Bernard Miles
Lees reeks by Shakespeare in Afrikaans
Lank, lank gelede het daar in 'n klein dorpie in die hartjie van Warwickshire twee goeie vriende gewoon. Hulle was Peter Quince, 'n skrynwerker, en Nicholas Bottom, 'n wewer. Peter was die beste skrynwerker in die hele land en sy werk was wyd en syd bekend. Hy kon veral mooi huise bou met 'n raamwerk van eikehout wat volgens die gebruik van daardie tyd kunstig met pleister en messelwerk opgevul en te pragtig met patrone versier is. Peter moes sy gereedskap altyd vlymskerp hou want dit was nie maklik om met die harde eikehout te werk nie, en veral die laste in die raamwerk moes met groot sorg gemaak word. Maar Peter kon enige soort houtwerk doen, en hy het die laste so mooi gemaak dat dit gelyk het asof die hout sommer van die begin af so aanmekaar gegroei het.
Waar Peter 'n baie goeie skrynwerker was, was Bottom, op sy beurt, weer 'n uitstekende wewer. In daardie dae is alle kleedstof by die huis geweef en nie in groot fabrieke soos vandag gedoen word nie. En die dorp se wewer was net so 'n belangrike man soos die dorp se skrynwerker. Peter en Bottom was dus twee vername manne in die dorp na wie almal opgesien het.
Bottom was lank en sterk met rooi hare, 'n groot plat neus en 'n harde stem. Maar sy hande was soos dié van 'n vrou en sy vingers klein en kundig, en dit was 'n genot om te sien hoe hy die weefdraad voer en die rolle kleedstof opvou wat van die weefstoel afkom. Hy kon enige kleedstof weef wat die mense gevra het – karsaai of tafsy of damas of flanel of serge of veloer. Dit wys jou net watter goeie wewer Nicholas Bottom was.Op skool kon Peter baie goed lees. So goed dat as hy in een van die groot huise in die buurt moes gaan houtwerk doen, hy die huisbaas gevra het of hy in die etenstyd van die mooi boeke van die rak kan afhaal om te lees terwyl hy sy kaas en brood sit en eet. Nou moet julle onthou dat in die ou dae boeke natuurlik baie skaars en duur was, en onder die gewone mense in die dorp was daar seker nie meer as 'n halfdosyn boeke nie. En hierdie boeke was almal Bybels, of gebedeboeke, of boeke oor grammatika of wiskunde. En dit wou Peter nie juis lees nie; hy wou stories lees oor avonture, veral oor die helde van die ou tyd van duisende jare gelede.
Peter was so vriendelik en so 'n goeie skrynwerker en sy hande was altyd so mooi skoon dat die huisbaas glad nie omgegee het dat hy 'n boek leen om te lees nie. Dan het Peter 'n volle uur lank gelees van die ontdekkingsreise van die groot seevaarders, van die Romeinse edelmanne en van die legendes van die groot gode en die helde wat sulke wonderlike dinge in die ou tyd gedoen het, baie wonderliker dinge as wat ooit in Warwickshire gebeur het; van mense van vervloë dae wat hulself in diere kon verander en teen afgryslike monsters baklei het en berge op hulle skouers rondgedra of sommer met ander mans se vrouens gelol het. Dit wou Peter darem nie doen want hy was glad te lief vir sy eie vrou. Nietemin, hy het daarvan gehou om te lees wat die helde en gode en godinne van die ou tyd in hulle vrye tyd gedoen het, en hy was soms so verdiep in wat hy gelees het dat hy skoon vergeet het om sy brood en kaas te eet! En wanneer hy saans tuiskom, het hy natuurlik die stories oorvertel aan sy goeie vriend Bottom, en Bottom het net so baie van die stories gehou.
Dit was nie lank nie of die ander mense in die dorp het gehoor dat Peter hierdie wonderlike stories lees en vir sy vriend Bottom daarvan vertel as hulle saans tussen die gereedskap en saagsels in Peter se werkswinkel sit, en gou het die dorpmense gevra of hulle ook na die stories kan kom luister.
