DIE BYBEL EN EWIGE LOON (1)

Anita Joubert

Een van die mees treffende boeke oor hierdie onderwerp wat ek nog ooit gelees het, is dié van ‘n baie bekende Amerikaanse skrywer, John Bevere, Driven by Eternity. Sy standpunt is dat elke mens met die begrip van ewigheid in ons harte gebore word. Niemand van ons wil graag daaraan dink dat die lewe hier op aarde al is wat daar is nie en dat ons nie na ons dood nog gaan voortbestaan nie. In Jesaja 43:13 sê die Here: “Nou en vir altyd is Ek God. Niks kan by My weggevat word nie. Wat Ek doen, kan niemand verander nie.” (Die Boodskap)

Hy is dus die God van gister, vandag en more, en is van altyd af al daar en gaan tot in alle ewigheid nog steeds daar wees. Ek het een keer ‘n onvergeetlike illustrasie in die vorm van ‘n video gesien. ‘n Man het met ‘n stuk tou in sy hand gestaan, maar mens kon nie die einde daarvan sien nie.

Dit het by die deur van die vertrek uit gelê en net eenvoudig aangehou en aangehou. Die stukkie in sy hand was rooi en dit het ons lewens hier op aarde verteenwoordig. Die res van die tou het ons ewige lewe verteenwoordig, met ‘n einde wat nie bestaan nie. Wanneer ‘n mens besef hoe kort hierdie lewe is in vergelyking met ‘n ewigheid wat nooit ophou nie, dan is dit asof jy skielik wakker word en begin besef dat dit meer as die moeite werd is om ‘n lewe te lei wat ewigheidswaarde het.

In Psalm 90:12 en 17 skryf die Psalmskrywer: “Leer ons ons dae só gebruik dat ons wysheid kan bekom (Vers12). En mag die Here ons God sy goedheid aan ons bewys, en die werk van ons hande bevestig (vers 17).”

Petrus gebruik in sy brief aan die gemeentes in Klein-Asië hierdie pragtige aanhaling uit die profeet Jesaja se boek: “Elke liggaam is soos gras; al sy skoonheid is soos ‘n veldblom. Die gras verskroei, en die blom verlep. Maar die woord van die Here hou vir ewig” (1 Petrus 1:24-25). Wanneer ons om ons kyk en besef hoe vinnig word ons oud, sien hoedat mense gebore word, hoedat ander sterf, hoe min waarde daar aan lewens geheg word en hoe vinnig die tyd verby gaan, dan kan ons nie anders as om saam te stem dat elke liggaam soos ‘n grashalmpie of ‘n veldblom is nie. Vandag is dit nog mooi en sigbaar, maar more is dit droog en verlep. Dit is dan dat ons net die woord van die Here het om aan vas te hou, en ‘n ewige lewe wat Hy aan ons uit genade geskenk het.

John Bevere was so aangeraak deur die beginsels van 2 Korintiërs 5:9-11 waar Paulus skryf: “Ons streef in elk geval daarna, of ons nou ook al hier tuis is of nie, om Hom tevrede te stel. Ons almal moet voor die regbank van Christus verskyn sodat elkeen van ons kan ontvang volgens wat ons in ons aardse liggaam gedoen het, of dit goed en of dit sleg was”, dat hy sy lewe daaraan begin wy het om ander mense te help om sinvolle lewens te lei. Hy glo dat baie van ons diep geskok gaan wees die dag wanneer ons daar staan voor die regbank van die Here Jesus en besef dat ons al ons tyd hier op aarde spandeer het aan onbenullige, niksseggende dinge wat geen ewigheidswaarde gehad het nie, of erger nog, dinge gedoen en besluite geneem het wat ons nie net ons loon gaan kos nie, maar waarvoor ons ook nog deur die Here Jesus berispe gaan word. Lees gerus die gelykenis wat Jesus vertel het van die meester wat aan sy slawe verantwoordelikhede opgedra het voordat hy weggegaan het, en by sy onverwagse terugkoms gevind het dat sommige van sy slawe hulle werk goed gedoen het. Vir hulle sal daar ‘n beloning wees (Luk 12:43-44). Vir dié slawe wat allerlei verkeerde dinge gedoen het, sal daar ‘n swaar straf wees (Luk 12:45-47).

