IS DIE BLOED AAN DIE DEUR?

UIT ONS FONTEINTJIE

Lees reeks by Uit ons fonteintjie

Die Jode vertel hierdie wonderlike verhaal in verband met daardie vreeslike nag in Egipteland toe die Here met die tiende plaag al die oudstes in die huisgesinne van die Egiptenare laat sterf het.  Om die Israeliete daarvan te vrywaar, moes hulle die bloed van die eerste geslagte paaslam aan hulle deurposte smeer, want die Here het gesê:  “As Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan.”  Elkeen van ons reggeaarde volksgenote behoort in 2011 elke dag te vra dat die Here se bloed ook aan ons huise se deurkosyne sal wees.

‘n Joodse vader het ‘n klein dogtertjie gehad wat ongeveer tien jaar oud was.  Hy was baie lief vir haar want sy was sy enigste kind en as die eersgeborene in sy huisgesin, sou sy die een wees wat moes sterwe daardie nag as die swaard van die verderwer hulle huis sou tref.

Voor sy daardie aand gaan slaap het,  het sy vir haar pa gevra of die bloed aan die deurposte gestryk was.  Toe hy haar verseker dat dit so is, het sy aan die slaap geraak,  maar sy het baie onrustig geslaap. Sy het verskeie kere wakker geword en elke keer beangs gevra of die bloed regtig aan die deur gesmeer is.  Dan verseker haar pa haar dat dit werklik gedoen is en dat sy maar rustig kan slaap.  ‘n Rukkie voor middernag het sy weer in groot angs wakkergeskrik.

Sy het haar pa gevra om haar na die deur te neem en uit te dra, sodat sy die bloed kon sien.  Hy het dit gedoen, maar tot sy skrik ontdek hy dat daar geen bloed aan die poste was nie!  Sy bediende wat die bloed moes aansmeer, het dit nie gedoen nie!  Hy het gehardloop en die bloed gaan haal en dit met sy hande aan die deur gestryk. Toe sy kind die bloed sien wat nou aan die deur was, het sy meteens veilig gevoel en verder rustig gaan slaap.

So neem ons ook skuiling vir tyd en ewigheid onder die kosbare bloed van Christus wat ons gered het van die ewige dood.