Ds A.E. van den Berg
“Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie”. (Romeine 8:38,39)
Baie mense glo dat daar nie werklik 'n hel met 'n ewige vuur is nie, Hulle beskou dit bloot simbolies. Wat glo jy? Simboliek of feitlikheid? Die hel is werklik 'n poel van ewige vuur. Hoe verskriklik sal dit nie wees om getroue kerkgangers eendag in die hel te sien nie! Hoe verskriklik vir ouers om hul kinders, of vir kinders om hul ouers daar te sien nie! Ek kan my aan geen groter droefheid indink as iemand wat die hel met sy vader se gebede op sy voetstappe en sy moeder se trane die ewige verderf betree nie.
Baie mense hang as te ware aan ‘n dun draadjie oor die rand van die hel. Dit kan enige tyd breek. Net ‘n laaste asemteug of ‘n vinnige hartstilstand en hy is die ewige verdoemenis sonder God in. Hoe kan sulke mense enigsins rustig leef? Sommige mense lag miskien oor die hel, maar hulle gaan hul nie daaruit lag nie!
Baie mense glo dat God niemand verlore sal laat gaan nie. Hy is dan ‘n God van liefde, nie waar nie? Ek wil vir so ‘n persoon net een vraag vra: “Sê God dit in sy Woord?” As dit wel in die Bybel staan, verlaat ek onmiddellik die bediening. Maar, omdat dit nie in die Bybel staan nie, het ek alle rede om mense dringend te waarsku!
Dis belangrik om die dood reg te verstaan. Dit kan vir mense net een van twee dinge beteken – dis of ‘n toestand van algehele onbewustheid, net soos diere wat doodgaan (so mag hulle dink), of dis ‘n geheel nuwe lewe wat gelowiges betree. Wie laasgenoemde glo, moet die dood as ‘n wins beskou.
Die dood is vir elke mens ‘n pynlike verlies. Daarom is ons hartseer as ‘n geliefde sterf. Jesus het self oor die dood van ‘n vriend gehuil. As ons aan gelowiges dink wat reeds in hul ewige woning tuisgekom het, moet daar ook groot dankbaarheid in ons hartseer wees – hulle is vir ewig veilig en gelukkig by Jesus,
“En ek het 'n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God Self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan” (Open 21:3,4).
Die Bybel beskryf min doodsbed-tonele. Miskien omdat God ons meer aandag aan die lewe wil laat skenk. Hoe ons leef, is immers belangriker as hoe ons sterf. Die grootste tragedie is nie die dood nie, maar mense wat geestelik onverskillig leef.
Ons moet ons daagliks daaraan herinner dat ons op pad na ons dood is. Ongelukkig maak dit baie mense so bang vir die dood soos kinders vir die donker. Gelukkig hou die vallei van die doodskaduwee vir gelowiges geen donkerte in nie. “Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my”(Ps.23:4).
Ondanks wat die Bybel sê, bly mense teen die aakligheid van die dood vaskyk, Dit maak hulle bang. Nee, dis nie die dood wat ons bang moet maak nie, maar die tyd wat dit voorafgaan. Daar is meer vrees in die lewe as in die dood. Wees dan eerder bang vir die lewe omdat dit ‘n stryd is om te veg en ‘n rowwe rit om te begaan.
Die dood is om die wêreld wat jy ken vir groter kennis te verruil. Dis om geliefdes vir groter hiernamaalse liefde agter te laat. Dis om ‘n land te vind wat beter as jou eie is en ‘n huis wonderliker as jou aardse woning. Ja, die dood is slegs ‘n horison en 'n beperking van ons uitsig. Gelowiges sien dit egter verder as hierdie horison.
Wie deur die bekering Jesus as Verlosser leer ken het, is altyd reg vir die dood. Maar nie ongelowiges nie. Hulle vrees die dood meer as enigiets anders. Geen mens is meer geskik om op die aarde te leef as hy wat vir die dood reg is nie. Wie kan met meer vrede gaan slaap en met soveel vreugde opstaan as hy wat in Jesus nuut geword het? Vir hom is die dood slegs die sleutel wat die paleis van die ewigheid oopsluit.
By geleentheid vra iemand ‘n bejaarde hoe oud hy is. “Ek is aan die regte kant van 70” antwoord hy. Toe dit later aan die lig kom dat hy 78 jaar oud is, vra die persoon hom wat hy met die regte kant van 70 bedoel? “Dis die kant van 70, die naaste aan my hemelse woning!” antwoord hy.
