Dr JP Botha
Lees reeks by Adina se briewe
Was alles tevergeefs?
Net 'n dag nadat Adina haar vorige brief aan Rabbi Efraim geskryf het oor die kruisiging van die Here Jesus, het sy weer 'n volgende een aan hom geskryf. Sy het nog nie geleentheid gehad om die vorige twee briewe, wat sy so kort na mekaar opgestel het, met 'n trekkaravaan na Alexandrië te pos nie. Rabbi Efraim kon dus nog nie op sy dogter se vorige twee briewe antwoord nie. Adina het, nadat die sabbat op die Saterdagaand verby was, weer aan hom geskryf:
Aan my hooggeagte Vader
Noudat die liewe en wonderlike Jesus se haatlike vyande hul sin gekry het en hul doel bereik het om Hom te vermoor, sal ek nooit weer enige agting koester of respek betoon of eerbied voel vir hierdie klomp priesterhoofde, skrifgeleerdes en Fariseërs van Jerusalem se Sanhedrin nie. Ek sluit al die ou ongelowige Sadduseërs ook in. Ons het hulle vroeër hoog geag as die godsdienstige leiers van ons volk, wat aan ons gewone mense koers en rigting moes gee in ons aanbidding van ons God, Jehova. Pappa, sulke leiers moet eerlik, opreg, barmhartig, liefdevol en genadig teenoor hul minderes optree en hulle nie vals, oneerlik, leuenagtig en wreed behandel nie. Jesus was reg toe Hy gesê het hulle gee voor dat hulle heilig en vroom is, maar dan doen hulle agteraf die agterbakste dinge. Hulle is witgepleisterde grafte, vol doodsbeendere. Hulle voel nou seker baie selfvoldaan en in hulle skik dat hulle daarin geslaag het om die goddelike Jesus - want ek glo nog dat Hy meer was as 'n mens - aan 'n Romeinse vloekhout te laat sterf.
Pappa, u wat hulle so hoog aanskryf, sal seker baie geskok voel om hierdie woorde van my te lees, maar ek glo nog u sal uiteindelik met my saamstem as ek vir u nog meer van hulle streke vertel. Hulle het gedink dat toe hulle Jesus aan die kruis laat vasspyker het, hulle heeltemal klaar met Hom was. Daar is gelukkig een van hulle wat baie opreg is. Sy naam is Josef en hy woon hier naby in die klein dorpie Arimatea. Hy het na Pilatus toe gegaan met die vriendelike versoek dat die goewerneur moes toestem dat hy Jesus se liggaam van die kruis gaan afhaal en in 'n behoorlike graf gaan begrawe.
'n Endjie onderkant daardie moordkoppie lê 'n stuk grond met 'n mooi tuin daarop. Dit behoort aan Josef. Hy het vroeër hier in die sagte sandsteen vir homself 'n ruim graf laat uitkap. Hy en sy helpers het Jesus se liggaam in hierdie nuwe graf neergelê.
Ek is seker goewerneur Pilatus se gewete het hom die vorige nag maar min rus gegun. Hy het mos gister die dringende versoek van sy vrou verontagsaam, om tog niks te doen te hê met die regverdige Jesus nie. Ek dink hy het Vrydag toe Jesus gekruisig is, al baie spyt gekry dat hy dit toegelaat het, want hy het daardie middag 'n soldaat na Golgota gestuur, wat 'n naambordjie boaan Jesus se kruis geheg het. Daarop staan in drie tale geskryf: "Jesus die Nasarener, die Koning van die Jode."
Van die Fariseërs wat hulle daar by die kruis gaan verlekker het om Jesus daar te sien hang, het dadelik afgesit na die goewerneur toe en ewe astrant geëis dat die woorde op die naambordjie verander moes word. Volgens hulle moes daar nie gestaan het, "Hy is die Koning van die Jode" nie, maar "Hy het gesê Hy is die Koning van die Jode."
