...MAAR HET JY HÓM LIEF?
Anita Joubert
“Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here” (Rom. 8:38-39).
Geloofsekerheid
Johannes, die geliefde apostel van die Here Jesus Christus, het geskryf: “Hierdie brief skryf ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo” (1 Joh. 5:13). Ons kan en ons mag geloofsekerheid hê en weet dat ons aan die Here Jesus behoort, want Hy het ons baie duur gekoop met sy bloed.
Die wonder daarvan dat God die mensdom oneindig lief het met ʼn Goddelike, onuitputlike liefde (Joh. 3:16), en dat Hy ons éérste liefgehad het, nog voordat ons nog enigsins sy liefde kon beantwoord (1 Joh. 4:9), het deur die afgelope tweeduisend jaar aan Christusgelowiges soveel gemoedsrus en vrede gegee, dat ons eintlik maar net in verwondering en dankbaarheid voor Hom kan kniel.
Wanneer ʼn persoon die Here Jesus as sy Verlosser leer ken het, vergifnis vir sy sonde ontvang het en in ʼn persoonlike verhouding met Hom staan, dan kán hy verseker wees van sy ewige redding. Ons redding is ʼn soewereine handeling deur ʼn almagtige God waarin Hy ons wedergeboorte laat beleef, reinig en vernuwe deur die kragtige werking van sy Heilige Gees (Tit. 3:5). Wanneer dít gebeur, dan gee God aan ons ʼn nuwe hart en ʼn nuwe gees (Eseg. 36:26), en ons word nuwe mense. Paulus skryf aan die Korintiërs: “Iemand wat aan Christus behoort, is ʼn nuwe mens” (2 Kor. 5:17).
Ons is vooruit bestem om geroep te word
Deur Paulus se woorde in Romeine 8:30, sien ons dat
God ons vooruit bestem het om geroep te word, sodat Hy ons kon vryspreek en aan ons heerlikheid kon gee (Rom. 8:30 NLV). Met ander woorde, God kies mense uit, nog voordat hulle gebore word en stel hulle aan vir ʼn baie spesifieke taak soos wat Hy vir die profeet Jeremia gesê het: “ . . . voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel” (Jer. 1:5). Daar is verskeie Skrifgedeeltes wat hierdie gedagte bevestig (Joh. 15:16; Ef. 1:5-11; e.a.). Daar is absoluut geen manier waarop sondige mense hulleself kan red nie. Ons redding is honderd persent deur God se oneindige genade. Paulus skryf aan die gemeente in Efese dat ons redding nie uit onsself is nie, en daarom kan ons nie op onsself trots wees nie (Ef. 2:8-9).
Daar is niks só gerusstellend nie, wanneer ʼn gelowige persoon aan die einde van sy of haar aardse lewe gekom het, as om te weet dat daar aan die anderkant van die dood, ʼn volmaakte lewe, tot in alle ewigheid, in God se hemel vir hom of haar voorlê. Die duiwel en sy medewerkers in die koninkryk van die duisternis, werk baie hard daaraan om kinders van God van hierdie voorreg om geloofsekerheid te hê, te besteel. Hulle kom fluister graag in ons ore, veral wanneer ons op ʼn swak en weerlose plek in ons lewens is, en vertel dan vir ons dat ons nie goed genoeg is vir God nie en nie kan verwag om hemel toe te gaan nie. Wanneer ons dit glo, kan ons in ʼn baie diep gat van ellende val – ʼn toestand wat ons selfveroordeling noem.
Die duiwel lieg graag vir ons, as ons dit toelaat
Dit is ʼn taktiek van die duiwel en sy demone om ons te laat dink dat ons onwaardig is en nie vergewe kan word vir ons verlede en sonde wat ons gedoen het nie. Wanneer ons ons sonde bely het en waarlik berou daaroor het en vergifnis gevra het, kan ons verseker wees daarvan dat ons sonde vergewe is en God nie meer daaraan dink nie. Dit is dan nodig om die Skrifgedeelte in Romeine 8:38-39 te onthou en te weet dat daar absoluut niks is wat ons kan skei van die liefde van God in Christus Jesus nie. Paulus skryf ook in dieselfde gedeelte in Romeine 8:33 “Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.”
