Anita Joubert
Wat is die loon wat ons in die hemel gaan ontvang?
In Grieks is daar twee woorde vir kroon. Die eerste is diadēma, wat ‘n koninklike kroon beteken. Die woord wat egter in die Bybel gebruik word vir die krone wat aan gelowiges gegee gaan word, is stefanon. Dit beteken eintlik iets soos ‘n lourierkrans wat te doen het met vreugde en oorwinning.
Die Griekse woord bema, wat in 2 Korintiërs 5:9 gebruik word en in ons Bybels vertaal is met ‘regterstoel’ of ‘regbank’, het eerder amper meer die betekenis van ‘n plek waar daar erkenning gegee gaan word vir prestasies as wat dit ‘n plek van oordeel is. Dit is dieselfde woord wat die Grieke gebruik het vir die plek waar die atlete wat gewen het tydens die Olimpiese Speles, hulle medaljes of lourierkranse ontvang het.
Ons lees in die Bybel van vyf soorte kranse wat gelowiges as loon van Jesus gaan ontvang. Daar mag dalk nog heelwat meer wees, maar dit is al waarvan ons weet. Of sommige mense meer as een gaan ontvang, dit weet ons ook nie. Al wat ek weet, is dat dit ‘n ontsettende groot voorreg gaan wees om Jesus in sy oë te mag kyk, die woorde: “Mooi so, jy was getrou!” uit sy mond te hoor en iets so besonders uit sy hand te mag ontvang.
- Oorwinningskroon of die kroon van die lewe. In vers 16 gaan Paulus voort deur te sê dat ons as gelowiges die tempel van God is en dat die Gees van God in sy tempel woon. God se tempel is immers heilig en as iemand die tempel van God skade aandoen, sal God daardie persoon ook skade aandoen. Ons behandel hierdie tempel wat God aan ons gegee het, dikwels op so ‘n manier dat die Eienaar en Inwoner daarvan, die Heilige Gees, liewer wegvlug, want Hy kan dit nie aanskou nie.
- ‘n Ewige prys, naamlik die ewige lewe. Sommige vertalings praat ook van ‘n onverwelklike krans (Onthou dat ons hier die beeld van ‘n lourierkrans het wat met blomme en takkies gemaak is, maar hierdie krans gaan vir altyd mooi bly (1 Kor. 9:25).
- ‘n Herderskrans of die onverwelklike krans van heerlikheid (1 Pet 5:2-4). Hierdie krans word baie spesifiek belowe aan herders wat die skape van God, wat aan hulle toevertrou is en oor wie hulle moes toesig hou, goed opgepas het. Hulle moes dit nie uit dwang gedoen het nie, en ook nie om hulleself te verryk nie, maar omdat hulle graag in diens van God wou staan.
Ek het al dikwels gewonder of ouers, aan wie die Here sulke kosbare wesentjies soos kinders toevertrou het, ook vir hierdie krans sal kan kwalifiseer. In Psalm 127:3 sê Salomo kinders is geskenke van God wat aan ons gegee word. Hoe dikwels vergeet ons as ouers van hierdie groot verantwoordelikheid wanneer ons aan ons eie belange begin dink. Paulus waarsku ons daarteen in Filippense 3:4 waar hy sê julle moet nie net elkeen aan julle eie belange dink nie, maar ook aan die van ander. (Dink ons aan ons kinders se belange wanneer ons besluite in ons huwelike neem?)
4. ’n Onverganklike oorwinnaarskrans vir gehoorsaamheid (2 Tim. 4:7-8). Paulus skryf hierdie brief aan Timoteus aan die einde van sy eie lewe en hy weet dat sy dood naby is. Hy voel dat hy die goeie stryd gestry het, dat hy die lewenswedloop voltooi het en dat hy gelowig end-uit volgehou het. Hy sê in vers 8, nou wag sy prys vir hom: die lourierkrans vir ‘n lewe in gehoorsaamheid wat die Here, die regverdige Beoordelaar, vir hom sal gee.
5. ’n Erekrans (of ook ‘n sielewennerskrans genoem) (1 Tes. 2:19; Dan. 12:3). Paulus skryf hier aan die gemeente in Tessalonika en hy is so bly en dankbaar omdat hy hoor dat hulle nog op die regte pad is. Hy wou hulle graag besoek, maar Satan het hom verhoed. Hy troos homself egter met die wete en vooruitsig, dat wanneer hy voor Jesus se regterstoel gaan staan, ook hierdie gemeentelede daar sal wees en dit sal sy erekrans sal wees wat hy gaan ontvang.
Vervolg...