Ds. A.E van den Berg
Suid-Afrika gaan sedert die volksplanting (1652) onder roof gebuk. Die eerste koloniste was duisende seemyle van mense met wie hulle 'n erfenis gedeel het geskei en het na die plaaslike bevolking probeer uitreik. Hierdie mense se roofsug het hulle egter gou laat besef dat hulle in die gees ligjare van hulle geskei was en goeie rasseverhoudinge nooit sou verwerklik nie.
Dit het die koloniste genoodsaak om vir hulself 'n veilig afstand in 'n onveilige wêreld te skep. Niks het sedertdien verander nie. Roof en swak rasseverhoudinge is steeds aan die orde van die dag en maak dat ons in slegter omstandighede leef as dié waarin ons gebore is.
In die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan vertel Jesus van 'n reisiger wat tydens 'n reis in 'n onherbergsame gebied deur rowers oorval en wreed aangerand is. Hulle het sy besittings gesteel en hom vir dood agtergelaat.
Sulke gevalle was destyds nie onbekend nie. Jeremia was ook daarvan bewus, selfs aanvalle op boere – plaasaanvalle. “Met lewensgevaar bring ons ons brood in vanweë die swaard van die woestyn” (Klaag.5:9).
Omdat rowers veral snags toegeslaan het, is daar liefs nie na donker gereis nie. Die digter van Ps.91 skryf: “Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie, vir die pes wat in die donker wandel....” (:6). Die pes waarna hy verwys, was nie een of ander siekte nie. Hy sê uitdruklik dat hierdie pes wandel . Dit was rowers wat mense aangeval het.
Hulle het mense eers beloer en daarna vir die regte tyd gewag om toe te slaan. Salomo vergelyk hulle met prostitute. Eers kry hulle 'n slagoffer in die oog en slaan daarna toe: “Sy lê ook en loer soos 'n rower en vermeerder die ontroues onder die mensdom” (Spr. 23:28). Paulus was tydens sy buitelandse reise ook deeglik van rowers bewus: “...dikwels op reis, in gevare van riviere, in gevare van rowers....” (2 Kor.11:26).
Roof neem egter verskeie vorms aan. Grondroof is een daarvan. Waar enkelinge met 'n gewone roof die spit afbyt, byt meer mense dit met grondroof af. Toe Israel van God afvallig geword het, het God selfs grondrowers as 'n tugroede in sy hand gebruik:
“...so het die toorn van die HERE teen Israel ontvlam, en Hy het hulle oorgegee in die hand van rowers wat hulle beroof het; en Hy het hulle verkoop in die hand van hulle vyande rondom, sodat hulle nie meer kon standhou voor hulle vyande nie... dan verwek die HERE rigters wat hulle verlos uit die hand van hulle berowers”.” (Rigt. 2:14,16).
Jesaja skryf: “Wie het Jakob oorgegee as ’n plundering en Israel aan die berowers? Is dit nie die HERE teen wie ons gesondig het nie? En hulle wou in sy weë nie wandel nie en het na sy wet nie geluister nie” (Jes. 42:24).
Menseroof is 'n nog 'n vorm van roof en haal gereeld plaaslike en internasionale nuus. Ook dit is niks nuut nie. Oud-Israel het dit ook geken: “En hy wat ’n mens steel en hom verkoop — of as hy in sy besit gevind word — dié moet sekerlik gedood word” (Ex.21:16).
Roof is egter nie altyd gewelddadig nie en gedy ook in onreg-bedelings waar roofwetgewing op eerbare mense afgedwing word om sekere groepe te bemagtig. Dit het ná apartheid standaard praktyk in Suid-Afrika geword.
Roof en korrupsie is twee kante van dieselfde muntstuk en neem onrusbarende afmetinge in ons land aan. Waar slegte reëls gemaak word, laat die argitekte daarvan roof altyd goed voorkom. Hulle slaag nie altyd daarin nie en laat politieke kaders gereeld in die warm water beland!
God haat roof: “Want Ek, die HERE, het die reg lief; Ek haat die roof met onreg” (Jes.61:8). Let wel “met onreg” – wette wat deur roofsug wettig is. Dawid skryf: “Vertrou nie op verdrukking en bou geen ydele hoop op rowery nie; as die vermoë aangroei, sit daar die hart nie op nie!” (Ps.62::11).
Rowers berokken 'n land oneindig meer skade as natuurrampe. Let op ons eie land. Geen pen kan die omvang van roof na 1994 in Suid-Afrika beskryf nie. Dit het van die regering 'n georganiseerde plunder-organisasie gemaak wie se roofsug gereeld deur morele verskonings doodgeverf word.
Gewettigde roof plaas altyd die mooi van die lewe onder druk. Daarbenewens haat God onregwetgewing omdat dit die leuen dien en die lig van eerbare gelowige burgers verdof. “Wee hom wat sy huis bou met ongeregtigheid en sy dakkamers met onreg...” (Jer. 22:13). Roofsugtige mense haat ook diegene wat hul teenstaan. “ 'n Man van onreg is vir die regverdiges ’n gruwel, en vir die goddelose is die opregte van wandel ’n gruwel” (Spr.29:27).
Gelowiges voel soms magteloos teen die gewettigde roof in ons land maar moet nooit ophou om kapsie daarteen te maak en reg te lewe nie: “Welgeluksalig is hulle wat die reg bewaar, die wat altyd geregtigheid doen” (Ps.106:3).