GEBED OM BEROU OOR SONDE

GEBEDEBOEK VIR DIE BOEREVOLK (5)

Lees reeks by GEBEDEBOEK VIR DIE BOEREVOLK

Ds.Andrè van den Berg

Here Jesus, wat ‘n duur prys het U nie vir die sonde betaal nie! Dit het U ‘n doringkroon op die hoof, spykers deur die hande en voete en die dood besorg! Wanneer ek sondig, kruisig ek U as’t ware opnuut. Deur my oortredings laat ek U aan ‘n kruis hang en met my ongeloof deurboor ek u sy. Verlos my van hierdie hel in sy embriovorm!

Terwyl ek dikwels liefdeloos, eiegeregtig en harteloos is, is U liefdevol, barmhartig en oneindig teer. Ek is so geneig om van die kwaad boek te hou, terwyl U my telkens vergewe.

Keer my óm sodat sonde vir ‘n slag my hart breek soos wat dit u s’n breek. Verwond my dat ek gesond kan word en elke sonde, hoe gering dit ookal mag wees, vir my veronterend sal wees omdat dit teen ‘n liefdevolle God gepleeg word.

My Vader, as ek nie met ‘n gebroke hart na U kan kom nie, dan vra ek vir een.  Indien ek nie met geloof na U kan kom nie, dan kom ek daarvoor. Ek besef al te goed dat ek nie van my sonde verlos kan word indien ek daaraan bly vasklou nie. Verbreek die greep van sonde in my en maak my bang om teen U te sondig omdat geen sonde die moeite werd is om voor in die hel te beland nie!

Sonde is soos plofstof in die arsenaal van my hart. Dit saai verwoesting en vermenigvuldig soos die voëls van die hemel en die visse van die see. Dit deurtrek die mens soos sout elke druppel van die see sout maak. Ontsout my Here, dat ek bruikbaar vir u Koninkryk kan wees!

Dankie dat U die Heilige Gees gebruik om my van sonde te oortuig. Sonder berou daaroor sou ek U nooit  as Verlosser leer ken het nie. U het vir my oë gegee om eerstens mee te sien en om tweedens mee te huil. Laat ek derhalwe my sonde sal raaksien en daaroor ween. Hoe meer ek U liefhet en berou oor sonde het, hoe soeter sal dit vir my siel wees. Laat my altyd blydskap in my berou ervaar.

Kasty my, Here, as dit my net van sonde sal weghou en laat my nooit rustig slaap as my sondes my nie vergewe is nie. Laat ek my gees nooit die skade aandoen deur te weier om my sondelas  aan u voete neer te lê nie.

Amen