PROFETIESE WOORD: ASSIRIË EN NINEVE

Gustav Norval

Oorblyfsels van Nineve in Irak naby die stad Mosul en kaart van ou Assirie (ONDER)

Die Assiriese ryk was eens ‘n magtige empire wat die nabye oosterse lande gedomineer het. Die Assirieërs het sedert 2500 vC ‘n groot lap aarde beheer. Hul brutaliteit teenoor ander nasies, het veroorsaak dat hulle baie vyande gemaak het. In Nahum 3 lees ons dat die profeet Nahum die verwoesting van die Assiriese hoofstad Nineve voorspel het. Sefanja 2 verse 13 en 15 verwys ook hierna:

   13: dan sal Hy sy hand uitstrek teen die noorde en hy sal Assur vernietig en Nineve tot verwoesting maak, dor soos die woestyn

   15: dit is die uitgelate stad, wat so veilg gewoon het, wat in sy hart gesê het: dit is ek en niemand anders nie! Hoe het dit ‘n verwoesting geword, ‘n lêplek vir wilde diere!

Die tien stamme was deur die Assirieërs gedurende 721 vC in ballingskap weggevoer en skaars 90 jaar later, tydens 613 vC het ‘n groot leërmag bestaande uit Meders en Babilonieërs die stad Nineve beleër. Drie maande later in 612 vC het die beleerders die stad bestorm, geplunder, verwoes en aan die brand gesteek. So het nog ‘n profesie vervuld geraak, dekades voordat dit gebeur het.

                                    

Sargon

In Jesaja 20, maak die profeet ‘n paar interessante profesië m.b.t. Sargon, koning van die Assiriese ryk en seun van Salmaneser. Lg. het volgens Assiriese geskrifte 27,280 Israeliete uit Samaria tydens 722 vC na Assirië in ballingskap weggevoer. Sargon het net daarna aan bewind gekom en sy koningskap getuig van langdurige oorloë met sy buurlande. In 713 vC het hy sy magte onder leiding van sy hoofgeneraal (die sg. “tartan” in vers 1) na Asdod gestuur om hierdie Filistynse stad te verower en te vernietig soos Jesaja ook in hfst. 20 vers 1 voorspel het.

Volgens ou geskrifte, het die hoofgeneraal teen Sargon gerebeleer en was die rebel verplig om na Egipte te vlug. Die Kusiete was in daardie dae in beheer van Egipte onder die Kusitiese koning Kashta. Lg. het ‘n leërmag betaande uit Kusiete en Egiptenare onder die leiding van die Assiriese rebel op die been gebring. Hulle het Sargon uitgedaag en Sargon het besluit om die opstandelinge aan te val.

In 712 vC het Sargon se leërmag Egipte aangeval en die Egiptiese magte verslaan. Sargon het groot getalle Egiptiese- en Kusitiese soldate en owerhede gevange geneem en uit die land verban soos in hfst. 20 vers 4 geprofeteer was. Sargon het Babilon tydens 710 vC ingeval en homself as koning van die Chaldese ryk gekroon. Hy het tydens 705 vC in een van sy oorlogsekspedisies gesneuwel. Jesaja 20 wys ons weereens hoe waar die profestiese Woord is nog voordat dit sou gebeur.