Pilatus het glo vir hulle gesê: "Kyk hier, wat ek geskryf het is finaal en klaar. Ek is nou moeg vir julle klomp Jode se gesanik. As julle maar 'n koning gehad het soos daardie Man; maar julle is dit nie werd nie."
Pappa sien die goewerneur weet baie goed dat hy toegelaat het dat Jesus gekruisig word, terwyl Hy geheel en al onskuldig is. Daaom het hy vir Josef van Arimatea ewe vriendelik te woord gestaan en hom toestemming gegee om Jesus se gebroke liggaam van die kruis af te verwyder. Toe Josef 'n rukkie later met hulp daar opdaag, was ons al weg. Maria Magdalena en Maria was nog daar. Hulle is saam met Josef na die nuwe graf 'n entjie laer af en het hom gehelp om Jesus se liggaam te versorg, voordat hulle Hom daarin neergelê het. Daarna het Josef met hulp 'n groot ronde klip voor die ingang van die graf gerol. Maria Magdalena en Maria het nog 'n rukkie by die graf vertoef en toe huis toe gekom en vir ons vertel wat daar gebeur het.
Josef het vir hulle vertel dat die dissipel, Judas Iskariot, wat vir Jesus verraai het, selfmoord gepleeg het. Hy het glo, toe hy sien dat hulle Jesus gaan doodmaak, baie spyt gekry oor sy daad. Hy het na die owerpriesters en die ouderlinge gegaan en vir hulle sy verraaiersloon teruggebring en gesê: "Ek het 'n Man wat heeltemal onskuldig is, verraai. Neem asseblief die geld terug en laat Hom los." Maar hulle het hom toegesnou: "Ag loop, jou verraaier! Ons sal met Hom maak net wat ons wil. Maak dat jy wegkom!" Toe het Judas die geld net daar neergesmyt en homself in die veld gaan ophang. Daar was vir hom geen genade meer nie.
Jesus se aartsvyande was na sy begrafnis nog nie met Hom klaar nie. Hulle het vroeg die volgende môre - dit was Saterdag, die sabbatdag - weer met 'n deputasie by die goewerneur opgedaag. Pappa, hoor net watter vroom storie dis hulle toe vir hom op: "Geagte goewerneur, ons herinner ons dat toe daardie bedrieër nog geleef het, het hy meer as eenmaal vertel dat as hy doodgemaak word, hy na drie dae weer lewendig sal opstaan. Sy dissipels weet goed dat hy so gesê het en ons is seker hulle gaan probeer om sy liggaam te steel, om dan rond te vertel dat hy opgestaan het. Dink net daaraan watter groot bedrog dit dan nie sal wees nie.Ons vra asseblief dat u die graf moet laat verseël en dit vir drie dae lank deur wagte laat bewaak." Pilatus het aan hulle versoek voldoen. Die graf is verseël en word deur 'n paar soldate bewaak.
Die vier dissipels, Johannes, Jakobus, Petrus en Andreas, het vandag in die stad na die ander dissipels gesoek. Hulle het met Jesus se gevangeneming gevlug en uit vrees vir die Fariseërs gaan wegkruip. Johannes hulle het hulle almal opgespoor. Oom Simon huisves hulle vannag in die groot bokamer, waar hulle saam met Jesus die paasfees gevier het en Hy die nagmaal ingestel het.
Pappa, ek het my vandag al menige kere afgevra of alles dan tevergeefs was. Waarom is Jesus se geboorte dan deur 'n engel aangekondig? Het dit nie iets spesiaals beteken nie? Waarom moes Hy gister soos 'n misdadiger aan 'n kruis sterf, nadat Hy soveel wondere verrig en soveel goed aan mense gedoen het? Het dit dan geen betekenis nie? Hy was een van Jehova se grootste profete, maar Hy is deur die volksleiers verwerp. Ek sal die Here altyd dank dat ek Hom ook 'n rukkie lank geken het en my in sy volmaakte liefde kon verbly. Ek sal Hom nooit vergeet nie.
Van u hartseer dogter Adina.