DIE WEDERGEBORE TRONKVOËL

UIT ONS FONTEINTJIE

Lees reeks by Uit ons fonteintjie

Hy was ‘n prisonier in die staatsgevangenis waar hy sy straf moes uitdien vir ‘n misdaad wat hy gepleeg het.  Daar het hy onder die prediking van ‘n besoekende leraar tot  bekering gekom.  Nadat hy sy straf uitgedien het, het hy hom geroepe gevoel om self die  wonderlike evangelie van sieleredding te gaan verkondig.  So was hy een aand besig om ‘n diens te lei in sy klein Evangeliesending, ‘n inrigting wat hy met sy eie geld en op sy eie verantwoordelikheid begin het, sowat ‘n jaar na sy ontslag.

Skielik is hy in die middel van sy preek in die rede geval deur ‘n man met ‘n bose gesig, wat halfpad na agter in die gehoor opgespring het:   “Jy hoef nie te dink dat jy ons almal om die bos lei nie. Sommige van ons ken jou vir wat jy is.  Ek ken jou Dan.  Ek was saam met jou in die staatsgevanenis waar jy jou straf uitgedien het toe jy daar was.  Jy is maar net so ‘n gewone bandiet soos ek, ‘n tronkvoël!  Moenie hierdie mense probeer bedrieg nie. Vertel hulle die waarheid. Vertel hulle dat jy vyftien jaar gekry het en dat jy skuldig was.”

Daar het ‘n doodse stilte oor die gehoor toegesak.  Hulle het beurtelings na die sendeling  en na sy beskuldiger bly staar.  Toe stap Dan agter sy goedkoop katedertjie uit.  Op sy gesig was daar ‘n baie ernstige uitdrukking, maar daar was geen teken van ergernis in sy stem toe hy praat nie.

“Vriende,” sê hy, “ die man wat so pas gepraat het, het die waarheid vertel.  Ek is ‘n gewese bandiet.  Ek is ‘n tronkvoël.  Ek het straf uitgedien in die staatsgevangenis.  Dit is alles waar en God weet hoe ek dit betreur het.  Maar daar is iets anders wat ook  waar is.  Die Dan van wie hy u vertel het, het in daardie tronk gesterf.  Hy het een aand gesterf toe ek die goeie tyding ontvang het dat enige persoon die vergifnis van sondes van God kan kry as hy dit deur die deurboorde hande van Christus wil aanneem.  Daarna kan hy ‘n nuwe lewe voer.  Ek het die aanbod aanvaar en van daardie oomblik af tot vanaand toe was ek ‘n nuwe mens.  Ek ken die man wat gepraat het.  Ons was saam in die tronk  En nou wil ek hom ‘n vraag vra.”

Hy het ‘n paar treë na die rant van die verhoog gestap en sy beskuldiger wat nog steeds gestaan het, vol in die oë gekyk en gesê: “ Jy het my meer as twee jaar as medegevangene geken nadat ek die Here Jesus aangeneem het.  Jy het die kans gehad om my baie fyn dop te hou, om te weet hoe ek geleef het, hoe ek gepraat het, hoe ek my beloftes nagekom het.  Weet jy van enigiets wat ek ooit gesê of gedoen het sedert die aand  toe ou Dan dood is en ‘n nuwe Dan gebore is  -  enigiets wat oneerbaar of ‘n Christen onwaardig is?  Kan jy eerlik aan hierdie mense sê dat jy van iets in my lewe weet sedert daardie aand wat my die reg sou ontsê om aan hulle van die liefde van Christus vir sondige mense te vertel?”

Die gehoor het feitlik ademloos gesit en luister.  Niemand het geroer nie.  Alle oë was stip gevestig op die twee hoofspelers in hierdie stukkie godsdiensdrama.  Die steurder met die bose gesig het ‘n volle minuut die prediker nors aangestaar.  Hy het sy kop so effens geskud, sy oë neergeslaan en op sy sitplek neergesak sonder om weer op te kyk.

So kyk ‘n verloste sy verlede onbevrees en vol vertroue in die oë, omdat hy vanaf die uur van sy wedergeboorte,  die sekerheid ontvang dat God al sy sondes vergewe het.