DIE CHARISMATIESE GEVAAR (19) (SLOT)

Ds AE van den Berg

Lees reeks by Die Charismatiese Gevaar

DIE WARE DOOP MET DIE HEILIGE GEES

“Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne, en ons is almal van een Gees deurdronge” (1 Kor.12:13).

Die charismate se Geestesdoop is vreemd aan die Bybel.  Nêrens is daar ‘n opdrag om met die Heilige Gees gedoop te word nie.  Die Bybel sê dat gelowiges met die bekering in die liggaam van Christus gedoop word (teks).  “julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon.  Maar as iemand die Gees van God nie het nie, diè behoort nie aan Hom nie” (Rom.8:9).

Die NT verwys sewe keer na die doop met die Heilige Gees en al sewe keer in Grieks in die indikatief.  Nooit as ‘n opdrag nie.  Die Bybel is vol ander opdragte, veral  Paulus se briewe.  “Moenie dronk word van wyn nie – daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul” (Efes.5:18).  Ons moet alle oormaat vermy omdat dit ons bande met Christus kan losmaak.  Vanaf vers 19 vertel Paulus hoe die vervulling met die Heilige Gees lyk sonder om eenmaal na verruklike godsdienstige ervarings en/of tale sprekery melding te maak soos wat die charismate leer!

Ons moet egter daarna streef om altyd met die Gees vervul te wees.  Alle gelowiges is met die Gees gedoop, maar nie almal is ewe veel vervul nie.   Ons moet doelbewus na vervulling streef.  Dis immers waarop heiligmaking neerkom.   Paulus moedig beslis nie gelowiges aan om na een of ander bonatuurlike toestand te streef nie.  Nog minder het hy ooit voorspraak vir ‘n tweede seën gemaak.  Hy praat baie duidelik van volgehoue, daaglikse vervulling wat nooit ‘n tweede seën kan rym nie.

Charismate dwaal deur te glo dat die doop/vervulling met die Gees ‘n permanente, eenmalige handeling is.   As dit begin vervaag, worstel hulle weereens met die selfde basies probleme waarmee alle gelowiges worstel.   Alhoewel ons gered is, is ons nie tot die engelestand verhewe nie.  Ons het nog steeds ‘n menslike liggaam met sy sondige begeertes.   Soos wat die Israeliete daagliks manna bymekaar gemaak het, moet gelowiges daagliks met die Heilige Gees vervul bly.

Let op die woord vervul.  ‘n Mens dink altyd aan ‘n houer waarin iets gegooi word totdat dit vol is.  Dis nie hoe die vervulling met die Gees gesien moet word nie.  Nie volmaak tot bo nie, maar eerder deurtrek van.  Dis soos ‘n spons wat met water deurtrek is.  Vervulling met die Gees beteken deurtrek van die Gees en deurtrek van die Gees kom op beheer deur die Gees neer.

Mense word maklik met haat of vreugde vervul.   Dit beteken dat hulle daardeur beheer word.  So moet ons deur die Gees beheer word.  Wanneer jy vol droefheid, haat of woede is, verteer dit jou en laat jou maklik verkeerde dinge doen.  Wanneer die Heilige Gees jou deurtrek, beheer Hy jou om die regte dinge te doen.

Let op Petrus en Johannes se optrede voor die Joodse Raad. “En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die Woord van God met vrymoedigheid gespreek” (Hand.4:31).  Die vervulling met die Gees het hulle gehelp om die regte ding te doen – hulle het God se saak gedien en Hom verheerlik.   Hulle het nie die kalklig probeer steel nie!

Gelowiges is nie almal ewe vervul nie.  Baie van die charismate wat op bonatuurlike ervarings aanspraak maak, se lewens lewer geen bewys van Geesvervulling nie.   Die eie ek voer dikwels die botoon en dit werk geestelike leegheid in die hand.

Hoe word gelowiges met die Gees vervul?  Deur daaglikse oorgawe.  Efes.4:40 sê dat ons die Gees kan bedroef en 1 Thes.5:19 dat ons Hom kan blus.  Die teenoorgestelde is ook waar nl. om die Gees te gehoorsaam en toe te laat om in ons te werk.  Ons doen dit deur aan Hom oor te gee soos krygsgevangenes wat oorgee en die oorwinnaars onvoorwaardelik gehoorsaam.  Dis ‘n doelbewuste, berekende handeling.

Elke keer as sonde wink, moet ons die rug daarop draai.  Ons soek ook nie vriende, ontspanning of afleiding wat ons siele kan skaad nie.   En as ons struikel, bely ons die sonde.  So bly die Gees in beheer en bly ons sy vreugde en krag geniet.  Dis die oorvloedige lewe waarvan Joh.10:10 praat.