John Bevere sê dat die meeste Christene op aarde absoluut haweloos sou gewees het as hulle hul aardse lewens met soveel onverskilligheid beplan het as wat hulle hul ewige lewe beplan. Met hierdie woorde kan ek werklik saamstem. As ons maar net besef dat ons eendag, wanneer ons by die Here Jesus is, nie meer deur ‘n dowwe spieël gaan kyk en ‘n raaiselagtige beeld gaan sien soos nou nie. Ons gaan dan alles ten volle ken en verstaan. Alles sal dan vir ons glashelder wees (1 Kor. 13:12).

Waarom sukkel ons dan so wanneer ons keuses hier op aarde moet maak, om hierdie feite in gedagte te hou? Is dit nie die vyand wat ons verblind nie? Hy beroof en besteel ons nie net hier op aarde nie, maar hy wil ons ook baie graag van ons ewige erfenis en dit wat die Here Jesus vir ons wil gee, besteel. Jesus het gesê: “Kyk, Ek kom gou! My loon kom saam met My om almal te beloon volgens wat hulle gedoen het.” (Op. 22:12)

Hoeveel duideliker wil ons dit hoor?

John begin sy boek op ‘n baie treffende manier deur ‘n storie te vertel, amper soos ‘n gelykenis. Sy motivering daarvoor het hy in Matteus 13:34-35 gekry waar Matteus vertel dat Jesus altyd gelykenisse gebruik het wanneer Hy met die skare gepraat het. Om die waarheid te sê, Hy het nooit met hulle gepraat sonder om gelykenisse te gebruik nie, sê Matteus. So is die profetiese woorde in Psalm 78 vervul.

Die verhaal gaan oor ‘n groep mense wat in ‘n klein koninkrykie, wat hy the Kingdom of Affabel noem, woon en lank gewag het op die terugkeer van hul koning, King Jalyn, wat op reis was. Ek wil graag ‘n soortgelyke verhaaltjie hier kortliks vertel, maar ek pas dit aan sodat dit toegepas kan word op ons samelewing vandag.

“Elke onderdaan in die Koninkryk van Liefde was veronderstel om te weet wat Koning Jasper van hulle verwag het terwyl hy weg was, want hy het vir hulle ‘n baie duidelike handleiding nagelaat, sodat hulle geen verskonings kon hê wanneer hy terugkom nie. Elke onderdaan kon vir hom of haar ‘n kopié van die handleiding gaan koop. Dit was in bykans elke taal wat hulle gepraat het, beskikbaar. Die probleem was net dat baie van die onderdane nie baie lus was om die handleiding te lees nie. Hulle het ook nie almal geglo dat die handleiding vir Koning Jasper baie belangrik was nie en dat hy baie ernstig was oor elke ding wat hy daarin laat opteken het nie. Sommige het gedink dat dit sommer net ‘n mooi boek was wat hulle in hul huise aangehou het sodat die ander onderdane dit kon sien. Ander onderdane het die inhoud van die handleiding selfs op hulle slimfone gelaai in ‘n klomp verskillende tale, maar nooit werklik gelees nie. Sommige het dit tog wel gedoen.

“Tussen hulle was daar ook onderdane van ‘n ander baie vyandige koninkryk, wat op ‘n baie slinkse manier gedurig teen die onderdane van die Koninkryk van Liefde oorlog gemaak het. Die koning van hierdie vyandige koninkryk wou soveel as moontlik van Koning Jasper se onderdane steel en het dit probeer doen deur vir hulle leuens te vertel, te probeer keer dat hulle lees wat in hulle handleidings geskryf staan en deur vir hulle te vertel dat dit glad nie so erg is as hulle nie aan Koning Jasper se opdragte gehoorsaam is nie. Wanneer hierdie vyandige koning daarin geslaag het om ‘n onderdaan van Koning Jasper ongehoorsaam te maak, was hy baie trots en vermakerig daaroor, want hy het vir Koning Jasper gehaat met ‘n passie.

