Ds AE van den Berg
Lees reeks by Die Charismatiese Gevaar
GEESTESGAWES IN DIE VROEë KERK (2)
“Hulle het afgekom en vir hulle gebid, dat hulle die Heilige Gees mag ontvang, want Hy het toe nog op niemand van hulle geval nie, maar hulle was net gedoop in die Naam van die Here Jesus” (Hand.8:15,16).
Hand 8 is nog ‘n Skrifgedeelte wat die charismate as bewysplaas vir hul leer oor die doop met die Heilige Gees gebruik; eers bekering, dan die doop met die Gees. Hulle verstaan Hand.8 egter verkeerd. Dis net soos hoofstuk 2 ‘n uitsonderlike geval wat nie normatief vir die Christelike kerk is nie. God het ‘n doel met die gebeure in Samaria gehad. Die Samaritane moes net soos die Jode in Jerusalem ook aan die Heilige Gees bekend gestel word omdat die saligheid aan almal beloof is.
Die Jode en die Samaritane was van meet af aan vyande en het geen gemene sake met mekaar gehad nie. Toe die Samaritane die Evangelie van verlossing uit die mond van Jesus verneem, het talle van hulle bekeer en is in die Naam van Jesus gedoop. Maar hoe nou met die kerk? Sou die vyandskap skeiding in die kerk bring? Hulle kon ‘n eie Christen groep gevorm het en die volkvyandigheid voortsit. Daarom het God die bekendstelling aan die Heilige Gees van hulle weerhou totdat die Joodse apostels by hulle gekom en met hulle gepraat het.
Die Christelike kerk durf geen vyandige volkskeidingslyn volg nie, slegs ‘n volkere verskeidenheid vertoon. Jesus sê immers in Joh.10:16:”Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder”. Dis soos ‘n groot familie wat nie almal in dieselfde huis bly nie.
Enersyds was dit belangrik dat die Samaritane die krag en die gesag van die apostels verstaan en eerbiedig het. Hulle was immers die kanale waardeur die goddelike waarheid na hulle gevloei het. Andersyds was dit belangrik dat die Jode moes weet dat gelowige Samaritane deel van die kerk van Christus was. Daarom het daar wel ‘n verposing tussen hulle bekering en ontvangs van die Heilige Gees voorgekom. Dit was uiteraard ‘n oorgangsperiode in die vroeë kerk.
Samaritane wat heeltemal van die Joodse kerk geskei was, het nou deel van die Christelike kerk geword omdat hulle dieselfde Verlosser aanbid het. Gevolglik was die kerk was nie meer in Jerusalem onder Joodse Christene alleen nie, maar oral waar die Evangelie vrugbare grond gevind het. Deur die Heilige Gees aan Samaritane te gee, het God getoon dat die Joodse Christene nie God se witbroodjies was nie.
Hand.8 was ‘n verlenging van dit wat in Hand.2 gebeur het en derhalwe nie normatief vir die kerk van alle eeue nie. God het die apostels getoon dat die kerk geen nasionale grense gehad het nie en dat geen volk te sondig is om Jesus as Verlosser te hê nie.
Lukas skryf in Hand.10 van die bekering van Cornelius, ‘n Romeinse offisier. Die Jode was ook nie lief vir die Romeine nie. Na die gesig wat Petrus van die laken uit die hemel met die rein en onrein diere ontvang het, wou Cornelius hom oor die geloof sien. Petrus het sy Joodse vooroordeel gesluk en met die boodskappers na Cornelius in Caesarea gegaan waar Cornelius en die aanwesiges tot bekering gekom het. “En die gelowiges uit die besnydenis, almal wat saam met Petrus gekom het, was verbaas dat die gawe van die gawe van die Heilige Gees ook op die heidene gestort is. Want hulle het gehoor hoe hulle in tale spreek en God groot maak....” (Hand.10:45,46).
Ek wil twee opmerkings maak. Eerstens was daar geen verposing tussen Cornelius se bekering en sy vervulling met die Heilige Gees nie. Tweedens het hulle in ander tale gepraat om aan Jode te toon dat die Gees, soos by die Jode, ook na heidennasies gekom het. Die oorgang van die ou na die nuwe verbond is baie duidelik hier te sien.
Hand.10 is demonstratief sowel as normatief. Normatief, dat die bekering en die vervulling met die Heilige Gees terselfdertyd geskied. Demonstratief, dat hulle in tale gespreek het. Cornelius het beslis geweet wat op Pinksterdag in die tempel gebeur het. Met sy bekering het God kom toon dat dieselfde God wat altyd as uitsluitlik Joodse eiendom gereken is, ook die God van nie-Jode was, want hulle het iets van dit wat op Pinksterdag in Jerusalem gebeur het, self ervaar!
In Hand.19 vertel Lukas van Paulus wat in Efese aangekom het waar hy onkundige gelowiges aangetref het wie se kennis van die Christendom tot die werk van Johannes die Doper beperk was. Hulle was glad nie met Jesus se verlossingswerk vertroud nie. Toe Paulus die evangelie aan hulle verkondig het, het hulle tot bekering gekom en is met die Heilige Gees vervul en in tale gepraat.