Ons moet nooit vergeet dat die duiwel uiters vuil speel en tot die allerlaagste vlak denkbaar sal daal om ons lewens vir ons miserabel en ongelukkig te maak, wanneer hy ons nie saam met hom die ewige verdoemenis kan insleep nie.
Baie jare gelede het my ma my gevra om ʼn tannie van my, wat op sterwe was, te gaan besoek. My ouers het nie in Pretoria gewoon nie en my ma kon dit nie self doen nie. Die tannie, my pa se suster, was in ʼn versorgingseenheid in Arcadia, hier in Pretoria, en ek het belowe dat ek dit sal doen. As kind het ons dikwels by haar en haar man gaan kuier en ek het haar leer ken as ʼn vrolike, aangename mens met ʼn besondere liefde vir die Here Jesus Christus. Ek het in daardie stadium ʼn oggendwerk gehad en tussen skoolkinders rondry en ander verpligtinge, was my tyd taamlik beperk. Ek het dieselfde middag my Bybel gevat en gedink om dit so spoedig as moontlik te doen. Sommer so in die ry het ek vir die Here gevra wat ek vir haar uit die Bybel kan lees, en die woorde van Paulus in Romeine 8:38, het in my gedagtes opgekom. Lees gerus die hele gedeelte.
Toe ek by haar kom, het sy in ʼn opgetrekte bondeltjie gelê en hartverskeurend gehuil. Op my vraag wat dan nou verkeerd is, het sy gesê dat die Here Jesus haar nie meer lief het nie. Sy het Hom verniet haar lewe lank gedien. Hy het haar nie vergewe nie en dit is waarom sy so geweldig baie pyn het. In my het daar letterlik ʼn woede opgewel om te dink dat Satan so gemeen kan wees om ʼn sterwende ou mens, wat aan die Here behoort, se laaste ure in hierdie lewe so ondraaglik te maak. Ek het vir haar vertel dat die Here vir my gesê het om Paulus se woorde in Romeine 8:31-38 vir haar te lees, en in my gebed het ek Satan bestraf en gebind en beveel om van haar af pad te gee, in die Naam van Jesus Christus, ons Here en Verlosser. Toe ek klaar was, het sy haar kop opgelig en hard en duidelik gesê: “Toe Satan, jy het gehoor wat Anita gesê het. Weg is jy!” Nog nooit in my lewe het ek iemand se hele wese so vinnig sien verander nie. Sy was binne sekondes ʼn ander mens. Ek het nog ʼn rukkie by haar gekuier en sy het vir my foto’s van haar kleinkinders gewys en ons het heerlik gelag oor dingetjies wat sy my vertel het. Die volgende dag het my ma my gebel met die nuus dat sy oorlede is.
Hierdie gebeurtenis het my altyd bygebly en laat besef dat ons nóóit die vieslike werk van die duiwel en sy demone moet onderskat nie. Petrus waarsku ons nie verniet nie. “Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ʼn brullende leeu, op soek na iemand om te verslind” (1 Pet. 5:8).
Die Heilige Gees oortuig ons van sonde (Joh. 16:7-10)
Daar is ʼn groot verskil tussen selfveroordeling en ʼn sondebesef. ʼn Sondebesef is iets wat tot ons voordeel is en vind plaas wanneer die Heilige Gees ons bewus maak van iets wat ons gedoen of gesê het wat nie binne God se wil is nie en dat ons daarvoor vergifnis moet vra. Selfveroordeling vind plaas wanneer ons twyfel toelaat om vastrapplek te kry en dan begin glo dat ons nie vergewe kan word nie.