“Hierdie onderdane van die vyandige koninkryk het álles in hulle vermoë gedoen om vir Koning Jasper se onderdane strikke te stel waarin hulle vasgevang kon word. Hulle het allerlei video’s op die internet geplaas om Koning Jasper se onderdane te verlei tot onsedelikheid en owerspel omdat hulle geweet het dat dít veral, díé één verkeerde ding is waarteen Koning Jasper sy onderdane oor en oor gewaarsku het.

“Die vyande het hulle met ‘n geheime middel verblind wat net kon werk wanneer ‘n onderdaan aan Koning Jasper se opdragte ongehoorsaam begin raak het. Met dié onderdane wat elke dag in hul handleidings gelees het en gereeld met Koning Jasper oor Skype gesels het, kon hulle niks regkry nie.

“Dit was ook opvallend dat die onderdane wat gretig daarna uitgesien het dat Koning Jasper moet terugkom omdat hulle vir hom baie lief was, ook vir mekaar baie lief was en mekaar gehelp het om nie deur die slinkse vyande oorwin te word nie.

“Koning Jasper het ook leermeesters aangestel om aan sy onderdane sy handleiding te verduidelik en hulle daaruit te leer terwyl hy weg sou wees. Baie van hierdie leermeesters het hulle opdrag met groot ywer en toewyding uitgevoer, maar baie van hulle het agtergekom dat dit meer lonend sou wees as hulle net vir die onderdane dít leer wat hulle graag wou hoor. Die onderdane het dan agter hulle aangeloop en hulle het baie gewild en belangrik gevoel. Hulle het ook baie geld van die onderdane ontvang. So het hulle Koning Jasper se handleiding verander en verdraai net soos wat dit hulle gepas het, en hulle het nooit gedink dat elke woord in die handleiding belangrik en waar was nie.

“Op ‘n dag het Koning Jasper toe teruggekeer soos hy belowe het. Vir sommige onderdane was dit ‘n blye dag waarna hulle reikhalsend uitgesien het. Hulle was só opgewonde en kon nie wag dat Koning Jasper hulle roep sodat hulle kon gesels oor alles wat gebeur het terwyl hy weg was nie. Hulle het geweet dat Koning Jasper so dankbaar was omdat hulle gehoorsaam was aan die opdragte in sy handleiding en omdat hulle al die tyd aangehou het om te doen wat reg was, ten spyte daarvan dat die onderdane van die vyandelike koninkryk dit vir hulle so moeilik gemaak het. Hulle wou so graag vir Koning Jasper in sy oë gaan kyk en hoor hoedat hy vir hulle sê: ‘Mooi so, my geliefde onderdane! Julle was so getrou en het so hard probeer om te doen wat ek wou hê, dat ek nou vir julle ‘n meer verantwoordelike werk in my koninkryk gaan gee. Baie, baie dankie!’ ”(Matt. 25:23; Luk 19:17)

“Maar baie van die onderdane het, toe hulle Koning Jasper se koninklike majesteit en sy teenwoordigheid in die hele Koninkryk van Liefde aanvoel, baie bang begin word, want hulle het hom nie geken nie, omdat hulle nie die moeite gedoen om hom te leer ken nie. Hulle het nooit besef hoe lief hy hulle het nie, en dat hy alles wat hy kon vir hulle gedoen het. Hulle was so selfsugtig en behep met hulle eie eersug en selfsug, dat hulle net vir hulself gelewe het, en geen bydrae wou maak om van die Koninkryk van Liefde ‘n beter plek te maak nie. Hulle het net vir hulself en hul eie sakke geleef. Hulle het nie omgegee om skelm te wees of ander mense seer te maak of van hulle te steel nie. En nou besef hulle skielik dat Koning Jasper van alles weet wat hulle so skelm gedoen het. Alles is skielik in sy teenwoordigheid so helder verlig en op die voorgrond. Wat gaan hulle vir hom sê?

