SY WOORD IS WET

UIT ONS FONTEINTJIE

Lees reeks by Uit ons fonteintjie

Ds GJ van Rensburg vertel dat op ‘n plek waar hy dienste gehou het, het ‘n bejaarde dame getuig dat sy so oud geword het omdat sy God altyd doelbewus geëer het en so ook haar ouers.  Sy het hierdie vermaning geglo en gevrees en gehoorsaam.  God het sy Woord gestand gedoen.

Maar toe laat sy daar iets vreesliks op volg.  Sy het tien kinders gehad wat haar nie altyd geëer het soos dit moes nie en sy het aan hulle gesê dat sy hulle nog almal sou begrawe, al was sy nou al so oud.

Sy het nie uit ‘n hart van haat en oordeel gepraat nie, maar uit ‘n kinderlike eerbied en geloof in wat God sê.  Sy het vir hulle gesê dat hulle volgens die Skrif nie lank kan lewe nie, omdat hulle hul ouers nie gehoorsaam het nie, en dus sou sy hulle almal begrawe.

Hy sê dit was vir hom treffend dat toe hy later weer  ‘n reeks dienste daar gehou het, die ou dame hom gevra het om haar na Johannesburg te neem om haar seun te gaan begrawe.  Verskeie van haar ander kinders was toe reeds op middelbare leeftyd oorlede.  Haar een dogter het in die eerste reeks dienste wat hy daar gehou het, die Here gevind en sy het haar moeder eerbiedig en haar in haar hius opgeneem.  Sy kon dus met vrymoedigheid na haar moeder se getuienis luister, wetende dat sy nie onder daardie veroordeling val nie.

God is geen bangmaker nie.  Hy dreig nie met beweringe wat Hy nie uitvoer nie.  Hy sê dit sal met jou teenspoedig gaan en baie rampe en ongelukke sal jou tref en jy sal nie lank lewe as jy nie jou ouers eer nie.  Kan daar in ons bedorwe harte so min vrees vir die Here wees dat ons  nie sy waarskuwings glo nie?