Ds A.E. van den Berg
“By dit alles het Job nie gesondig en aan God niks ongerymds toegeskrywe nie” (Job 1:22)
Ons leef net een keer op aarde, maar as ons reg leef, is een keer genoeg. Van een ding kan ons baie seker wees; dat ons op ons lewenspad op een of ander manier beproef gaan word; en nie net eenmaal nie. Hoe ons dit gaan hanteer, toon die gehalte van geloof. Sommige s'n is sterk terwyl ander in selfbejammering vou.
Beproewing bring dikwels verwyte. Sommige mense verwyt hulself. Ander verwyt die Here en sê: “As dit is hoe God met my maak, my behandel, wil ek niks meer met Hom te doen hê nie!” Hulle sien geloof as ʼn ongeluksvrywaringspolis. As hulle hul kant bring, moet God hulle niks sleg laat oorkom nie. En as beproewing in hul lewe opduik, is hulle teleurgestel in die geloof en raak hulle bitter. God skuld ons niks nie, selfs nie eens die lewe nie. Die loon van die sonde is die dood. Ons moes almal dood gewees het. Dat ons leef is genade – onverdiende guns!
Die dood van ʼn geliefde is van die grootste beproewings, veral as dit onverwags is. Baie mense verkwalik dan God daarvoor en onttrek hul van die lewe; veral van die kerklike lewe en die gemeenskap van die gelowiges.
In tye van beproewing het ons God juis die nodigste. Ware gelowiges sal eerder meer beproewing verduur as om hul rug op God te draai. Die verhale van die martelare in die vroeë Christen kerk gryp ʼn mens aan. Gelowiges moet nooit toelaat dat omstandighede hul van hul geloof stroop nie want dis presies wat die Satan wil hê, vra maar vir Job!
God se wil moet in ons lewens voorop staan. Ons is kinders van die lig ongeag watter lig of skaduwee op ons lewenspad val. God se wil is nie iets wat iewers gesoek moet word nie. Dis iets wat ons moet doen – aan sy Woord gehoorsaam wees. In ʼn tyd van beproewing sy wil aanvaar en nie sy optrede veroordeel nie.
Ongelukkig sien baie mense God as ʼn spaarwiel; net goed in 'n geval van nood. Vir ander is godsdiens soos ʼn bus – hulle maak net daarvan gebruik as dit in hulle rigting beweeg. Nee, God moet die stuurwiel, nie die spaarwiel van ons lewens wees nie!
Beproewings bring baie vrae in die gemoed. In die lied Why vra Roger Wittaker: “Will the last word ever be spoken be why?” Dis so tipies mens. Ons vra graag waarom? God beantwoord ons waaroms nie altyd met daaroms nie; slegs met die belofte dat ons eendag alles sal verstaan. Paulus sê in 1 Kor.13:12 “ …Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken…”
Beproefdes probeer soms hul verbittering agter maskers versteek. Ongelukkig dra pyn nie vir lank ʼn masker nie en kom dit af. Gevolglik is daar net een oplossing; maak vrede met jou beproewing deur jou gedagtes op God se beloftes in te stel. Dis immers hoe Jesus die pyn van die kruis verduur het. Hy was geheel en al op sy hemelse Vader se wil en beloftes ingestel. "En Hy het Hom van hulle afgesonder ...en neergekniel en gebid en gesê: Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!" (Luk.22:42)
Lank gelede loop ʼn tou-loper voor ʼn skare mense oor die Niagra waterval. “Waarom dra jy nie iemand op jou rug oor nie?” vra ʼn verslaggewer. “Kom klim op my rug” nooi hy hom. Na mooipraat en baie beloftes het hy ingestem. Net voordat hulle loop, sê die tou-loper vir hom: “Sien jy daardie rooi rots aan die oorkant? Hou jou oë net daarop gerig. Moenie afkyk nie!” Vreesbevange het hy net die rots in oog gehou, nie afgekyk nie en die oorkant veilig bereik.