Snug was die eerste een wat gekom het. Hy was ook 'n soort skrynwerker maar sy werk was baie fyner as Peter s'n. Snug het tafels en stoele gemaak, en spiraal-trappe en pragtige panele waarmee die rykes hul huise versier het. Hiervoor het Snug spesiale gereedskap soos skawe en beitels gebruik en die hout net soos gevoude kleedstof laat lyk, kompleet soos dié wat Bottom geweef het.
Snug het een aand aan die deur van die werkswinkel kom klop. Peter het hom genooi om op die saagbank te kom sit, en toe sy vrou, Betsie, die bier bring, het hy vir haar gevra om nog 'n beker te gaan haal sodat hy vir Snug ook 'n bietjie bier kon skink. En oplaas moes Betsie ses bekers en 'n groot fles bier gaan haal want nie minder nie as nog drie ander mense het kom vra of hulle na die stories kan luister wat Peter vertel.
Een van hulle was Flute. Flute het blaasbalke reggemaak. In hierdie tyd van lank gelede waarvan ek julle nou vertel, het die mense die vuur in die huis die hele nag laat smeul en dit soggens weer laat opvlam met 'n blaasbalk wat aan 'n spyker langs die vuurherd gehang het.
Nog een wat kom vra het of hy na Peter se stories kan kom luister, was Snout, die blikslaer. Snout het potte en panne en ketels gemaak van koper en metaal wat hy met sy gereedskap in allerhande vorms gebuig het. Sy ketels was in die hele dorp beroemd, en ook ver daarbuite. As jy een van die Snout se ketels gehad het, was jy regtig 'n vername man. Die mense het altyd gesê: "Ek sien jy het een van Snout se ketels", en dan kon jy antwoord: "Ja, hy het dit spesiaal vir my gemaak." Snout se ketels was groot en klein, van een pint tot tien, en hulle deksels het net so mooi gepas soos 'n voël in sy nessie.
Die laaste een wat gekom het, was Starveling, die kleremaker. Hy was twee-en-sewentig jaar oud en het net oog gehad. En daardie oog was boonop kleurblind. As Starveling vir jou 'n broek gemaak het, kon dit maklik gebeur dat die pype van verskillende kleure was want sedert sy vrou se dood baie jare tevore het hy niemand gehad om hom reg te help as hy 'n fout met die kleure maak nie en moes hy maar self sien en kom klaar. En die jig in sy regterhand het hom so gepla dat hy skaars reguit kon knip, en sy maatlyn was al so oud dat niemand meer kon lees wat daarop staan nie. Maar tog het almal van Starveling gehou; buitendien, wat maak dit saak as jou broekspype nie dieselfde kleur is nie, solank jy net 'n broek aanhet om jou warm te hou!
Nou het vyf van Peter Quince se bure in die skemerdonker van die werkswinkel kom luister na die stories wat hy van die outyd en die verre Griekeland vertel; van Hercules, die sterkste man wat ooit geleef het; van Daedalus wat sy seun, Icarus, leer vlieg het; van Jason en die Goue Vag en, beste van almal, die storie van Theseus wat die afgryslike Minotaurus doodgemaak het.
Die storie van Theseus was eers vir hulle die mooiste van al die stories en hulle het Peter gevra om dit oor en oor te vertel, veral die stuk oor die Minotaurus wat die lyf van 'n sterk man en die kop en skouers van 'n bul gehad het en wat op die eiland Kreta in 'n spelonk met ontelbare doolhowe en gange gewoon het. (Dit was baie maklik om daar in te gaan maar byna onmoontlik om ooit weer uit te kom as jy eers daarbinne was.)
Griekeland is deur Kreta in 'n oorlog verslaan en as straf moes die Grieke elke jaar sewe jongmanne en sewe jongmeisies na Kreta stuur om in die spelonk gegooi te word sodat die Minotaurus hulle met sy sterk arms kon dooddruk. So het dit baie, baie jare lank aangegaan en elke jaar het die Grieke bitterlik gehuil as hulle afskeid neem van die sewe jongmanne en die sewe jongmeisies wat nooit, nooit weer teruggekom het nie.
