Ds A.E. van den Berg
“Kyk,die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God” (Open.21:3).
Jare gelede was 'n padkaart noodsaaklik om 'n onbekende bestemming te bereik. Vandag word 'n GPS daarvoor gebruik en waarsku selfs teen verkeerde paaie. Die Bybel is God se GPS. Dit dui nie net vir mense die pad na die ewige geluksaligheid aan nie, maar waarsku ook teen verkeerde paaie in die lewe, en daar is baie. Salomo skryf: “Kom nie op die pad van die goddelose en betree die weg van die slegtes nie.. Vermy dit, gaan nie daarop nie, wyk daarvan af en gaan verby” (Spreuke.4:14.15).
Wie by God se GPS hou, se reis eindig nie na die dood nie maar gaan verby tot by die Nuwe Jerusalem. Dis egter nie 'n maklike reis nie. Ons is en bly sondaars en is so geneig om verkeerde paaie te neem. Sekere paaie lyk soms goed maar laat mense die pad na die Nuwe Jerusalem byster raak. Salomo sê: “Daar is 'n weg wat vir 'n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spreuke 14:12).
Daarom is dit uiters noodsaaklik om God se GPS aanduidings in die Bybel te volg: “U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my pad” (Ps.119:105). Ongelukkig maak sonde mense blind vir God se GPS en skep by hulle selfs 'n opgewondenheid om die afdraai-paaie te neem.
Alle afdraai-paaie is doodloop-paaie wat dikwels noodlottig is indien nie betyds omgedraai word nie. Die verlore seun (Luk.15) se afdraaipad het hom tussen varke laat beland maar spoedig tot besinning gebring: “Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig... “ (:18). In vandag se taal sou hy kon sê: “Pa, ek het nie na God se GPS geluister soos pa my geleer het nie. Ek het die pad byster geraak, maar ek het omgedraai terug na pa toe”
God se aardse GPS -aanduidings eindig met die dood. Vir sommige is die pad kort soos vir die jong man in die gelykenis van Lasarus en die ryk man. Vir ander is dit weer lank. Tog voel dit vir almal asof dit altyd te vinnig verbygaan. “Want al ons dae gaan verby .. ons bring ons jare deur soos 'n gedagte” (Ps.90:9).
God se GPS-aanduidings is slegs vir ons aardse lewe bedoel. Dit beteken egter nie dat die dood die eindbestemming is nie, want dan is ons niks beter daaraan toe as diere wat doodgaan; oor en verby nie. Nee, so anders as diere, het ons siele wat voortleef. Salomo skryf: “...en die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het” (Prediker12:8).
Wat gebeur met die siel na die dood? Daar tree 'n groot verskil in. Sommige mense bevind hulle in die Paradys: “En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees” (Luk.23:43). Baie meer mense bevind hul in die doderyk: “En die ryk man het ook gesterwe .... En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem” (Luk.16:23).
Wat veroorsaak die verskil tussen vreugde en smarte? Die bekering, 'n bewustelike keuse om in 'n geestelike verhouding met Jesus te leef. Baie mense het soos Paulus 'n spesifieke dag en datum van hul bekering. Ander gelowiges het nie, maar weet van vroeg af dat hulle 'n verhouding met God het. Samuel en Timoteus is voorbeelde hiervan. Hulle het nie spesifieke datums gehad nie maar wel in saligmakende verhoudings geleef. En dis al wat tel – 'n persoonlike verhouding met Jesus Christus.
Pas egter op vir blote godsdienstigheid. Dit kan baie gevaarlik wees. Baie mense glo dat godsdiens as sulks jou die ewige geluksaligheid sal besorg. Daarvoor moet jy net jou Bybel gereeld lees, bid en gereeld kerk toe gaan en siedaar jou siel is gered. Dis 'n leuen wat jou die Nuwe Jerusalem gaan laat mis en in die hel gaan laat beland. Sulke godsdiens red niemand nie – alleenlik 'n persoonlike verhouding met Jesus. Wie sonder so 'n verhouding met Hom sterf, beland in die doderyk en later in die hel.
Niemand gaan na die dood direk hemel of hel toe nie. Daar is twee wagkamers. Die Paradys is die wagkamer vir gelowiges wat 'n verhouding met Jesus gehad het: “In die huis van my Vader is daar baie wonings .... Ek gaan om vir julle plek te berei” (Joh.14:2). Wat 'n opgewondenheid is daar nie alreeds vir gelowiges in hierdie wagkamer nie. As die tyd aanbreek gaan hulle vandaar na die Nuwe Jerusalem – die ewige salige eindpunt.
Die hemel is die uitsluitlike woonplek van God en sy engele. Niemand gaan na sy dood daarheen nie. Jesus sê self: “En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het...” (Joh.3:13).
As van Henog sowel as Elia gesê word dat hulle in die hemel opgeneem is, word na die Paradys as die wagkamer na die Nuwe Jerusalem verwys. In die paradys ervaar gelowiges alreeds ongekende vreugde. .... In die huis van my Vader is daar baie wonings ... Ek gaan om vir julle plek te berei” (Joh.14:1,2). Met ongelowiges is dit geheel anders; hulle gaan na die doderyk –die wagkamer na die hel!
Die Bybel skets die doderyk as 'n plek van 'n geween en 'n gekners van tande wat erge berou beskryf. Wie daarin verkeer se lot is vir ewig verseël en te laat vir bekering. “.... en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp” (Open.20:13,14).
Die Bybel sê dat die Nuwe Jerusalem ná die oordeelsdag uit die hemel neerdaal. Dan verlaat die gelowiges die Paradys vir hul ewige woning. Gelowiges het al in die OT van die ewige stad geweet. Van die profete soos Jesaja het 'n toekomsgesig daarvan ontvang: “Want kyk, Ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie.... (Jes.65:17). Abraham het ook daarvan geweet: “Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is” (Hebr.11:10).
Vir Johannes het die Nuwe Jerusalem in Openbaring soos 'n diamant gelyk wat die heerlikheid van God uitstraal en net vir gelowiges toeganklik is: “En daarin sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie; maar net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam” (Open.21:27) .
Die stad is die vervulling van God se belofte: “Julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt. Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon” (2 Pet.3:12,13).
Die hartklop van Open. 21 en 22 is die volmaakte, glorieryke teenwoordigheid van God in die Nuwe Jerusalem. Die ou wêreld is vir ewig verby. God het 'n nuwe wêreld geskep. “En ’n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam” (:22).
Die nuwe hemel en die nuwe aarde is nou een. God en die gelowiges is nie meer geskei nie. Sy woonplek is by die gelowiges self: “Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God” (Open.21:3).
Maak baie seker dat jy die bekering gesmaak het en in 'n persoonlike verhouding met Jesus staan. Volg God se GPS enduit want dan sal Jesus eendag ook vir jou sê: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg.... Gaan in in die vreugde van jou heer.” (Mat.25:23).