Wat gebeur met jou as jy met die Heilige Gees vervul word?   Geniet jy bonatuurlike verruklike ervarings met uiterlike tekens soos wat die charismate glo?   Die Skrif sê niks daarvan nie.  Die NT briewe sê dat jy die vrug en nie die gawes van die Gees voortbring nie.   Hier verskil Gereformeerdes baie groot van charismate!

Efes.5:19-6:9 leer ons hoe die vrug van die Gees in die praktyk lyk.  Geesvervulde gelowiges sing tot God se eer; is dankbaar vir alles omdat dit van God kom.  Hulle gee ag op mekaar; vrouens is aan hul mans onderdanig en mans het hulle so lief soos wat Christus sy kerk liefhet.  Geesvervulde kinders is gedissiplineerd en gehoorsaam hul ouers omdat geesvervulde ouers dit vir hulle maklik maak om hul te eerbiedig ens.  Kol.3:16-22 is ‘n parallelle Skrifgedeelte.  Kortom: ‘n Geesvervulde gelowige is ‘n Christusbewuste mens wat die Woord van God ken en liefhet.

Petrus is ‘n treffende voorbeeld van geestesvervulling.  Toe hy naby Jesus was, het hy wonderlike dinge kon doen.  In Mt.16:16 verklaar hy dat Jesus die Seun van God is en stap daarna selfs op die water na Jesus toe aan.   In Getsemane, toe Jesus by hom was, trek hy selfs vreesloos sy swaard.   Maar kyk wat ‘n paar ure later gebeur het toe Jesus nie by hom was nie – Petrus het Hom drie maal verloën!  Al het Jesus hom na sy opstanding weer aangesien, was Petrus nooit weer dieselfde man nie.  Sy geestesvlak het feitlik tot leeg gedaal.

Op Pinksterdag het Petrus egter vreesloos in die tempel opgestaan en so kragtig gepreek, dat 3000 daar en dan tot bekering gekom het.   Kort daarna het hy ‘n kreupel man genees en met groot vrymoedigheid voor ‘n vyandiggesinde Sanhedrin oor Jesus gepraat.  Wat het met Petrus gebeur?  Hy is met die Heilige Gees vervul!  En dit het hom dieselfde vermoë gegee as toe Jesus liggaamlik by hom was.

Om met die Gees vervul te wees, beteken om elke oomblik so te leef asof Jesus by jou staan.  Dis praktiese Christusbewustheid!  As jy met Hom wil praat, praat met Hom asof Hy by jou staan.  As jy ‘n besluit moet neem, praat met Hom daaroor asof Hy by jou staan.  Hy sal vir jou die regte pad wys.

Christus kan egter nie by ons staan indien ons die Satan langs ons duld nie.  Een van hulle moet uitgesluit word.  Dis jou keuse!   Hoe meer ons van Jesus vergeet, hoe meer kry vleeslike dinge die oorhand in ons lewe.  Hoe meer ons sy teenwoordigheid in ons lewens toelaat, hoe meer vervul die Gees ons.

Die Skrif gee talle riglyne waaraan ons vervulling met die Heilige Gees kan toets.

As jy sing, sing jy werklik tot eer van God?  Is jy ‘n dankbare mens?  Wat kenmerk jou lewe?  Klagtes of dankbaarheid?  Kom jy goed met jou huismense en ander oor die weg?   Is jy eerlik, pligsgetrou en onderdanig?  Bely jy werklik al jou sonde voor God?   Leef jy reg of gee jou voor om iemand te wees wat jy in werklikheid nie is nie?   Bid jy?  Bestudeer jy God se Woord?  Gryp jy elke moontlike geleentheid aan om meer van Hom te leer?   Is die gemeenskap van die heiliges vir jou werklik belangrik?  Wil jy werklik saam met jou medegelowiges wees?   Bevorder jy goeie verhoudings in jou plaaslike gemeente?

Geestesvervulling kom menslik gesproke op ‘n proses van gemoedsvernuwing neer. “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Rom.12:2).

En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis, en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid en by die lydsaamheid die godsvrug, en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde.  Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie” (1 Pet.1:5-8).

Dit spel een ding baie duidelik uit – dis ‘n tydsame proses.  Daar is geen kortpad, of soos die Engelse sê quick fix soos charismate glo nie.

Daar word ‘n verhaal vertel van ‘n hond wat met ‘n been in die bek oor ‘n brug geloop het.  Toe hy sy eie weerkaatsing in die water sien, het die been in die water baie groter as die een in sy bek gelyk en dit vir die weerkaatsing laat los.   Ek sidder om daaraan te dink hoeveel mense nie al die Gereformeerde been vir ‘n weerkaatsing van iets wat op die oog af beter gelyk het laat los het nie!