Hierdie mense het beslis nie bewustelik na die Heilige Gees in hul lewe gesoek nie. “Ons het nie eens gehoor dat daar ‘n Heilige Gees is nie” (:2) Hulle het basies niks van Christus geweet nie! Jesus het mos baie oor die Heilige Gees gepraat en beloof dat Hy sou kom. Hulle was hoogstens dissipels van Johannes die Doper wat maar ‘n baie kort bediening gehad het. Daarbenewens was hierdie mense in Efese en het min van die nuwe bedeling geweet. Hulle moes met die Heilige Gees vertroud raak. En dis presies wat daardie dag in Efese gebeur het. Nadat Paulus met hulle oor Jesus gepraat het, is hulle gedoop en met die Heilige Gees vervul. Hulle was nou, soos die gelowiges in Jerusalem, Samaria en Caesarea deel van die kerk van Christus – Jode, Samaritane, Romeine; almal een groot familie, sonder om in dieselfde huis te bly!
Hierdie gebeure was nooit bedoel om ‘n patroon vir die kerk in sy geheel te wees nie. Dit was ‘n eenmalige gebeure onder ‘n beperkte aantal mense. Wie die vervulling met die Heilige Gees na die bekering as ‘n tweede seën met die spreek in tale plaas,
Dwing die boek Handelinge deur ‘n teologiese meule! Die gebeure in Handelinge rugsteun geensins die charismatiese dwaling nie!
Die groot fout wat charismate maak, is om die klem op die apostels se ervarings te plaas en nie hulle verkondiging nie. Ervaar eerder wat hulle geleer het. Moenie leer wat hulle ervaar het nie! Handelinge is die verhaal van die apostels se ervarings en is nie normatief nie. Die briewe vertel van hulle lering en dis wel normatief.
Handelinge vertel van die begin van ‘n nuwe tydperk in die geskiedenis – die era van die kerk en die Heilige Gees. Die werking van laasgenoemde word herhaaldelik in die NT briewe onder lesers se aandag gebring. Nie in een van hierdie briewe maak van ‘n tweede seën melding nie. Dit is dus ‘n leuen en onbeskaamde dwaalleer!
Lukas skryf in Hand.8 van Simon die towenaar wat na bonatuurlike krag gesoek het. Toe hy die geheim van die apostels se wondertekens wou koop, het Petrus hom sterk berispe. Baie gelowiges streef ook na krag; krag om te getuig, krag om dissipels te maak en krag om mense met die Evangelie te bereik. Dis as sulks nie verkeerd nie. Sommige soek dit egter vir die verkeerde redes - vir selfsugtige redes om soos Simon die towenaar gesien en vereer te word. Charismate is altyd op soek na iets meer. Enigiets opwindend wat die aandag op hul voortreflikheid kan vestig. Die eie ek!
Die gees van Simon die towenaar leef in talle charismatiese kerke voort – ‘n dors na iets meer, groter en kragtiger Met hul menslike inspanning soek hulle na iets wat alreeds gegee is en klee hierdie dwaasheid in ‘n skouspelagtige godsdienstige gewaad. God roep ons nie om bonatuurlike tekens en wonders te soek nie, maar om Jesus te leer ken; om geestelike gemeenskap te ervaar en ons ten volle met sy lyding en sterwe te vereenselwig (Heb.13:13).
Die dwaling oor die doop met die Heilige Gees staan sentraal en kenmerk dus alle charismatiese kerke. In 1 Kor.12:13 skryf Paulus dat die doop met die Heilige Gees ‘n integrale deel van elke gelowige se bekering is: “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam...” Dit verbind alle gelowiges tot ‘n geestelike eenheid met Christus wat die liggaam van Christus genoem word. Dis ‘n feit en nie ‘n gevoel soos wat die charismate voorhou nie. Daarbenewens doop die Heilige Gees doop ons nie. Christus wel. En Hy doop ons in die Gees.
As charismate konsekwent wil wees, moet hulle n.a.v. Rom. 8:9 leer dat die bekering niemand red nie, slegs die doop met die Heilige Gees. “Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, diè behoort nie aan Hom nie”. Hierdie teks sê dat slegs hulle wat die Gees van God ontvang (met die Gees gedoop is in charismatiese taal), aan Jesus behoort. As jy dus tot bekering kom, maar nog nie die doop met die Gees het nie, maak jy nie deel van sy Liggaam uit nie. Dis liederlike dwaling! Hoe kan ek bekeer wees, maar nie deel van die liggaam van Christus uitmaak nie? Alhoewel charismate dit nie prontuit sê nie, kan ‘n mens tog geen ander logiese gevolgtrekking kom as dat hulle die bekering minder belangrik as die doop met die Gees ag nie. Daarmee keer hulle die ganse heilsorde om!
Waar begin die mens se pad van saligheid? Of om dit anders te stel: Hoe kom ‘n mens in die hemel? Dit begin by die Heilige Gees wat ons tot die bekering in Jesus Christus roep. Die pad begin dus by die Heilige Gees en eindig by Jesus. Dis wat God in sy Woord sê! Wat sê die charismate? Jy begin by Jesus en werk na die doop met die Heilige Gees wat van jou die bloudruk van geestelike voortreflikheid maak.
Hulle keer dus die orde om en maak van die beginpunt die eindpunt en van die eindpunt die beginpunt!
Gelowiges soek of beywer hul nie vir die doop met die Heilige Gees nie. Niks in Hand.2 dui daarop dat gelowiges dit gedoen het nie. Gelowiges kan wel om die vervulling met die Heilige Gees bid. Gelowiges het almal die Heilige Gees, maar is nie na dieselfde mate met Hom vervul nie. Ongehoorsaamheid maak ons minder vervul en heiligmaking meer vervul. Ons moet daarvoor bid. “As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel” (Gal.5:25). Omdat Jesus die Heilige Gees gee, soek gelowiges nie daarna nie. Al wat gelowiges moet doen, is om die heiligmaking na te jaag (Heb.12:14). Dit lei altyd tot ‘n vervulling met die Heilige Gees.