar soos in sy geveg met Tybalt is Romeo weer die sterkste en hy dryf Paris terug tot teen die ysterdeure van die grafkelder en deurboor hommet sy swaard sodat die blomme wat Paris vir Juliet bedoel het rooi gekleur word deur sy eie bloed. En hy vra sterwend vir Romeo om sy liggaam langs dié van Juliet neer te lê. Romeo maak die deure van die grafkelder oop en dra Paris se liggaam in om aan sy laaste versoek te voldoen. Die grafkelder is koud en klam en donker, maar Romeo sien Juliet waar sy tussen die kranse en die blomme lê. Nou is dit al byna twee-en-veertig uur sedert Juliet die priester se medisyne gedrink het en as Romeo net 'n rukkie gewag het sou sy wakker geword en horn met 'n uitroep van blydskap begroet het. Maar Romeo het net die oppaster se brief wat hom laat weet dat Juliet dood is en hy het niks van die ou priester se plan geweet nie. En hier voor hom lê Juliet, koud en skynbaar dood. Hy haal die botteltjie gif uit sy sak uit en drink dit en val sterwend in haar arms terwyl hy uitroep, “My liefling, my vrou, ek kom na jou toe!”
Asof deur 'n wonderwerk bring Romeo se lippe en die warmte van sy liggaam Juliet na die lewe terug. Sy is nog koud en vir 'n paar oomblikke bly sy doodstil lê terwyl sy wonder waar sy is en waarom sy haar trourok aanhet en waarom Romeo hier by haar in die grafkelder is. Stadig, baie stadig begin sy alles onthou. Romeo het haar kom haal om saam met hom na Mantua te gaan en toe hy sien sy slaap, het hy langs haar kom rus van sy lang reis om te wag totdat sy wakker word.
Maar toe sy vergeefs na hom roep en die leë botteltjie sien besef sy wat gebeur het. En in die sak van sy doeblet kry sy haar oppaster se brief. Sy staan op en stap na die deur van die grafkelder en in die lig van die maan lees sy: 'Kom gou -Juliet is dood en word môre begrawe'. Nou besef sy dat die priester se brief Romeo nooit bereik het nie, net hierdie boodskap van haar oppaster wat gedink het sy is werklik dood. Romeo het sy eie lewe geneem omdat hy nie sonder haar kan lewe nie.
Juliet kniel langs Romeo se liggaam terwyl sy haar aan die verdriet oorgee. En alles word vir haar net so duidelik as vir Romeo toe hy die tyding van haar dood ontvang het. As hy besluit het om saam met haar te sterf, kan sy dit vir hom ool doen. Sy trek Romeo se dolk uit die skede uit, deurboor haar eie hart daarmee en sak sterwend op sy liggaam neer.
Intussen het die ou priester begin wonder wat van die boodskapper geword het. Waarom het hy niks van Romeo gehoor nie? Hy besluit om die boodskapper te gaan soek en tot sy ontsteltenis, kry by homnog by die herberg halfpad tussen Mantua en Verona. Nou vrees die priester die ergste. Hy haas hom terug na Verona, na die grafkelder waar hulle Juliet se liggaam weggelê het. Daar kry hy die deure van die grafkelder oop en hy sien die lewenslose liggame van die drie jongmense in die lig van sy lantern. Sy plan het misluk. A wat hy nou kan doen, is om te kniel en God te bid om hulle siele genadig te wees en hom sy rol in hierdie groot tragedie te vergewe.
Voordat Romeo gesterf het, het by die silwer trouring van Juliet se hals afgehaal, die ring wat aan sy moeder behoort en wat hy gehoop het 'n einde sou maak aan die twis tussen die twee families, die ring wat hy aan Juliet as haar trouring gegee het. En toe, net voordat hy sterf, steek Romeo die ring aan Juliet se vinger sodat die hele wêreld kan sien dat hulle getroud is, dat hulle man en vrou is.
Maar wat hy nie geweet het nie en miskien eers in die hemel uitgevind het, is dat 'n trouring nie genoeg is om 'n einde aan die bitter twis te maak nie. Juliet moes sterf, en Romeo en Paris en vroeër ook Tybalt en Mercutio voordat daar vrede tussen die twee families sou kom.
Maar nou is die twis eindelik verby. Die oppaster en die priester vertel wat gebeur het en daar in die maanlig by die grafkelder steek die Prins van Verona sy arms na die twee ou mans, Capulet en Montague uit en hulle word versoen. Hulle omhels mekaar en belowe met 'n eed dat hulle voortaan in vrede met mekaar sal lewe ter herinnering aan hulle kinders.
Hierdie droewige verhaal leer vir ons om mekaar te vergewe en dat net die liefde die haat in die wêreld kan oorwin. Dit is nie maklik nie, maar die verhaal van Romeo en Juliet kan ons help om dit te doen.
EINDE