TIRUS

Gustav Norval
Die stad Tirus was deels op ‘n eiland en deels op die vasteland gebou. Die eiland was 20 kilometers noord van die huidige Israelistaat geleë en 700 meters van die Libanese vasteland. Die eilandstad was omring deur vestingmure tot by die see en daar was ‘n hawe waar handelskepe van Tarsis geland het met kosbare edelstene, goud, koperware, kunstige artikels, geweefde matte, purpur, wol, hout, linne ea. kosbare ingevoerde stowwe waarmee daar met die stede in die Midde-Ooste handel gedryf was (soos Eseg 27 beskryf). Op die eiland was tempels, handelshuise en die huise van ryk Foenisiese handelaars, een van die Kananietiese nasies in die streek.
Esegiël het die vernietiging van die stad geprofeteer, naamlik dat Nebukadneser die stad sou aanval om sy rykdomme te plunder (Eseg 26:7). Hy kon nie die eilandstad na ‘n jarelange beleg verower nie, maar hy het wel die inwoners in die landstad gedood (Eseg 26:8)

Sowat 250 jaar later (333 vC) het Alexander die Grote gepoog om die eilandstad in te neem deur ‘n landbrug vanaf die land na die eiland met rotse en stompe te bou. Die inwoners van die eilandstad het die Grieke vanaf hul torings met pyle beskiet, waarna Alexander twee massiewe torings op die landbrug na die eiland gestoot het en die stad se torings vernietig het (Eseg 26:8). Daarna het hy skepe met stormramme teen die stad gerig en die stadsmure daarmee afgebreek (Eseg 26:9) en baie inwoners gedood (Eseg 26: 10 en 11). Die stad se geboue en mure was afgebreek en die stene in die see gegooi (Eseg 26:12).
Soos die mure afgebreek was, het dele van die eiland onder water gekom (Eseg 27:34) en die eiland het verander in ‘n plat kaal harde rots soos Eseg 26:14 voorspel: “...en Ek sal jou ‘n kaal rots maak, ‘n droogmaakplek van nette.”
Baie eeue later het Moslems die eiland beset, maar die kruisvaders het hulle daaruit verdryf. In 1291 het die Moslems weereens die eiland beset en dit het ‘n plek geword waar vissermanne hul nette gedroog het soos Eseg 26: 14 beskryf:
Tirus sou: “in die hart van die see ‘n bittere dood sterwe” (Eseg 28:8). Die foto hier links onder was in 1934 geneem wat die eiland aantoon, wat nog steeds met ‘n landbrug aan die vasteland verbind is. Tans is die landbrug verwyd en daarop is woonstelgeboue gebou (foto heelonder).
Dit bewys maar weereens hoe feitelik korrek die profesieë van die Bybel was en is.