Ds A.E. van den Berg
"Daarom moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie" (Hebr 2:1).
Ons weet nie wie Hebreërs geskryf het nie. Al wat seker is, is dat hy 'n diep gelowige was en uiters besorg oor dinge wat in die vroeë kerk verkeerd geloop het. Daarom rig hy die brief aan die Joodse leiers van die jong Christen-kerk en word dit Hebreërs genoem. Hy herinner die kerk aan die twee groot redes vir haar ontstaan (i) om bekeringsboodskappe aan ongelowiges te bring en (ii) om gelowiges geestelik op te bou en dwaaleer te bestry. Die kerk het dus 'n taak na binne en na buite.
Die skrywer was duidelik besorg oor die kerk se taak na binne. Dinge het nie na wense verloop nie. In plaas daarvan dat gelowiges die Satan saam teenstaan, val hulle mekaar aan. ‘n Tydgenoot, Jakobus, was net so beorg daaroor: "Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? " (Jak.4:1).
Nog 'n persoon wat oor dieselfde ding besorg was, was Petrus. " Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel; en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon..." (1 Pet.2:11, 12).
As kerkmense mekaar takel, kry Satan tot in sy kleintoontjiers lekker. Dis sy eeu-oue taktiek – om die oë van die kerk van die werklike vyand af weg te hou. Daarom is binnegevegte soos 'n doodsklok vir 'n kerk. Die Russies-Ortosdokse kerk is 'n klasieke voorbeeld hiervan. Terwyl die kerk in 1917 oor die kleur van die priesters se amptelike gewaad gestry het, het die Kommuniste die land onder hul neuse verower.
As 'n kerk sy stryd teen die Satan en sy magte los, is dit verby met hom. Dis waarom Paulus die kerk ernstig oproep: "Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug" (Efes.6:11,12).
Petrus was net so besorg oor dinge wat in kerkgeledre nie na wense verloop het nie: "Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?" (1 Pet 4:17).
Gelowiges word opgeroep om nie net te bid nie maar ook te waak. Satan kom nie altyd met swaar stewels op die kerk afmarsjeer nie, maar dikwels op die punte van sy tone. As die kerk nie hierteen waak nie, dryf gelowiges weg van die waarheid.
Dis soos 'n skip wat voor anker lê; solank as wat dit daaraan vasgemaak is, is dit veilig. As dit losraak, kan dit die skip se einde beteken. As gelowiges van hul waarheidsanker in Jesus en die Bybel losraak, dryf hulle weg en beland in die rowwe see van dwaalleer. Jesus maak ons vas; Satan maak ons los.
'n Kerk dryf op drie maniere weg
- as dit die waarheid los en die leuen dien
- As haar getuienis dat Jesus die enigste weg na God en die ewige lewe is, opdroog
- As haar lede nie meer na mekaar omsien nie. Kom ons let kortliks op elkeen van hulle.
(i)'n Kerk dryf weg as sy die waarheid los en, soos die NG Kerk onder andere, dwaalleer begin verkondig. Om te voorkom dat 'n kerk wegdryf, moet sy aan 'n Skrifgetroue leer geanker bly. Dis haar enigste redding in die stormsee van afvalligheid. Talle jongelinge wat met hul belydenis trou aan die kerk se leer beloof het, bevind hul vandag in kerke wat lelik dwaal!
Die waarheid het vandag skaars geword. Dominees preek nie meer daaroor nie. Hulle is bang dat hulle lidmate aanstoot sal gee. Die voorland is ontsporing! Wie die waarheid los, los die anker van die lewe en dryf weg. Nee, gelowiges bly by verantwoordelike Woord-onderrig.
Paulus gee aan 'n jong Timoteus raad: "Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het,..." (2 Tim.3:14). Moenie van die waarheid af wegdryf nie! Jy gaan op die rotse beland en al wat gaan oorbly, is 'n onooglike verroeste wrak wat niks beteken nie.