Ons moet onthou dat Paulus aan die Efesiërs geskryf het: “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle kan weerstand bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde gevoer het, nog op julle pos kan bly staan” (Ef. 6:12-13). Dit is hierdie stryd wat tot die einde toe gevoer moet word, wat so belangrik is. Jesus het gesê: “Maar wie tot die einde volhard, sal gered word” (Matt. 24:13). Uitverkiesing
ʼn Ander gebeurtenis wat my ook baie jare lank bygebly het, is toe ek met ʼn man gepraat het wat vas geglo het dat niemand kan weet of hy uitverkies is nie. In die begin van die negentigerjare, toe ons nog nie so gedwing was om in tronke te woon soos nou nie, het baie gemeentes wat Jesus se sendingopdrag in Matteus 28:19-20 ernstig opgeneem het, spanne gehad wat evangelisasiewerk gedoen het. Dit was maklik om in woonstelblokke in te gaan en aan mense se deure te klop en met hulle oor geloofsekerheid te praat.
So het ons een aand met ʼn man gepraat wat, nadat ek vir hom gevra het of hy seker is dat hy hemel toe sal gaan wanneer hy eendag sterf, vir my gesê het dat niemand seker kan wees nie. Jy kan maar doen wat jy wil, as jy nie uitverkies is nie, dan sal jy nie gaan nie. Ek was verstom dat iemand met soveel onsekerheid kan leef en het vir hom ons geliefkoosde EE3-teksvers aangehaal, waar die apostel Johannes aan die verskillende gemeentes, vanuit Efese, geskryf het: “Hierdie brief skryf ek aan julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo” (1 Joh. 5:13).
Dit was vir die man ʼn splinternuwe gedagte, want volgens hom, het hy grootgeword in ʼn denominasie wat baie sterk op die uitverkiesing staan en daar is vir hulle geleer dat niemand kan weet of hy uitverkies is of nie.
Met ons vertrek daardie aand, het hy opsigtelik meer positief en opgewonde gelyk oor sy verhouding met die Here Jesus, as toe ons daar aangekom het.
Een van die beste verduidelikings van uitverkiesing wat ek nog ooit gehoor het, was dié van ʼn predikant in ʼn gemeente waar ons lidmate was. Ons dogter en van haar hoërskoolvriendinne het daaroor gepraat en toe die predikant een aand by ons kom huisbesoek aflê het, het sy hom daaroor uitgevra. Hy het gesê dat hy glo dit is soos wanneer die hele wêreld se mense in ʼn baie, baie diep sloot is, waaruit niemand self kan uitkom nie. God steek sy hand uit om ons daaruit te haal, maar baie wil nie sy hand vat nie. Omdat God alwetend is, weet Hy reeds in sy voorkennis wie sy hand gaan neem om uit die sloot gehelp te word. Hy wil egter graag hê dat elke mens sy hand moet vat (2 Pet. 3:9).
Ons móét ʼn keuse maak
Dit is baie interessant dat Lukas in Handelinge 13:48 spesifiek sê dat almal wat vir die ewige lewe bestem is, gelowig geword het. Hulle is dus nie net bestem en uitgekies vir die ewige lewe nie, hulle het ook gelowig geword.
Regdeur die Bybel is dit baie duidelik dat ons ook ʼn rol het om te speel – ons móét ʼn keuse maak, ons sonde bely en laat staan, na God toe draai en volhard in ons geloof. Petrus het in sy toespraak in Handelinge 3 aan die mense, wat in groot getalle gekom het om na hom en Johannes te luister, gesê: “Daarom, bekeer julle en kom tot inkeer. Dan sal God julle sondes uitwis” (Hand. 3:19). ʼn Paradoks of teenstelling in die Bybel
Hierdie paradoks of teenstelling in die Bybel, is amper soos om na ʼn muntstuk te kyk. Enige muntstuk het twee kante, maar dit bly dieselfde muntstuk. Dit hang net af van watter kant af ʼn mens daarna kyk. Ons moet nooit vergeet nie dat Paulus vir Timoteus geskryf het dat die hele Bybel deur God geïnspireer is en groot waarde het en vir ons gegee is om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ʼn regte lewenswyse te kweek. (1 Tim. 3:16).
