GEBED SORG VIR GEESTELIKE FIKSHEID

Ds A.E. van den Berg

Want die liggaamlike oefening is tot weinig nut, maar die godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het” (1 Tim,4:8).

In die gelese gedeelte vermaan Paulus 'n jong Timotheus om geestelik fiks te wees. Timotheus was ’n Griek en vir die Grieke was liggaamlike oefening baie belangrik.   Gevolglik het Griekeland talle oefensale gehad en was Athene dan ook die plek waar die Olimpiese Spele sy oorsprong gehad het. 

Paulus gebruik juis die beeld van ’n oefensaal as hy aan Timotheus skryf. Net soos wat liggaamlike oefening ’n mens fisies fiks maak, maak geestelike oefening jou geestelik fiks. Dis beter as fisiese fiksheid omdat dit “…. die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het”(:8). Liggaamlike fiksheid het slegs aardse nut maar na die dood niks waarde nie. Daarenteen het geestelike fiksheid vir beide die lewe voor en veral na die dood ongekende waarde.

Maar wat is geestelike fiksheid? Dis daaglikse oefening in daardie dinge wat God behaag. Let wel: daagliks.   Soos wat liggaamlike oefensessies mense in ’n oefensaal liggaamlik fiks maak, maak oefensessies in God se oefensaal mense geestelik fiks ten einde aan God se doel met die lewe te beantwoord.

Die doel van enige oefening is om jou bestaande liggaamsvorm deur ’n nuwe gedragspatroon te verander. Jy moet egter deur 'n oefenprogram daarmee volhou; ook in 'n geestelike sin. Hierdie program kry ons in die Bybel wat ons leer hoe om geestelik fiks te raak en so te bly. God voorsien selfs ’n instrukteur hiervoor – die Heilige Gees.   Maar dan moet ons Hom toelaat om ons lewenspatroon te verander deur na Hom te luister soos wat jy na ’n gimnasium-instrukteur sou luister:“’n Leerling is nie bo sy meester nie; maar elkeen wat volleerd is, sal soos sy meester wees” (Luk.6:40).

Ons moet gebedfiks raak. Deur gebed betoon gelowiges hul bewondering vir God.   Die Onse Vader begin spesifiek daarmee: “… laat U naam geheilig word” Op sy sterfbed bid Dawid: “Aan U, Here, kom toe die grootheid en die mag en die heerlikheid en die roem en die majesteit, ja, alles in hemel en op aarde; aan U, Here, kom toe die koningskap en die selfverhoging as Hoof oor alles” (1 Kron. 29:11). Dit klink byna soos die begin en einde van die Onse Vader.

Deur gebed vra ons ook dat God se wil in ons lewens sal geskied. Ons eie wil lei baie maklik tot selfvernietiging, maar nie God se wil nie. Daarom bid ons in die Onse Vader: “… laat U wil geskied”(Mat.6:10). Gebed is nie 'n poging om God se wil te verander nie, maar eerder om dit te leer ken. Gevolglik is die doel van gebed ook om God se wil te soek en te vra dat sy wil ook ons wil sal wees.

Vervolgens rig ons ook deur gebede versoeke aan God: “...gee ons vandag ons daaglikse brood” (:11). Brood is stapelvoedsel en nodig vir gesondheid. So ook geestelike brood. Jesus sê in Joh.6:: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie....” (:35).

Wees egter versigtig as jy bid om God nie opdragte te gee nie. Hy is nie ons handlanger nie, maar ons Meester. Meld eerder deur gebede vir diens aan. Al is gebed ook versugtinge wat hemelwaarts gerig word, is dit nie inligtingsessies waarmee ons God se aandag op ons persoonlike behoeftes vestig nie.

Deur gebed bely ons ook ons menigvuldige sondes: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Joh.1:9).   In gebed bid ons ook dat God ons oë vir die vangstrikke van die Satan sal open: “...en verlos ons van die bose” Ja, die Onse Vader leer ons hoe om reg te bid. Daarom word dit die Model-gebed genoem.

