UIT ONS FONTEINTJIE
Lees reeks by Uit ons fonteintjie
Ek het met groot belangstelling geluister na die verhaal van wat plaasgevind het by die graf van ‘n soldaat in een van die suidelike state van Amerika. ‘n Man was besig om die graf met baie ekstra moeite met plante en blomme te versier, toe ‘n vreemdeling wat hom daar opgemerk het, naderstap en op simpatieke en medelydende toon vra of dit sy seun is wat daar begrawe lê.
“Nee,” sê hy. “ ‘n Broer?” “Nee.” “’n Ander familielid?” “Nee.” “Mag ek dan die vryheid neem om te vra wie se gedagtenis u met soveel toegewydheid en teerheid koester?”
Hy het ‘n oomblik gewag en sê toe met gevoel: “By die uitbreek van die oorlog is ek opgekommandeer. Net toe ek die huis verlaat om my vir diens te gaan aanmeld, kom ‘n jongman wat ek geken het, na my toe en sê: ‘Jy het ‘n groot gesin wat jou vrou nie kan onderhou as jy weg is nie. Ek is ‘n eenlopende persoon en het niemand wat van my afhanklik is nie. Ek sal in jou plek gaan.’ Hy het gegaan. In die slag van Chickamauga is die arme kêrel dodelik gewond. Hy het gesterwe en is hier begrawe.”
“Al die tyd, sedert sy dood het ek verlang om hierdie plek te besoek. Toe ek eindelik genoeg geld bymekaar gehad het, het ek die reis hierheen aanvaar. Ek het gister hier aangekom en vandag sy graf gevind.”
Toe hy klaar was met sy aandoenlike verhaal, het hy die res van die blomme geplant en ‘n plank by die voetenend van die graf ingedryf. Op die plank het hy geskrywe: “ Hy het vir my gesterwe”.
Daar is Iemand wat ook vir mý gesterwe het. Dit is Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, wat die heerlikheid van die hemel verlaat het om hier aan ‘n vloekhout sy kosbare bloed te stort as offer vir my sondes. Omdat my hemelse Vader my só lief het dat Hy nie wil hê dat ek verlore moet gaan nie, het Hy dit aanvaar en my sy kind gemaak.