Ons kan onmoontlik net die helfte van die Bybel gebruik en daarop ʼn hele leerstelling bou.
Twee kante van dieselfde muntstuk
Die twee kante van hierdie selfde muntstuk het in die afgelope klompie jare in twee afsonderlike leerstellinge ontwikkel wat baie groot onenigheid en verdeeldheid tussen gelowiges, predikers en gemeentes veroorsaak het. Dit het eintlik in so ʼn lelike debat ontaard, dat sommige predikers begin dink het hoe harder hulle kan skree en die ander as vals predikers kan etiketteer en beledig, hoe beter sal hulle gehoor word.
Een maal gered, vir áltyd gered?
Een klomp verkondig met groot oortuiging dat as jy een maal gered is, is jy vir altyd gered. Daar is geen manier waarop jy dan ooit weer verlore kan gaan nie, al doen jy ook wat. Ek het selfs gehoor dat ʼn prediker in ʼn preek sê, omdat Jesus ons só lief het, gee Hy glad nie eers om as ons terugval in ons geloof en sonde doen nie.
Hy gee verséker om; dit is waarom Hy vir ons aan ʼn kruis kom sterf het, sodat Hy ons kan vergewe wanneer ons berou het en om vergifnis vra. Die apostel Johannes skryf in sy brief: “Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid” (1 Joh. 1:9). Lees gerus die hele 1 Johannes 1. Dit is baie treffend.
Die skrywer van die brief aan die Hebreërs stel dit baie duidelik dat, wanneer ons opsetlik bly sondig nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offer meer wat ons sondes kan wegneem nie (Heb. 10:26).
Ek het ʼn video van ʼn preek gesien waar ʼn man vir sy gemeente probeer illustreer het dat niemand ons uit God se hand kan ruk nie. Sy standpunt was gebaseer op die Here Jesus se woorde in Johannes 10 waar Hy gesê het dat niemand een van sy skape uit sy hand sal ruk nie (Joh. 10:29 b). Die prediker het ʼn jong seun na vore geroep, sy hand vasgevat en vir die seun gesê dat hy moes probeer om los te kom. Die seun het geruk en gepluk, maar die prediker het styf vasgehou, terwyl hulle twee letterlik al om die preekstoel gedans het en die prediker aanhoudend geskree het: “Toe, los nou my hand! Sien jy, jy kan nie!” Die gemeente het heerlik gelag en ek het gewonder hoeveel lidmate het huis toe gegaan met ʼn vals gerustheid en heerlik aan die slaap gesus, en het rustig voortgegaan met hulle ou skelm sondetjies wat hulle tog só geniet. Ek wonder wat gaan so ʼn prediker eendag vir die Here Jesus sê wanneer hy besef hoeveel kosbare geleenthede hy verspeel het?
Die prediker het nooit vir sy gemeente die verse vóór vers 29 gelees nie. Daar sê Jesus in vers 27 dat sy skape sy stem kén, Hom volg en lúíster na sy stem. In Johannes 14:21 sê Jesus: “Wie my opdragte het en dit uitvoer – dit is hy wat My liefhet.” In vers 24 stel Hy dit weer net andersom: “Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie.”
Ons is verseker nie ʼn klomp marionette of lappoppe wat rondgeruk gaan word in ʼn poging van God om ons in sy hand te hou, as ons nie daar wíl wees nie. Die Bybel is net eenvoudig te duidelik daaroor dat ons ʼn keuse en ʼn vrye wil het of ons God wil dien, of nie. Lees dit gerus self. (Jos. 24:15; Matt. 7:13-14; Gal. 5:13; Gal. 6:7; Spr. 3:5-6; Deut. 30, die hele hoofstuk; Op. 3:20).
Omdat God ons baie lief het, sal Hy verseker baie moeite doen deur ʼn persoon se lewensomstandighede só te skik dat hy of sy na Hom toe sal terugdraai, veral as daar iemand is wat ernstig vir daardie persoon bid.