Jesus se apostels leer ons ook baie van gebed. Paulus skryf: “Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God…” (1 Thess.5:17,18).   Gebed is die vernaamste deel van ons dankbaarheid. Dit maak gelowiges kommervry en rustig: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by god. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en sinne bewaar in Christus Jesus” (Fil.4:6,7). Wanneer gelowiges hul hande in gebed saamvou, maak God syne vir hulle oop!

Die apostels het ook vir geleenthede gebid om die Evangelie aan mense wat Jesus nie ken nie te verkondig: “...en bid tegelykertyd ook vir ons, dat God vir ons die deur van die woord mag open om te spreek van die verborgenheid van Christus” (Kol.4:3).

Alhoewel Jesus en Sy apostels baie saam gebid het, het Hy hulle ook geleer dat daar tye is wanneer hulle alleen moes bid: “En wanneer jy bid, moet jy nie wees soos die geveinsdes nie; wan t hulle hou daarvan om …. deur die mense gesien te word…. Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is…” (Mat.6:5,6).

Jesus sê ook vir sy dissipels dat ware gebed nie uit baie woorde bestaan nie. 'n Gelowige bid meer met die hart as met die mond. Gebed is dus meer hart as tong en gevolglik is dit beter om 'n hart sonder woorde as om woorde sonder 'n hart te hê!

Jesus leer ook sy dissipels by wyse van ’n gelykenis om in die gebed te volhard. In Luk.18 vertel Jesus die gelykenis van die weduwee wat by die onregverdige regter om geregtigheid bly aangedring het totdat hy na haar geluister en opgetree het.

Die Bybel het baie voorbeelde van gelowiges wat gebedfiks was. Dawid, die man na God se hart, het baie gebid: “Maar ek, ek roep God aan en die Here sal my verlos” (Ps.55:17).   Daniël is nog ’n voorbeeld van ’n volhardende bidder wat selfs in die leeukuil beland het omdat hy die koning se bevelskrif verontagsaam het.   Hy het ondervind hoe gebed vanuit die diepste put tot in die hoogste hemel opstyg.   Ja, daar is geen afstand so kort as die tussen God en 'n opregte bidder nie.

In die NT word van die profetes Anna gesê: “...en sy was ’n weduwee van omtrent vier-en-tagtig jaar. Sy het nie weggebly van die tempel nie en met vaste en gebede God gedien, nag en dag” (Luk.2:37). Ja, baie oumense is gebedfiks. In 1Timotheus is daar selfs ’n gebedsvoorskrif vir weduwees: “En sy wat waarlik weduwee is en alleen gelaat is, hoop op God en bly in smeking en gebede dag en nag” (5:5).  

Die intree-gebed is net so belangrik. Ons moet vir mekaar bid soos wat Epafras in Kolosse gedoen het: “Epafras wat een van julle is, ’n dienskneg van Christus, groet julle en stry altyd vir julle in die gebede…” (Kol.4:12).   Paulus het ook gereeld vir medegelowiges in die gemeentes gebid: “Ek dank my God elke maal as ek aan julle dink – en ek bid altyd in al my gebede vir julle almal met blydskap” (Fil.1:3,4).

Om vir ander in die gebed in te tree, is ’n bewys van liefde op die knieë.   Dit moet ’n gewoonte wees. Om gebedfiks te wees, vereis daaglikse oefening. Gelowiges moet so op God ingestel wees, dat hulle nie eers agterkom dat hulle eintlik bid nie.  

Gebed waarborg geestelike groei.   Hoe meer ’n gelowige bid, hoe sterker word hy in die geloof. Hy ontwikkel as te ware geestelike spiere. ’n Amerikaanse gelowige het by geleentheid gesê: “Seven days without prayer makes one weak”. Satan vrees min dinge soos gebede. Hy spot met ons godsdiens, kerkgang en ons goeie werke. Hy sidder egter as ons bid

As jy onfiks is en na ’n gimnasium toe gaan, begin jy met ’n oefenfiets en daarna beweeg jy aan na ander oefenapparate.   As ons geestelik fiks wil word, moet ons by gebed begin. Ons bid verreweg te min!