“En dan begin die groot vergadering waarvoor hulle bymekaar geroep word sodat hulle voor Koning Jasper kan verskyn. Hy gaan sit op sy regterstoel in die stadsaal, en sy onderdane word een vir een geroep. Die burgemeester van die koninkryk is ‘n belangrike man en hou baie van homself. Hy het baie oor homself gepraat en was ‘n harde man wanneer dit by geldsake gekom het. Hy was oortuig daarvan dat Koning Jasper baie lof sou hê vir die manier waarop hy alles hanteer het. Al die mense het gesê dat hy die munisipale sake so mooi reg geruk het. Koning Jasper sal verseker baie beïndruk wees met hom. Gelukkig weet niemand dat hy talle buite-egtelike verhoudings gehad het en sy vrou so onbeskof behandel het nie. Net sy kinders weet daarvan. Hulle sê nou wel dat hulle niemand ooit sal kan vertrou of liefhê nie, nie eers vir Koning Jasper nie, maar dit is tog darem nou seker nie die ergste nie. Hulle sê ook dat hulle nooit sal trou nie, want hulle wil nie so ‘n skynheilige lewe lei soos hulle pa nie, maar hulle sal hulself darem seker nog regruk.

“Die burgemeester het gedink dat hy, as eerste burger, heel eerste voor Koning Jasper gaan verskyn. Maar nou is daar ontsettend baie onderdane voor hom en moet hy sit en wag en luister wat Koning Jasper vir die ander sê. Hy is stomverbaas om te hoor hoe mooi Koning Jasper met die vervelige ou vaal vroutjie wat in die plaaslike biblioteek werk, praat. Hy het sóveel lof vir haar. Wat kon sy dan nou so danig gedoen het? Maar dan luister hy en hy hoor van liefde, naastediens, getrouheid aan haar man, hoe sy haar skoonma met liefde versorg het, hoedat sy die kinders wat die biblioteek besoek het, van Koning Jasper en sy verwagte terugkoms vertel het, sodat hulle ook daarna kon uitsien. Hy hoor hoedat sy ook vir die kinders geleer het wat in die handleiding staan, sodat hulle ook gehoorsaam aan Koning Jasper se opdragte kon wees. Baie van daardie kinders sit ook nou vrolik en wag om te hoor wat Koning Jasper vir hulle gaan sê. Wanneer die biblioteektannie omkyk, dan juig hulle en waai vir haar. ‘Dankie, Tannie! Dankie vir dit wat Tannie vir ons gedoen het!’

       “Skielik voel die burgemeester glad nie meer so selfvoldaan nie. In die teenwoordigheid van Koning Jasper en die atmosfeer in hierdie saal, is al sy belangrikheid skielik weg en hy voel so kaalgestroop. Hier is niemand teenwoordig so ver as wat hy kan sien, met wie hy ooit oor Koning Jasper en sy koninkryk gepraat het nie. Hier is niemand aan wie hy liefde bewys het of goed gedoen het nie. Hy sien nie eers sy eie kinders hier nie. Hy besef meteens hoe baie geleenthede hy gehad het, vanweë die werk wat hy gedoen het. Maar hy was so vol van homself.

“Wanneer dit sy beurt is en hy voor Koning Jasper se regterstoel moet gaan staan, dan hoor hy hierdie harde woorde: ‘Jy is ‘n slegte en lui slaaf! Jy het mos geweet wat ek van jou verwag, maar jy het niks daaraan gedoen nie! Neem hierdie man hier weg!’ (Matt. 25:26-27).

Die burgemeester draai stadig om en ‘n oneindige hartseer sak op hom neer. Hy begin hartverskeurend huil. Koning Jasper staan van sy regterstoel af op om hom te kom troos. In sy oë is daar geweldige pyn en meegevoel, en hy sê: ‘Wat méér kon ek vir julle gedoen het? Ek het my lewe vir julle gegee; julle só baie gewaarsku; vir julle my handleiding gegee waarin julle kon sien wat ek van julle verlang; ek het julle soveel tyd gegee, maar julle wou eenvoudig nie luister nie.’ ”

Vervolg...