DIE REINIGENDE BLOED VAN JESUS

Ds A.E. van den Berg

Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde. ...As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Joh.1:7+9).

Die Bybel sê dat alle mag aan God behoort. Waarom het Hy dan nie sonde verhoed nie? Hy het dan die mag om dit te doen.   Alles hang af van hoe ons sonde sien. Sonde is nie deel van die skepping nie maar die gevolg van 'n vreemde indringer. God is absoluut goed en sonde absoluut sleg al ontsondig sekere kerke gruwels soos bv. homoseksualisme. Sonde bly sonde.

Die hele skepping is onder God se beheer. Alles stem egter nie met sy wil ooreen nie. Desondanks gebeur daar niks waarvan Hy nie weet nie: “Here, U deurgrond en ken my. U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte.. U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend” (Ps. 139:1-3).

Sonde dra geensins God se goedkeuring weg nie. Nogtans laat Hy dit vir tyd en wyl toe. Daar kom egter 'n dag dat Hy daarmee gaan afreken en miljoene mense in die hel gaan beland. Gevolglik is die hemelse horlosie besig om die tyd na die oordeel af te tik. Ons verkeer nog in genadetyd. Vandaar die oproepe tot bekering vir mense om die oordeel af te wend. Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit as vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige verlore moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Pet.3:9).

Waarom bly mense nog sondig? Omdat God aan die mens 'n vrye wil gegee het. Die mens maak 'n keuse of vir of teen sonde. God waarsku vir Kain: “....die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers.” (Gen.4:7). As die mens nie daaroor kon heers nie, was ons robotte. Nee, na die sondeval maak ons keuses kragtens ons verdorwe aard en dit is om eerder aan God ongehoorsaam te wees.

Paulus skryf: “Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. Maar as ek doen wat ek nie wil nie, dan doen ek dit nie meer nie, maar die sonde wat in my woon.” (Rom.7:19,20).

Die basiese rede vir sonde is verkeerde keuses. Daarvoor kan ons God nooit die skuld gee nie. Kyk hoe het Hy vir Kain gewaarsku en nogtans maak Kain die verkeerde keuse.

Sonde is strydig met God se volmaakte wil, maar nie met sy toegelate wil nie. Sonde is die afwesigheid van die goeie, want waar dit ontbreek, floreer die kwade. Soos wat roes 'n bakwerk aftakel, so takel sonde die mens se siel af.   Daarom roep Jesus in die Bergrede gelowiges om soos sout te wees; om siele-verderf teen te werk.

Die kwade kan nooit van God kom nie. Hy is die volmaakte standaard van goedheid. Ons sou bv nie geweet het wat sonde is as ons dit nie aan God se standaard kon meet nie. Ateïste lieg as hulle verkondig dat daar geen God is nie. Hulle weet dan ook wat reg en verkeerd is. Waar kom hulle aan die standaard? Dit moet 'n vaste standaard wees. Dit kom van die God wat hulle wil ontken:

Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister. Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword” (Rom.1:20-22).

Niemand sou kon sê wat sonde is of nie is nie as ons nie 'n standaard gehad het waarmee ons dit kon meet nie. En waar kry ons dit? In God se Woord. Daarom moet ons dit lees en bestudeer: “Ek wil u bevele oordink en op u paaie let. Ek sal my verlustig in u insettinge, u woord sal ek nie vergeet nie.“ (Ps.119:15,16).

God het die kennis van goed en kwaad in die mens geplant. As ons kwaad doen, weet ons dit ongeag enige ontkenning daarvan. Ons bluf onsself soos wat Dawid na die Batseba-episode probeer doen het: “...toe ek geswyg het, het my gebeente uitgeteer in my gebrul die hele dag; want u hand was dag en nag swaar op my; my murg het verander soos deur somergloed.” Dan doen Dawid die regte ding; “My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die Here my oortredinge bely; en Ú het die ongeregtigheid van my sonde vergewe” (Ps.32). Sonde-belydenis bied verligting vir die siel!

Dawid leer 'n belangrike les: Sonde bring skeiding met God.   Niemand moet lewensgeluk verwag as hy hom van die Bron van die volmaakte goedheid distansieer nie. Let op die les van die Verlore Seun – weg van die vaderhuis, tussen die varke. Terug in die vader, blydskap. Wat 'n nood is daar nie aan verlore seuns wat terugkeer nie!

Die mensdom sak as gevolg van verkeerde keuses al hoe dieper in sonde. Hulle weet wat die regte pad is, maar kies die verkeerde een en dra die gevolge daarvan. God laat soms onaangename dinge met ons gebeur om ons tot besinning te bring en ons sonde te bely. Daar is ook 'n wonderlike belofte dat met Jesus se wederkoms God aan die einde 'n einde aan sonde gaan maak. Wie nie gered is nie, sal daardie dag ervaar hoe God met sonde afreken: “En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en 'n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp. (Open 20).

Ons is egter nog in die era van God se genade. Hy wil dat almal tot bekering kom en roep leraars op om mense te begelei asook te waarsku. Sy geduld gaan nie vir ewig hou nie. Noag het mense gewaarsku. Hulle het nie geluister nie en toe die vloed.

Satan wil verhoed dat mense tot bekering kom want toe Jesus aan 'n kruis sterf en drie dae later uit die dood opstaan, het hy geweet dat sy doppie finaal geklink was. Hy is 'n verslane vyand en baie kwaad vir God. Dit staan hom egter vry om sy bose werke tot op die oordeelsdag voort te sit.   Die klagstaat teen hom is net langer.

Wat van ons? Is ons beter af as Satan? Sondig ons nie elke dag nie? Is dit ikabod met ons? Kan ons God se oordeel vryspring? Wat van gereelde kerkgang en Bybel-lees? Nee, as dit nie met reddende geloof gepaardgaan nie, is dit klaar met kees. Daar is net een reddingsboei. God het daarvoor gesorg: “Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur....om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.” (Gal.4:4,5).

Hierdie verlossing moet persoonlik toegeëien word en word bekering genoem. Let op wat dan gebeur – as ons Jesus deur die bekering aanneem, verwyder God die gevolge van sonde vir altyd van ons. Ons word nuwe mense na God se smaak.

Dit beteken nie dat ons nie weer sondig nie. Ja, ons sondig, maar met 'n verskil; ons doen sonde-belydenis waarop God ons in sy Woord belowe dat die straf weggeneem word.”... en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde”. Jesus se bloed is God se uitveër. Deur Jesus vir ons as reddingsboei uit te gooi, trek God ons uit die storm-see van 'n ewige verdoemenis tot in die reddingsboot van 'n ewige lewe. Juig in jou hart daaroor!