ʼn Dekmantel om losbandig te lewe
ʼn Hele klompie jare gelede het ons seun vir my gevra of ek asseblief hulle huis sal gaan oopsluit vir ʼn man wat herstelwerk aan hulle wasmasjien moes gaan doen. Dit sou nie baie lank neem nie en ek moes daar wag totdat hy klaar is en dan weer die huis toesluit.
Ek het gou agtergekom dat ek met die man oor die Here kan gesels en hy het vir my vertel dat hy onlangs ʼn mannekamp bygewoon het wat vir hom baie beteken het. Hy was gou klaar met wat hy moes doen en net voordat hy weg is en ek weer kon toesluit, het hy vir my gevra of ek weet dat ʼn mens uit gees, siel en liggaam bestaan. Daarmee kon ek saamstem, want ek het geweet dat Paulus, toe hy aan die gemeente in Tessalonika geskryf het, vir hulle gebid het dat God hulle na gees, siel en liggaam sal bewaar (1 Tess. 5:23).
Die man het toe voortgegaan en met groot oortuiging vir my probeer vertel dat, wanneer ʼn persoon se gees wedergebore is, dit niks met sy liggaam te make het nie en dat ʼn mens met jou liggaam kan doen wat jy wil. Jy kan maar sonde doen met jou liggaam, want dit raak nie jou wedergebore gees nie. My mond het letterlik oopgehang van verbasing. Dit was die eerste keer in my lewe dat ek só ʼn redenasie gehoor het.
Die man het nog verder gegaan en gesê dat ek maar net in die Bybel kan gaan kyk. Na die kruisiging lees ons nêrens weer van enigeen wat gestraf is vir sonde nie, want Jesus het al ons sondes op Hom geneem toe Hy gekruisig is. Ek kon nie my ore glo nie, want ek het in ʼn Christenhuis grootgeword en van kleintyd af geleer dat sonde nou die één ding is waarteen ʼn mens moet waak met alles wat in jou is. Ek was geïrriteerd met sy stories en haastig om by die huis te kom en het die gesprek kortgeknip.
Die volgende oggend, toe ek gaan sit om stiltetyd te hou, en ek weer oor alles nadink, het ek vir die Here gesê dat dit tog sekerlik ʼn klomp nonsens is wat die man kwyt geraak het. My Bybel het, toe ek hom oopmaak, letterlik omtrent vanself, oopgeval by Handelinge 5:1-11 waar ons lees van Ananias en Saffira wat dood neergeslaan het omdat hulle vir die Heilige Gees gelieg het. Hulle twee was ʼn egpaar, lidmate van die eerste gemeente, bewus van die wonderwerk van Petrus en Johannes se vrylating uit gevangenskap (Hand. 4:23). Hulle het sekerlik ook saamgebid toe die plek waar hulle bymekaar was, geskud het en almal met die Heilige Gees vervul is (Hand. 4:31). Tog kies hulle, en besluit saam, om ʼn leuen te vertel.
Ek kon my oë nie glo nie, en het gewens dat ek die vorige middag al daaraan gedink het. Ek het in my gebed vir die Here gevra om, as dit sy wil is, die man weer oor my pad te bring.
Letterlik net die volgende week, gaan ek gou na my dogter toe, wat in heeltemal ʼn ander woonbuurt gewoon het, en toe ek in haar kombuis kom, staan daar ʼn man aan haar yskas en werk. Hy kyk om en weer eens kon ek my oë nie glo nie! Dieselfde man! Wat is die kans?
Ek het dadelik vir hom gesê dat ek vir die Here gevra het om hom weer oor my pad te bring, sodat ek vir hom kon sê dat hy skoon van Ananias en Saffira vergeet het.
Onnodig om te sê: sy oë het groot gerek en die skroewedraaier in sy hand, waarmee hy besig was om ʼn skroef agter die yskas vas te draai, het kletterend op die vloer geval.
Vervolg...