Maar eendag het Theseus, die jong koning van Griekeland, besluit om hierdie afgryslike monster dood te maak. Dit is hoe hy dit gedoen het: hy het aangebied om met die ses ander jongmanne en die sewe jongmeisies saam te gaan en het 'n dolk onder sy mantel weggesteek. Toe die veertien jongmense in die spelonk kom, het die dapper Theseus vooruitgeloop en die minotaurus gaan soek. En toe hy die monster kry, het hy sy dolk vinnig uitgepluk en sy keel afgesny sodat die hele wêreld rooi van die bloed was en die Minotaurus op die plek dood neergeslaan het. Nou was die Grieke weer vry en hulle hoef nie meer elke jaar veertien van hul mooiste jongmense te stuur om deur die Minotaurus vermorsel te word nie. Peter het ook vertel dat Theseus na Griekeland teruggegaan en 'n leër van oorlogsugtige meisies wat hulself die Amazone genoem het, oorwin het en met hul pragtige koningin Hippolyta, getrou het.
Maar toe kom daar een storie waarvan hulle nog meer gehou het as van die avonture van Theseus, en dit was die storie van Pyramus en Thisbe. Hierdie storie het nie 'n monster of 'n opwindende geveg of 'n koning gehad wat as held teruggekom en met 'n ander koningin getrou het nie. Dit was 'n eenvoudige storie oor die liefde, 'n storie wat elke dag in enige dorpie gebeur. Al verskil is dat sulke stories gewoonlik gelukkig eindig en Peter se storie nie.
Pyramus en Thisbe het langs mekaar in die Athene van lank, lank gelede gewoon. Hulle mekaar liefgehad en wou trou. Maar hulle ouers was kwaaivriende en het hulle verbied om mekaar te sien. Hulle kry toe 'n klein krakie in die muur tussen hulle slaapkamers waar die houtwerk gekrimp en die pleister gebars het. En deur hierdie barsie het hulle vir mekaar gefluister terwyl hulle ouers slaap en gesê hoe lief hulle mekaar het, hoe graag hulle mekaar se hande wil vat, mekaar wil soen, en hoe graag hulle as man en vrou saam wil wees. Hulle het toe maar soentjies gestuur en hul vingers in die barsie ingedruk sodat net hul vingerpunte raak en hulle die opwinding smaak wat ons almal ervaar wanneer ons aan iemand raak vir wie ons baie liefhet. Pyramus en Thisbe het gevoel hulle behoort aan mekaar.
Maar oplaas kon hulle dit nie meer uithou nie en hulle besluit om tot een maanlignag te wag wanneer hulle ver weg sou gaan en met mekaar sou gaan trou. As hulle eers getroud is – so het hulle gedink – sal hulle ouers maar tevrede moet wees en dit aanvaar. Hulle beraam toe 'n plan wat hulle saggies vir mekaar deur die krakie in die muur fluister. Hulle sou in die nag by die huis uitsluip en mekaar ontmoet in die kerkhof by die graf van die ou man, Ninus, wat jare gelede dood is. Daarvandaan sal hulle weggaan na 'n ver, ver stad en daar trou sonder dat enige iemand daarvan weet, en vir altyd gelukkig saamwees.
Thisbe het eerste gegaan. Sy het saggies met die trap afgesluip en stilletjies die grendel van die agterdeur afgehaal. Sy het 'n mantel omgehad want die nag was koud, en om haar kop het sy 'n wit sydoekie gedra sodat Pyramus haar in die donker kon sien. Sy het van skaduwee tot skaduwee in die stil agterstraatjies beweeg en sommer gou by die kerkhof uitgekom Maar net toe sy by die graf van die ou man Ninus kom, loop sy haar vas in 'n honger leeu wat die nag uit die bos in die dorpie kom kos soek het. Thisbe skrik toe so groot dat sy omdraai en weghardloop en die wit sydoekie in die paadjie agter haar laat val om die leeu se aandag af te lei sodat sy veilig kon wegkom. Sy kom uitasem by die hut van die grafgrawer aan en maak die deur styf agter haar toe.
Die leeu het vreeslik gebrul maar opgehou toe hy Thisbe se sydoekie in die pad sien lê. Uit pure nuuskierigheid staan hy stil. Hy ruik daaraan, krap dit liggies met sy poot rond en tel dit toe met sy bek op en skeur dit aan flarde voordat hy verder agter Thisbe aanhardloop. Die sydoekie het vuil en verskeurd in die voetpaadjie bly lê. Toe die leeu by die hut aankom, is Thisbe reeds veilig binne en het sy die deur al styf toegesluit. Die leeu moes teleurgesteld omdraai en sy aandete iewers anders gaan soek.