Ons leer hieruit ʼn belangrike lewensles: as jy deur beproewing gaan, kyk vorentoe; nie agter jou, nie langs jou of waar ook al nie; net vorentoe na die Rots van alle eeue aan die oorkant – Jesus onse Here. Petrus het een nag op die see van Galilea gewaag om sy oë van Jesus af te neem en byna verdrink. Moenie dieselfde fout maak nie!
God beproef dikwels gelowiges om sy doel met hulle te bereik. Hy gebruik soms pyn en lyding as ʼn megafoon waarmee Hy ʼn dowe wêreld wakker wil maak. Daar is gelowiges wat soms vir lank ernstige beproewing verduur, maar nooit die hand van God los nie. So verheerlik hulle God op ʼn besondere wyse. Hy plaas hulle voete op ʼn stewige rots; daarom sink hulle nie!
Christus beskou nie ons beproewinge van ver af en kyk hoe ons swaarkry nie. In sulke tye is Hy juis baie nader aan ons as wat ons dink. Hy het baie medelye met ons. Hy het selfs by die graf van sy vriend Lasarus gehuil. Daar is geen dieper lyding as dit wat Hy tydens sy lydenstyd ervaar het nie. En daar is geen donkerder diepte as wat Hy alreeds aan die kruis oorwin het nie.
By geleentheid bid ʼn gelowige: “Here, laat my nooit vergeet dat my siekte en pyn nie U straf op my sonde is nie. Plaas my voete op die stewige rots van u belofte dat U altyd by my sal wees, al gaan ek ook deur donker dieptes. Leer my dat ek elke donker uur as die besondere geleentheid sal sien om u liefde en genade beter te leer ken”.
God werk dikwels baie anders as wat ons verwag. Dink hier aan Job, die vroomste mens van daardie tyd op aarde. So het baie gelowiges al getuig dat hul beproewing geestelik hul beste tyd was. Ja, dat wanneer dit vir hulle gelyk het asof God onregverdig was, was Hy in werklikheid goed vir hulle. Wanneer gelowiges se gesondheid knak en geen medikasie meer help nie, het hulle een wonderlike troos: God se liefde vir sy kinders verdwyn nie saam met hul gesondheid nie!
Jare gelede was ʼn skilder op ʼn hoë steierwerk besig om die koepel van ʼn katedraal te skilder. Nadat hy ʼn deel daarvan voltooi het, het hy teruggetree om die werk van ʼn afstand te besigtig en byna afgeval. Gelukkig het ʼn vriend dit betyds gesien, ʼn kwas gegryp en ʼn streep deur die kunswerk getrek. Die skilder het instinkmatig vorentoe gespring om die skade te verhoed en hom van ʼn gewisse ramp gered.
Ons droom almal van die soort lewe wat ons graag sou wou lei. En soos ons daaraan werk, loop ons soms onwetend al verder van ons geestelike veiligheid weg en nader aan die gevaar. Dan gryp God soms drasties in en bederf ons lewensprent ten einde ons siele van die verderf te red.
Spurgeon het gesê dat van al sy lewenservarings hy God ook vir beproewings kan dank wat van hom ʼn geestelik sterker mens gemaak het. Hy getuig dat hy in die brandoond van beproewing meer geesteskrag as in voorspoeddae geput het. God was in die donker dieptes so na aan hom, dat hy amper aan Hom kon raak!
Dit was ook Job se ervaring in sy beproewing – God het hom nie alleen gelaat nie, maar was altyd daar. God vrywaar ons nie altyd van beproewing nie, maar is saam met ons daarin. God het Daniel se drie vriende nie voor die vuuroond gered nie maar binne-in die vuur-oond! Dieselfde ook met Daniel. God red hom nie voor die leeukuil nie, maar binne-in tussen die leeus.
Soms gaan gelowiges deur diep waters en kan dan nie verstaan waarom God hulle dit nie gespaar het nie. Maar as hulle mooi kyk, is God by hulle in hul beproewing. Job het Hom gesien. Daarom word daar iets groots van hierdie man gesê: “By dit alles het Job nie gesondig en aan God niks ongerymds toegeskrywe nie” Mag dit van elke gelowige wat deur ʼn beproewing gaan gesê word!