GOEIENAG... OF VAARWEL?

UIT ONS FONTEINTJIE

Lees reeks by Uit ons fonteintjie

‘n Sakeman, ‘n  toegewyde Christen, is deur ‘n motor omgery en na die hospitaal geneem.  Die medici het aan hom meegedeel dat hy nog sowat twee uur gehad het om te lewe.  Hy het hom heeltemal tevrede daarvolgens geskik, want hy het ‘n blinde geloof in die goedheid van God en die toekomstige lewe gehad.  Die dood is mos slegs ‘n poort wat toegang verleen tot ‘n hoër lewe.  Hy het sy huisgesin laat kom en hulle een vir een as volg toegespreek:

“My vrou, vir my was jy die edelste vrou in die wêreld.  Deur sonskyn en skaduwee het ons ver saamgeloop.  Jy was my besieling in alles wat ek onderneem het, veral wat my geestelike lewe betref.  Dikwels het ek die glans van die Gees van God op jou gesig sien straal.  Ek het jou baie liewer as die dag toe jy my bruid geword het.  Goeienag liefste! Ek sien jou weer in die môre.  Goeienag.”

Aan sy oudste dogter het hy gesê:  “Marie, jy is ons eersgeborene.  Wat ‘n vreugde was jy vir jou vader!  Hoe bly is ek dat jy so baie na jou moeder gelyk het!   Jou gesig en jou gesindheid het my altyd aan haar herinner.  In jou sien ek die liewe, mooi jong vrou wat haar huis verlaat het om myne te kom bou.  Wat ‘n liewe Christin is jy!  Marie, jy sal nooit vergeet hoe lief jou vader jou gehad het nie.  Goeienag!”

Toe kyk hy sy oudste seun aan.  “Willem, jou koms in ons huis was ‘n ongemengde seën.  Jy was ‘n manlike seun.  Jy het ‘n voorbeeldige man geword.  Jy het God en sy kerk lief.  Hoe trots is ek op so ‘n seun!  Jy sal voortgaan om toe te neem in elke Christelike genade en deug.  Jy het jou vader se liefde en seën.  Goeienag Wil, goeienag!”

Charl was die volgende.  Charl het onder slegte invloede verval en sy pa en ma bitter teleurgestel.  Die sterwende man het hom oorgeslaan en hom  na sy jongste kind gedraai, ‘n lieflike jongmeisie.  “Ester, jou koms was soos die aanbreek van ‘n nuwe dag in ons huis.  Jy was ‘n lied van blydskap, ‘n ligstraal.  Jy het ons harte met musiek gevul.  Toe jy jou lewe volkkome aan Christus oorgegee het, was jou vader se beker van geluk tot oorlopenstoe vol.  Goeienag liefling, goeienag!”

Toe roep hy Charl nader.  “Charl, wat ‘n mooi, veelbelowende seun was jy!  Ons het jou al die geleenthede gegee wat die ander kinders gehad het.  As daar enige onderskeid was, sal jy self moet erken dat dit in jou voordeel was.  Ons het ons bes vir jou gedoen, Charl.  Maar jy het ons teleurgestel.  Jy het die breë afdraand pad geloop.  Jy het jou nie deur ons raad laat lei nie.  Jy het nie ag geslaan op die waarskuwing van God se heilige Woord nie.  Jy het nie na die uitnodiging van die Heiland geluister nie.Maar ek het jou altyd liefgehad, Charl, en ek het jou nog lief. God alleen weet hoe lief ek jou het.  Vaarwel Charl, vaarwel, vaarwel!”

Charl het sy pa se hand gegryp en tussen sy snikke deur, uitgeroep:  “Vader, waarom het u vir die ander “goeienag” gesê, maar vir my  “vaarwel”?”

“Charl, die rede daarvoor is dat ek die ander lede van die huisgesin ‘in die môre’ weer sal ontmoet, volgens die beloftes wat ons het om mekaar weer te sien, met die hereniging wanneer ek hulle weer by my gaan hê, maar volgens die Woord is daar geen hoop vir my om jou weer daar  ‘oorkant’ te sien nie.  Dit is vaarwel, Charl,  vaarwel!”

Charl het by sy sterwende vader se bed op sy knieë neergeval en in sy sieleangs tot God geroep om sy sondes te vergewe en hom die hoop te gee om sy vader weer te sien.

“Meen jy dit, Charl?  Is dit jou erns?”

“Ja vader, God weet dit,” sê die jongman met gebroke stem.

“Dan sal God jou verhoor en jou red , Charl. Dan is dit nie vaarwel nie, maar slegs goeienag.  Goeienag, my seun, goeienag!”  En hy was daar nie meer nie.

Carl het ‘n toegewyde evangeliedienaar geword.  Na baie jare in die bediening, kyk hy reeds met verlange uit na die oomblik wanneer hy weer sy geheiligde vader sal hoor sê:  “ Goeiemôre Carl.  Ek is so bly die nag is verby en die dag is daar.  Is dit nie ‘n heerlike, wonderlike uur nie?  Goeie môre, Charl. Goeiemôre!”