UIT ONS FONTEINTJIE
Lees reeks by Uit ons fonteintjie
In hierdie gebeure was daar 'n predikant in Kanada wat in die noorde van die land onder die mense gewerk het. Dit was ‘n bitter koue tyd in hierdie landstreek. Die sneeu het soms weke aaneen op die grond gelê en daar was min mense wat dit kon uitstaan.
Nadat die predikant al maande lank daar was, hoor hy dat daar ver agter die Sneeuberge ook mense woon wat al amper wild geword het omdat hulle byna nooit ander mense sien nie. Hy besluit toe om hulle darem ook te gaan besoek en saal sy ryperd op en ry met die voetpad wat die mense hom beduie het. Dit was berg op en berg af tot hy weer op ‘n hoë bult uitkom en daar onder in die kloof ‘n huisie sien waar daar ‘n rokie trek. ‘n Entjie verder kry hy ‘n seuntjie wat skape oppas en wat verwonderd na hom kyk.
Hy klim toe af en sê: “Môre my kind, wat maak jy?”
“Oom ek pas skape op,” antwoord die kind.
“En wie pas vir jou op?”
“Ek weet nie, oom,” antwoord hy. “Ek is mos nie ‘n skaap nie.”
“Maar het jy dan nog nooit van die Here Jesus gehoor nie? Hy is mos die goeie Herder wat daarbo in die hemel woon. Ons wat groot is en Hom liefhet, is mos sy skape, en die kinders is die lammers wat Hy oppas.”
Toe die seuntjie sê dat hy nog nooit van Hom gehoor het nie, sê die leraar: “Ja my kind, Hy het vir ons lief en wil vir ons sorg. As jy tot Hom bid dan hoor Hy jou, al kan jy Hom nie sien nie. En as jy jou hart aan Hom gee en Hom liefhet en die sonde laat staan, kom Hy in jou hart woon en word jy sy lam. Dan pas Hy jou dag en nag op, en as jy eendag sterf, neem Hy jou na die hemel daarbo.”
Die seuntjie het aandagtig staan en luister. Toe die predikant naderhand sê, “Wat dink jy, wil jy nie ook graag ‘n lam van die Here Jesus word nie?”het hy ‘n oomblik stilgestaan en sê toe: “Ja oom, baie graag, want ek is so alleen en baie maal in die nag is ek so bang.” Die predikant begin toe om hom die versie te leer: Die Here is my Herder. Hy sê: “Hou nou al vyf vingers van jou regterhand op. Die versie het ook vyf woorde, een vir elke vinger. Ek gaan nou na julle huis daar onder in die dal. Jy moet nou die woorde oor en oor op jou vingers tel tot jy die versie goed ken. En hou die vierde vingertjie styf vas, want kyk dit sê Die Here is mý Herder. Ja, liewe kind, die Here Jesus is ook jou Herder, al is jy ook so alleen hier tussen die berge.” Toe hy daar wegry, sien hy dat die seuntjie sy vierde vingertjie met sy ander hand nog altyd stewig vashou.
Toe hy by die huis kom, was die vader baie bly om hom te sien. “Meneer. U is die eerste predikant wat ooit by ons kom. Geen wonder dat ons al byna menssku is nie!”
Nadat hulle ‘n rukkie gesels het, sê die man: “Ek sien daar kom ‘n swaar kapokstorm oor die berg aan. Ek moet nou eers my kind met die skape gaan haal. Waar het u hom gekry? U moet weet, as die storm losbars, kan ‘n mens deur die kapok niks sien nie en dan word dit sommer gou donker.”
Haastig is die pa na die plek waar die leraar hom beduie het. Intussen het die storm vinnig nader gekom, sodat dit gou pikdonker was en die sneeu soos ‘n spierwit gordyn geval het waardeur ‘n mens niks kon sien nie. Selfs die voetpaadjie was spoedig toe onder die kapok Die kind het verdwaal. Toe sy pa op die plek kom waar die leraar hom gekry het, was hy al ver weg in die donker en daar was geen spore meer van hom of die skape te sien nie. Sy pa is haastig terug huis toe om ‘n groot vuur te maak en skote af te skiet, maar hy was al ver agter ‘n rantjie en het niks daarvan gesien of gehoor nie.
Die skape het die nag een vir een by die huis gekom, want ‘n skaap verdwaal nie sommer nie. As die kind hulle tog maar gevolg het, maar hy het seker gedink hulle loop verkeerd en toe gaan hy in ‘n ander rigting.
Laat in die nag sê die pa moedeloos: “Nee doninee, nou is my kind al lank verkluim. Wie kan in hierdie bittere koue nog lewe?”
Die leraar het tien dae lank by die egpaar gebly en hulle uit die Woord geleer van die Trooster, die Heilige Gees en van die Groot ontfermende Saligmaker. Toe die kapok klaar gesmelt het, het hy met groot droefheid van die treurende ouers afskeid geneem en gery. Hy is met die selfde pad terug. Skielik sien hy daar oorkant teen ‘n rant iets onder ‘n bos. Daar kry hy die dooie kind en bo-op hom lê sy getroue hond, wat sy bewende kleinbasie nog wou warm hou. Hy tel die kind op om hom op die perd te sit en daar sien hy sy een hand hou die ander hand se vierde vingertjie styf vas!
Hy bring die dooie kindjie toe net so na sy ouers terug en sê vir hulle : “Hier is julle kind. Kyk net na sy hande. Waarom dink julle hou hy sy vierde vingertjie so styf vas?"
Hy vertel hulle toe weer hoe hy met die seuntjie gepraat het en hoe hy hom op die berg ontmoet het en van die versie wat hy hom geleer het. “Julle arme kind het seker geloop tot hy nie meer kon nie en toe maar onder die bos ingekruip. Daar het hy gehuil en geroep na sy ouers, maar niemand het hom gehoor nie. Toe het hy opgekyk na die hemel en tot die Here Jesus gebid en seker gesê: Die Here is mý Herder, en sy vierde vingertjie styf vasgehou. En so het die goeie Herder van die Hemel gekom en sy klein lammetjie met Hom saamgeneem. Julle kind is nou veilig in sy arms, salig en gelukkig in die hemel.”