Ds A.E. van den Berg
Daar word van Suid-Afrikaanse burgers verwag om die Grondwet van 1996 as die hoogste gesag te beskou en nie die Bybel soos voorheen nie. Dis die uitvloeisel van 'n denkrigting wat die mensdom sedert die Franse Revolusie meevoer nl. Humanisme. Dis 'n wêreldbeskouing wat menslike waardigheid en vryhede vooropstel en die Bybel ter syde stel.
Suid-Afrika het na die afskaffing van afsonderlike ontwikkeling met hierdie wêreldbeskouing besield geraak en selfs 'n Handves van Menseregte in die grondwet opgeneem om die sg. waardigheid van die mens te beskerm.
Die wettiging van selfde geslag huwelike (2006) stam hieruit. Huweliksbevestigers mag kragtens die grondwet geen selfde geslag huwelike weier nie en kan selfs hul aanstellings verloor en/of wetlik vervolg word. Wie homoseksuele gedrag op Bybelse grond veroordeel, kan van haatspraak en 'n skending van menseregte aangekla word.
Uit hul humanistiese terminologie-denkwyse blyk dit dat sekere hoofstroomkerke in dieselfde denkrigting meegevoer is. So het die NG Kerk onlangs verklaar dat sy die grondwet as uitgangspunt vir die bevestiging van selfde geslag huwelike huldig en gevolglik menseregte hoër as God se Woord ag wat waarsku: “...mense wat — al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien, dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen” (Rom.1:32).
Die Bybel praat baie anders oor 'n grondwet. Jesus het die grondwet van die Koninkryk van God as volg saamgevat:“Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, siel en verstand. Dit is die eerste en die groot gebod. Die tweede wat hiermee gelykstaan is jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
Humanisme maak 'n parodie hiervan: “Jy moet die mens liefhê met jou hele hart, siel en verstand. Dit is die eerste en die groot gebod. Die tweede wat hiermee gelykstaan is jy moet jou naaste oortuig en verplig om hom aan die wil van die mens te onderwerp.”
Die vernietigende gevolge van wat sulke wetgewing vir die Christendom inhou moenie onderskat word nie. Dis alles deel van Satan se strategie om 'n magsbasis vir die koms van die Antichris te vestig.
Die profeet Daniël getuig van 'n gesig wat hy ontvang het – die gesig van ’n dier wat die mensdom gaan verslind. Dit sal God laster en tye en wet verander om mense in sy mag te kry (Daniël 7:23-25). Openbaring 13 waarsku ook teen 'n bose mag wat voor die wederkoms van Jesus mense wêreldwyd gaan oorheers.
Gelowiges kan dit nie keer nie. Dis alles dinge wat moet gebeur. Gelowiges moet egter nie stilsit nie maar mense en kerke waarsku om nie meerderhede slaafs na te volg nie. Moses skryf: “Jy mag die meerderheid nie volg in verkeerde dinge nie...” (Ex.32:2). Pasop vir Satan wat gelowiges met booshede aan bande lê: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu en soek wie hy kan verslind” (1 Pet 5:8).
Dis alles tekens van die tye waarvoor gelowiges hul gereed moet maak. “Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word... Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee” (Open.2:10).