(ii) 'n Tweede rede waarom kerk wegdryf, is getuienis wat opdroog. God het die kerk die wêreld ingestuur om mense tot bekering op te roep en te lei. Johannes die Doper som hierdie taak op: "... Ek is die stem van een wat roep in die woestyn: Maak die pad van die Here reguit! ... " (Joh.1:23). En wat gebeur vandag? Die wêreld het die kerk ingegaan en in die naam van vernuwing die eens reguit paaie krom gemaak.
Soos in die tyd van Johannes die Doper het gelowiges 'n gewitige taak – om kerke en mense op te roep om die paaie van die Here weer reguit te maak. Te veel mense sit vandag in kerke, gepoleer en gestryk, maar nie in die bloed van Jesus gewas nie.
Kerke preek nie meer bekering nie. Die evangelie van verlossing is met 'n evangelie van maatskaplike opheffing vervang. En die boodskap? Draai maar net die liefdadigheidsmallemeule en jy sal gered word. Nee, niemand word op grond van goeie werke gered nie, slegs deur die bekering tot Jesus Christus.
(iii) 'n Derde rede wat 'n kerk laat wegdyf, is 'n gebrek aan omgee vir mekaar. Ten spyte daarvan dat ons in die gemeenskap van gelowiges glo, gee ons in die praktyk nie veel vir mekaar om nie. Is ek my broer se wagter? Ja, ek is want die Bybel sê so. Gelowiges moet mekaar se laste help dra, mekaar bemoedig, vir mekaar bid en ook vermaan. Dis alles opdragte wat verhoed dat ons in liefde van mekaar af wegdryf.
Baie van die vroeë Christengemeentes het weggedryf en ophou bestaan. Efese is een van hulle en die grootste Christengemeente buite Jerusalem: "Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie" (Openb 2 :4,5). Efese het egter nie geluister nie en God het haar lamp geblus. Dis vandag 'n bouvallige stad.
Ek is regtig besorg oor die AP Kerk. Ek kom lank genoeg met ons kerk saam om te sien hoe ons van mekaar af wegdryf. Dalende lidmaattalle soos die kerk se jaarboek aantoon, bevestig my besorgdheid. 'n Paar jaar gelede vertel 'n man my van sy gemeente op 'n klein dorpie wat met bykans 100 lidmate begin en selfs 'n eie leraar gehad het. Dit het binne 'n paar jaar na slegs 14 lidmate gekrimp – flenters baklei en minus 'n leraar. Daar is talle sulke gevalle. Ja, Satan maak amok in ons kerk!
Wat staan AP Kerk lidmate te doen om verval te verhoed? Ons sal 'n nuwe liefde vir ons kerk en ons mense moet kweek, veral ons jongmense by wie ons dringend 'n opregte liefde vir ons konserwatiewe lewenswaardes sal moet inprent. Hulle moet aan ons volk se ou waardes vashou omdat die nuwes geen geestelik-volkswaardige oplossing bied nie. Dinge moet in ons huise en gesinne regkom!
Die ou Jode het ook met afvalligheid in volksgeledere te kampe gehad. Daarom het God baie sterk op hul toewyding aan sy verbond met hulle aangedring: "Hoor, Israel, die Here onse God is 'n enige Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan" (Deutr.6:4-7).
'n Verdere iets wat sal verhoed dat ons van mekaar wegdryf, is 'n sterk getuienis. Ons moet by verlore volksgenote aandring om hulle te bekeer. Baie van hulle is met dieselfde onderduimse dinge as die plaaslike heidene besig! Hulle sal hul moet bekeer. Daarvoor sal ons leraars ook hard en duidelik vanaf kansels moet praat.
Dan sal ons ook baie meer vir mekaar moet omgee. Ons gaan mank aan opregte broederliefde. Kom ons neem die skrywer van ons teksvers se raad baie ernstiger as ooit tevore op dat ons nie in leer of lewenswandel van mekaar af wegdryf nie.