'n Rukkie later kom Pyramus ook by die kerkhof aan, en wat sal hy tot sy ontsteltenis sien? Daar voor hom op die grond lê Thisbe se sydoekie, vuil en verskeurd, en Thisbe self is nêrens te sien nie. Die arme Pyramus het die leeu hoor brul en hy is seker dat die leeu sy geliefde Thisbe verskeur het. En dit is alles sy skuld want hy, Pyramus, het haar omgepraat om die huis alleen in die middel van die nag te verlaat.
Pyramus tel die verskeurde sydoekie op en soen dit, en die trane rol oor sy wange as hy dink aan die wrede dood wat sy beminde gesterf het. En al manier waarop hy daarvoor kan vergoed, is om self ook te sterf. Hy trek sy swaard uit en met die "Thisbe, my liefling, ek kom na jou toe", deurboor hy sy hart en val sterwend langs die graf van die ou man, Ninus, neer.
Nadat Thisbe seker gemaak het die leeu is weg, glip sy gou by die hut se deur uit en hardloop vinnig met die paadjie af, opgewonde oor haar ontmoeting met Pyramus wat haar tegemoet sal kom en in sy arms sal neem. Maar toe sy by die graf kom, sien sy Pyramus in 'n plas bloed lê met haar verskeurde sydoekie in sy hand vasgeklem en die swaard waarmee hy homself doodgesteek het langs hom op die grond.
Dit dring stadig tot Thisbe deur wat gebeur het. Toe Pyramus haar sydoekie langs die graf sien lê het hy natuurlik gedink dat die leeu haar verskeur en weggedra het, en in sy leed het hy sy swaard uitgetrek en sy eie lewe geneem. Nou voel Thisbe ook dat dit nie die moeite werd is om meer te lewe nie. Sy tel die swaard op en deurboor haar eie hart daarmee en stort sterwend op sy warm liggaam neer terwyl sy haar lippe op syne druk en sy naam met haar laaste asem prewel.
Van al die stories wat Peter daar in die stilte van sy werkswinkel vertel het terwyl die maan by die oop venster inskyn, was hierdie een vir hulle die heel mooiste. En die een wat hulle die beste verstaan het. Die stories van die gode en godinne en die helde was ook mooi maar Pyramus en Thisbe het hulle aan hul jong dae laat dink toe hulle self die lief en leed van die liefde ervaar het. En hulle het Peter keer op keer gevra om vir hulle die storie weer te vertel.
Soms het Starveling vir hulle die storie vertel van Robin Goodfellow, die ondeunde kabouter wat net 'n entjie daarvandaan in die woud gewoon het. Hy het snag stilletjies die dorp ingesluip en 'n pint melk of 'n halfpond sout uit die spens gegaps, en as die huismense die volgende oggend in die kombuis kom was die hele huis netjies aan die kant gemaak, uitgevee en afgestof, die potte en panne blink geskuur en op die kaggelrak het die koper kersblakers soos goud geskitter, want Robin het nooit iets geneem sonder om daarvoor te werk nie. Die mense vertel glo dat hy en al die ander Engelse kabouters familie is van die mense wat honderde jare gelede in die woude weggekruip het toe die Romeine en Saksers na Brittanje gekom het en dat hulle geleidelik kleiner en kleiner geword het, want daar was nie sout in die woud nie en dit is sout wat 'n mens laat groei. Dit is daarom dat hulle elke nag 'n bietjie sout in die huise naby die woud kom steel.
Hierdie kabouter se regte naam was Robin Goodfellow, maar hy is kortweg Puck genoem Puck was 'n ondeunde maar vriendelike kabouter en as hy in die nag na jou huis toe kom, is jy vir 'n hele jaar gelukkig. Party mense het 'n kommetjie melk en 'n halfpond sout voor die agterdeur neergesit in die hoop dat Puck na hulle huis toe sal kom. Puck was een voet vier en 'n driekwart duim lank en het 'n spitshoedjie gedra wat gemaak is van die blare van die berkeboom en met klein sedertakkies aanmekaar gehou is en sy klere was gemaak van lappiesgoed wat hy snags uit die mense se kaste geneem het: lappies afkomstig van ou verslete mantels, fyn dameskouse en onderrokke – als netjies aanmekaargewerk met sterk grashalms.
