UIT ONS FONTEINTJIE
Lees reeks by Uit ons fonteintjie
Daar was 'n Christen-dokter wat vir die sieleheil van sy pasiënte net soveel omgegee het as vir hul fisiese welsyn. Sy naam was dr Hartman. Hy was bevriend met oom Jan en tant Annie Swart van die plaas Welgevonden. Oom Jan was 'n vooruitstrewende boer wat sy volle aandag aan al die vertakkinge van sy uitgebreide boerderybelange gegee het maar dr Hartman het met kommer in sy hart opgemerk dat in oom Jan se huis nie aandag aan godsdiens gegee word nie. Toe hy op 'n dag met oom Jan daaroor praat, het oom Jan gesê, ja hy glo in God, maar sy boerdery gee hom nie tyd om nog aan godsdiens ook aandag te gee nie.Oom Jan het homself met sy boerderybedrywighede gaandeweg só ooreis dat hy siek geword het en 'n kroniese lugpypontsteking opgedoen het. Dr Hartman het met sy volgende besoekie aan die plaas die nodige voorskrif vir medisyne vir oom Jan se ongesteldheid uitgeskryf. Hulle moes dit op die dorp laat haal.
Dr Hartman was op die punt om te groet en te ry, toe tant Sannie vra: "Wanneer moet Jan die medisyne neem dokter?"
"Ek sal die aanduidings op die bottel plak," sê dr Hartman. Toe sê hy vir oom Jan: "Laat ek sien: Oom is nie baie siek nie. Begin om die medisyne vandag oor 'n maand te gebruik."
"Oor 'n maand, dokter?" roep albei verbaas uit.
"Ja, waarom nie? Is dit te gou?"
"Te gou! Maar dokter, ek kan dan al dood wees!" sê oom Jan.
"Dis ook weer waar, maar oom Jan moet onthou, jy is nog nie baie erg nie. Maar miskien moet jy dit oor 'n week begin neem."
"Maar dokter, ek kan miskien nie nog 'n week lewe nie!" roep oom Jan ontsteld uit.
"Ja, dit is ook moontlik, maar oom Jan, waarskynlik sal jy nog lewe, en die medisyne sal in die huis wees. Dit sal nie sleg word nie en as jy agteruitgaan, kan jy daarvan drink. Selfs as jy môre miskien al slegter voel, kan jy daarvan drink."
"Dokter, môre kan ek dalk al dood wees!" roep oom Jan uit. "Die medisyne sal mos niks help so lank as wat dit in die bottel is nie. Is dit nie onverstandig om die gebruik daarvan uit te stel nie?"
"Wel, wanneer wil oom Jan dan graag daarmee begin?"
"Ek het gedink u sou vir my sê om vandag al te begin."
"Seker, begin maar vandag. Oom Jan, ek wou vir jou maar net laat sien hoe vals jou beredenering is wanneer jy uitstel om die medisyne te neem wat die Groot Geneesheer voorsien het vir jou siel wat so siek is in die sonde. God se aanbod is vir vandag. Jy het die medisyne so te sê in jou hande en dit is dwaas om hierdie saak uit te stel, selfs tot môre."
Oom Jan se oë was vol trane toe hy sy vriend se hand druk. "Dis reguit praat," sê hy vir sy vrou. "Maar hy's reg, my vrou. Ek het dit nooit vantevore presies so ingesien nie."