Lees reeks by GEBEDEBOEK VIR DIE BOEREVOLK
Ds.Andrè van den Berg
DANKGEBED VIR VERGIFNIS
Here, as dit nie vir U wonder van sondevergifnis was nie, sou ek beslis die hel beërwe het. Ek het meer as genoeg in my lewe gesondig om ‘n ewige dood as straf te ontvang! Desnieteenstaande vergewe U eerder as om te straf en wil U sondaars eerder in die hemel as in die hel sien.
U vergifnis is so soet vir my siel dat dit heuning smaakloos sal laat. Laat dit vir my nog soeter wees om mense te vergewe wat verkeerd teenoor my optree soos wat U my in u Woord leer bid. Dankie dat vergifnis die wortel van u liefde is en vergifnis die blom daarvan.
Ek is so dankbaar dat u vergifnis groter as my sonde is en dat U van my, wat ‘n slaaf van die sonde was, u kind gemaak het. Ek wil nooit aan u vermoë om die grootste van alle sondes te vergewe, twyfel nie. As daar vir ‘n geharde misdadiger op Golgothaheuwel vergifnis was, hoeveel te meer is daar nie vir my nie!
Wat ‘n vreugde was dit nie vir my om my sondes in u bloed te sien wegraak nie! U vergifnis is so omvangryk dat ek eerder daarin sal slaag om die see van elke druppel water te ontneem as om vergifnis uit te put. Dis so omvangryk dat bloed elke piek van skreiende sonde bedek.
Dankie dat ek deur die werking van die Heilige Gees my sonde in u Teenwoordigheid ontdek en deur u wonderbare vergifnis van die mag daarvan ontslae geraak het. Laat sonde nooit weer heerskappy oor my voer nie. Gee my krag en genade dat ek dit met u krag en genade sal beveg, oorwin en soos ‘n monster sal neervel.
Ek is so oneindig dankbaar dat op grond van die vergifnis wat ek van U ontvang het, Satan my nooit van my redding kan ontneem nie. Daarom werp ek al my sorge en laste op U en verlaat my vir tyd en ewigheid op u genade en troue liefde.
Amen.