Ons moet as gelowiges die lewe enduit voluit leef. Vir gelowiges beteken die dood nie die einde van hul lewe nie, maar die oorgang na die eintlike lewe. Die dood is nie die uitdoof van ‘n lig nie, maar die doodblaas van ‘n lamp omdat die dag aangebreek het.
Die dood is nie die grootste tragedie van die lewe nie, maar eerder dit wat in mense sterf terwyl hulle nog leef. Die dood het nie die laaste sê oor gelowiges nie. Dit het nie die krag om hulle heeltemal te vernietig nie. God het in sy groot genade ons van die vrees van die onafwendbare dood verlos deur aan die einde van hierdie lewe ‘n nuwe begin by Hom te maak.
Wie God met sy hele lewe vertrou, vertrou ons Hom ook met ons dood. God los nooit ons hand nie. Die Een wat ons aan die einde van ons lewe gaan inwag, is niemand anders as die Goeie Herder wat sy lewe vir die skape afgelê het nie.
Gelowiges moenie die dood vrees nie want dis eintlik ‘n vriend. Niemand sterf voor sy tyd nie. Alle vrugte word mos nie terselfdertyd ryp nie. So ook gelowiges. Hulle is eers ryp wanneer God hulle huis toe neem. Sommige is op 21 jaar al ryp terwyl ander eers op 70 of 80 jaar ryp is. Die lewe is soos ‘n wedloop; op een of ander tyd gee jy jou fakkel aan ‘n ander een oor. Jy maak maar net plek vir hom/haar soos wat ander voor jou vir jou plek gemaak het.
Jare gelede besoek ‘n gelowige sy sterwende vriend. “Vaarwel my vriend, ek sal jou nooit weer in die land van die lewendes sien nie” sê hy; waarop die sterwende antwoord: “Ek sal jou weer in die land van die lewendes sien. Ek is daarheen op pad. Hierdie lewe is die land van die sterwendes”.
Spurgeon vertel weer van ‘n geval waar hy ‘n sterwende gelowige gevra het hoe dit met hom gaan. “Amper goed” het die man geantwoord. Ja, die dood is ‘n geneesmiddel wat ons vir ewig gesond maak. Gevolglik is die beste tyd van ‘n gelowige se lewe, sy laaste. Want dan is hy die naaste aan die hiernamaals lewe.
Spurgeon vertel ook van ‘n ou Walliese dame wat op haar sterfbed deur haar leraar besoek is. “Suster, jy is besig om te sink!” het hy vir haar gesê. “Maar dominee, hoe op aarde kan ek dwarsdeur ‘n rots sink? ‘n Mens wat op ‘n rots staan kan mos nie sink nie. Ek staan dan op die Rots van alle eeue!” antwoord sy. Dis wonderlik om ‘n gelowige vreesloos te sien sterf. Die rivier van so 'n persoon se sterflike lewe kom wel tot stilstand net om in ‘n oseaan van ‘n glorieryke hiernamaals uit te mond.
Ons moet soos ‘n Columbus van ouds wees wat tydens sy eerste ontdekkingsreis na Amerika nie presies kon sê wat aan die oorkant van die onbekende see was nie. Al sy hoop en verwagtings kon selfs op niks uitgeloop het. Al wat hy vas geglo het, was dat die see ook ‘n oorkantste kus het. Ja, die lewe het ‘n oorkantste kus wat slegs met die vaartuig van die dood bereik kan word.
Gevolglik moet die gedagte van die dood gelowiges nooit ontstel nie. Voor ons lê daar baie beter dinge as agter ons. Die dood is nie ‘n vyand wat ‘n einde aan alles maak nie, maar ‘n vriend wat ons aan die hand neem om die koninkryk van die ewige liefde te kan betree. Die dood is die dienskneg van ‘n liefdevolle God wat ons in sy huis wil verwelkom.
By geleentheid het ‘n kind ‘n voëlnes in ‘n boom met ‘n paar eiertjies daarin gevind. Toe hy na verloop van tyd weer daar verbykom, vind hy tot sy ontsteltenis dat daar net doppe in die nes oorgebly het. Sy moeder sê toe vir hom: “Dis geen ramp nie, my kind! Daar was klein voëltjies binne in die eiers. Hulle het uitgebroei en weggevlieg om saam met die ander voëls te wees. Die eiers is nie onnodig gebreek nie, hulle het slegs aan hulle doel beantwoord”.
Ons moenie die dood van geliefdes as ‘n ramp beskou nie. Dis maar net die doppe wat gebreek en oorgebly het. Ons geliefdes is saam met al die ander ontslape gelowiges in die hiernamaals. Hulle dood was vir hulle geen verlies nie, maar eerder ‘n ongelooflike wins. Sien jy dit ook so?