Flute het weer die storie vertel van Oberon en Titania, die koning en koningin van die feetjies wat lank voor die Romeine na Engeland gekom en in die woude van Warwickshire gaan woon het, want hulle moeg geword van die warm son in Indië en hulle het gehou van die pragtige landskap in Engeland waar daar bome en heinings en mooi veldblomme groei, en hier woon hulle nou al duisende jare lank. Puck was klein maar Oberon en Titania was nog baie kleiner, net drie 'n driekwart en twee en sewe agtstes duim lank (meet dit net met jou lineaal en jy sal sien hoe klein dit is!) en hulle het vriende gemaak met klein Engelse feetjies, Peaseblossom, Cobweb, Moth en Mustardseed en die kleinste, kleine Chickweed en het in hul eie feetjiedorp gewoon.
Hulle het 'n paleis gebou onder die knoesterige wortels van 'n groot berkeboom en daar het hulle saam met hul koning en koningin gewoon. In die winter het hulle die deure styf toegemaak en al die gate toegestop en gaan slaap om te wag vir die lente en die somer wat sou kom. Dan het hulle al die deure oopgemaak en uitgekom en op maanlignagte in towersirkels gedans terwyl hulle pragtige patrone vorm soos hulle kruis en dwars deurmekaar vleg in die maanlig, en hulle het hul handjies geklap en mooi lofliedjies vir hulle koning en koningin gesing.
So is daar aand vir aand stories vertel, maar veral die storie van Theseus wat die lewens van so baie mooi jong mans en jong meisies gered het deur die Minotaurus dood te maak, half mens en half dier daar ver in die spelonk op die eiland Kreta, voordat hy teruggegaan het huis toe en met Hippolyta, die beeldskone koningin van die Amazone gaan trou het. En om die aand af te sluit, vertel Peter altyd die eenvoudige storie van Pyramys en Thisbe, wat vir almal die mooste storie was. Dan het hulle die laaste bietjie bier gedrink, vir mekaar naggesê en huis toe gegaan.
In daardie dae was daar maar min teaters. Toneelspelers het van dorp tot dorp gereis om konserte te hou waar hulle ook al 'n geskikte plek kon vind, op die dorpsmeent, die markplein of selfs in die kerkhof. Hulle het meesal stukke uit die Bybel opgevoer, soos die storie van Adam en Eva en Kain en Abel en Noag se ark en Daniël in die leeukuil tot by die tyd van Jesus en sy dissipels en die wonderlike dinge wat Hy by die See van Galilea gedoen het deur mense gesond te maak en te leer. So kon 'n mens baie van die Bybel leer, deur na toneelstukke te gaan kyk.
So het daar eendag 'n klompie toneelspelers aangekom in die dorp waar Peter en Bottom en hul vier vriende gewoon het. Hulle het 'n platform gemaak van planke en leë vate en daarop konsert gehou en al die mense van die dorp het na die opvoering kom kyk. Die toneelspelers het hul goed van hul taak gekwyt, maar Nick Bottom het gedink dat hy en Peter en hul vier vriende beter kan doen as hulle hul eie toneelstuk kan maak, veral van een van Peter se stories. Hulle ken tog die Bybelstorie. Al die mense van Engeland ken dit. Maar min mense ken die stories van die Grieke, die wonderlike stories van mense wat gelewe het lank voordat Jesus gebore is. Dit moet 'n eenvoudige storie wees want hulle is almal nog beginners en kan beswaarlik lang stukke uit die kop uit leer. Daar moet ook nie baie karakters in die toneelstuk wees nie want daar is net ses van hulle en niemand sal meer as een rol wil speel nie. Maar hulle het reeds die storie gekry, die storie waarvan almal so baie hou, die storie van Pyramus en Thisbe. Die storie is maklik genoeg. Al probleem was om van die storie 'n toneelstuk te maak. En dit is moeilik. Peter sal dit moet doen. Hy lees en skryf die beste en hy sal net so 'n goeie toneelstuk kan maak soos enigeen wat hulle al gesien het.
Peter spring aan die werk...vervolg